Kragvermindering: Oorwinning vir inwoners van Parys, Standerton

(Argieffoto: pixabay)

Inwoners van Standerton in Mpumalanga en Parys in die Vrystaat wat gebuk gaan onder sogenaamde kragvermindering om binne Eskom se maksimum vraag na elektrisiteit (NMD) te bly, het ʼn reuseslag geslaan om dié gebruik stop te sit.

Regter Anthony Millar het Eskom Vrydag in die Pretoriase hooggeregshof verbied om verdere kragvermindering in die dorpe in werking te stel.

Millar het beveel Eskom moet kragtoevoer na die Lekwa- plaaslike munisipaliteit, wat gebiede soos Standerton, Sakhile, Meyerville en omliggende gebiede van krag voorsien, dadelik verhoog van die maksimum van 55 MVA wat hy tans verskaf. Eskom moet nou minstens 67 MVA aan die gebied voorsien.

Wat die Ngwathe-munisipaliteit betref, het Millar beveel dat grootmaatkragvoorsiening aan die gebied dadelik hervat moet word. Daar moet verseker word dat kragtoevoer na Parys verhoog word na die vlak wat voor die inwerkingstelling van die kragvermindering gehandhaaf is.

Inwoners van die dorpe het hulle in afsonderlike sake na die hooggeregshof gewend. Die sake is op ʼn dringende grondslag saam aangehoor. Andreas Peens, wat inwoners van Standerton verteenwoordig het, sê inwoners het daagliks tussen ses en tien ure lank sonder elektrisiteit gesit.

Die Lekwa- en Ngwathe-munisipaliteit skuld Eskom albei agterstallige geld vir elektrisiteit en Eskom het vroeër vanjaar met kragvermindering na die onderskeie dorpe begin.

Millar het bevind uit die kontrakte tussen die munisipaliteite en Eskom, en ook ingevolge die bepalings van die Nasionale Energiereguleerder (Nersa), is dit duidelik dat NMD ʼn meganisme is wat gemik is op toekomstige gebruik en infrastruktuurbeplanning. Volgens die regter hou dit nie verband met of is dit nie bedoel om gebruik te word om geldelike dispute tussen partye te besleg nie.

Inwoners van die Ngwathe-munisipaliteit het aanvanklik gedink krag word verminder weens skade aan infrastruktuur en het later eers agtergekom die munisipaliteit stel self beurtkrag in om Eskom se verminderde voorsiening te probeer bestuur. Hulle het aangevoer die kragvermindering het tot ʼn “menslike en omgewingskatastrofe” gelei en dat dit ʼn geweldige slegte uitwerking op sakeondernemings, staatsdepartemente, ouetehuise, hospitale en private burgers gehad het.

Die kragverminder het volgens inwoners ook beteken dat rou rioolvuil in die Vaalrivier beland het waar die munisipaliteit se drinkwater onttrek word.

In die Lekwa-munisipaliteit is daar ʼn groter aanvraag na krag van nywerhede. Sakeondernemings in die gebied sluit in pluimveeprodusente en ʼn steenkoolmyn. Die gebied is ook ʼn sleutelpunt vir die vervoer van steenkool – ook vir verskaffing aan Eskom.

Die regter het bevind hoewel inwoners nie partye is in die kontrakte tussen Eskom en die plaaslike owerhede nie, maak Eskom se afdwinging van die voorwaardes in die kontrak – wat beperkte toevoer insluit – inbreuk op inwoners se regte.

“Die applikante het die reg om deur Eskom van krag voorsien te word. In die huidige saak is die vraag egter nie of Eskom krag voorsien nie, maar of hy genoeg krag voorsien,” het Millar in sy uitspraak gesê.

Volgens die regter moet mense minstens van genoeg elektrisiteit voorsien word om aan die basiese drumpel van individuele regte te voldoen.

“Om andersins te bevind sal die regte en die verpligting waaraan die staat en sy instellings – wat Eskom insluit – moet voldoen, nietig maak.”

“Die hofbevel is uitstekende nuus vir die dorp en vir die gemeenskap. Dit is ʼn baie groot oorwinning wat bepaal ʼn staatsinstelling kan nie net die reg in eie hande neem nie,” het Peens gesê.

Hy sê die hooggeregshof het in ʼn ander soortgelyke saak in 2018 reeds beslis inwoners kan nie gestraf word vir die sondes van die munisipaliteit nie.

Die bevel is onderworpe aan ʼn aansoek om Eskom se besluit om NMD toe te pas, te laat hersien.

Peens het gesê inwoners van verskeie ander dorpe wat ook gebuk gaan onder Eskom se kragvermindering kan hom in hierdie verband kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andre ·

Strooi dat wetsgehoorsame betalende burgers moet boet vir kaders se onbevoegdheid en stelery.

Persheks Adri ·

Kan ons almal onder dieselfde kam geskeer word? Ons wat betaal se krag moet aan bly klaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.