Kredietwysigingswetsontwerp word aanvaar

ekonomie-finansies-geld-sakrekenaar-knyp-spaar

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Die Nasionale Vergadering (NV) het Woensdag die kredietwysigingswetsontwerp aanvaar.

Nonceba Mhlauli, woordvoerder van Jackson Mthembu, die hoofsweep van die ANC, het in ʼn verklaring gesê dié wetsontwerp van die portefeuljekomitee van handel en nywerheid is deur die ANC tot stand gebring om verligting te bied vir arm en kwesbare werkers wat te veel skuld aangegaan het.

“Die wetsontwerp wil skuldverligting aan arm Suid-Afrikaners bied wat minder as R7 500 per maand verdien, wie se onversekerde skuld nie meer as R50 000 beloop nie en wat te veel skuld het,” het Mhlauli gesê.

“Bogenoemde is die kategorie vir verbruikers waarvoor daar nie voorsiening gemaak word in die huidige insolvensiestelsel en skuld-administrasie, wat steeds grootliks krediteur-georiënteerd is, nie.”

Die wetsontwerp sal ook beoog om onder meer roekelose lenings te verminder en roekelose en onwettige lenings te kriminaliseer, en terselfdertyd verantwoordelike leen en uitleen aan te moedig.

Skuldkonsultante verskaf volgens die ANC nie tans ʼn diens vir mense wat minder as of gelykstaande aan R7 500 verdien nie, aangesien dit nie “kostedoeltreffend” is nie. “Dié wet wil dit aanspreek.”

Kredietlewensversekering sal in die wysigingswetsontwerp voorgeskryf word en regulasies sal voorsiening maak vir kredietlewensversekering op alle lenings van minder as ses maande en minder as of gelykstaande aan R50 000.

Die ANC het gesê hy glo dat dié wetsontwerp noodsaaklik is, aangesien die maatreëls wat dit in plek stel ʼn positiewe uitwerking op sosiale demokrasie en geregtigheid sal hê.

Intussen het adv. Anton Alberts, parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid vir die VF Plus, gesê dat dié party die wetsontwerp verwerp en dit as die verkeerde instrument vir armoedeverligting bestempel.

Alberts meen komplekse vrae soos hoe die mense met erge skuldprobleme gehelp kan word wanneer hul situasie so benard is dat nie eens skuldberading ʼn uitkoms bied nie, is een van dié vrae waarvoor die wetsontwerp antwoorde moet bied.

“Sulke komplekse probleme vereis ʼn holistiese benadering waar faktore soos die ekonomiese omgewing wat armoede veroorsaak, in ag geneem moet word,” het Alberts gesê.

Hy meen gegewe hiérdie konteks is dit uiters duidelik dat die skepping van skuldberadingprosesse vir ʼn bevolking met ʼn werkloosheidsyfer van meer as 30% net “ʼn pleister op die siekte van ʼn terminaal siek pasiënt is”.

“Dit kan op die kort termyn help, maar sal nie die pasiënt red nie.”

Alberts meen verder die impak van die wetsontwerp op die land se ekonomiese ekostelsel is onbekend. “Dit kan lei tot die verdwyning van wettige kredietinstrumente en -ondernemings, met ʼn gepaardgaande verlies aan werksgeleenthede en ʼn toename in onwettige kredietverlening.”

Alberts het gesê Suid-Afrikaners, veral die armes, het werksgeleenthede nodig om volhoubaar uit die skuldkrisis te kom.

Daarom meen hy moet die departement van handel en nywerheid eerder introspeksie doen en ʼn onafhanklike studie laat doen om te bepaal watter beleid in die pad van ekonomiese groei en volhoubare werkskepping staan.

“Die armes moet gehelp word, en dit kan ten beste deur werkskepping gedoen word. Deur slegs die simptome te behandel sonder om die kernoorsake aan te spreek, verleng die lyding en stel dit bloot die ekonomiese inploffing uit wat die ANC-regering se huidige ekonomiese beleidsrigting veroorsaak het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Hanna ·

Ek hoop werklik dit gaan verligting vir ALMAL gee. Bitter min mense wat ek ken verdien meer as R5000.

marous ·

Vertel dit vir die land se hoofman , en sy nuutgevonde oosterse maatjies .

AgAsseblief ·

Gaan dit nou weer vir die uitgesoekte voorheen benadeeldes wees, wat altyd so ” suffer “. Of gaan dit vir die res van die mense ook beskikbaar wees.

Mrs H ·

Waar het julle al gehoor van “sosiaal demokraties”? Dis die een of die ander. Of is dit sosialisme teenoor wit suid afrikaners, en demokrasie teenoor swart suid afrikaners? Want dit is apartheid. Daar brstaan nie “sosiaal demokraties” nie!

De Villiers ·

Een van die grootste oorsake van skuld is die nagenoeg 40 000 ongeregistreerde Loan Sharks regoor RSA wat meestal in die swart woongebiede bedrywig is. Hul leen teen rentekoerse van 50% en meer per maand, hou bankkaarte ens. Die ergste is dat daardie skuld nêrens reflekteer nie. Hierdie ouens betaal uiteraard geen belasting nie en word ook nie gereguleer nie. Uit die aard van die saak raak hierdie kredietamnestie hulle geensins nie, en gaan hul besigheid ongestoord voort.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.