Krediteure gevra om SAL-sakereddingsplan te steun

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan (Foto: Ntswe Mokoena/GCIS)

Die departement van openbare ondernemings het Woensdag ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se krediteure gedoen om ten gunste van ʼn sakeplan wat die sukkelende nasionale lugredery kan red, te stem.

Krediteure moet Donderdag oor die voorgestelde plan stem. Volgens die departement gaan die sakereddingsplan lei tot ʼn veel beter uitkoms vir krediteure as die likwidasie van die redery.

“Dit is ook die enigste manier om die SAL te red en te herstruktureer.

“As die aandeelhouers namens die regering, glo die departement die goedkeuring van die sakereddingsplan gaan die krediteure en die werkers help om medestigters van ʼn nuwe redery te wees en te verseker ʼn sterk grondslag word behou vir die groei van die plaaslike lugvaartbedryf.”

ʼn Meerderheid van 75% van krediteure moet ten gunste van die plan stem. Dit is ter tafel gelê maande nadat die aanvanklike sakereddingsproses in Desember begin het.

Min. Pravin Gordhan is openlik gekant teen die likwidasie van die lugredery wat sowat ʼn dekade laas ʼn wins getoon het en oor die afgelope 14 jaar ʼn geraamde R28 miljard verloor het.

Gordhan het die afgelope week gesê die regering het reeds aanbiedinge van private finansiers en rolspelers in die lugvaartbedryf gekry wat by die redery betrokke wil raak, sou dit suksesvol hervorm word.

Die DA het sy misnoeë te kenne gegee met die oproep om krediteure te vra om die plan te steun en sê dit dui daarop dat die nasionale tesourie verplig sal word om selfs meer finansiering aan die SAL te verskaf.

“Daar kan net een gevolgtrekking wees, naamlik dat daar ooreengekom is op ʼn bykomende reddingsboei van R6,7 miljard, asook dat dit in die Covid-19-noodbegroting van die minister van finansies, Tito Mboweni, vanmiddag in die parlement bekend gemaak kan word,” het Alf Lees, die DA se woordvoerder oor ondernemings, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Deon

Is dit reg om die nood fonds te gebruik om die SAL te red/revive watookal? Daar is derduisende besighese wat besig is om onder te gaan agv die regering se lockdown, SAL was onder voor die lockdown…

Alleen Wolf

Hulle sal alles probeer om dit aan die gang te hou, dis een van die “Skep” bronne vir die kaders

Nie Verbaas

Gordhan, gee tog op. ANC gaan dieselfde gemors van die “nuwe SAL” maak as wat julle vantevore gedoen het. Laat die staatskoffer vreter maar sink.

Blikke

Gooi maar liefs die handoek in…..n dooie perd kan nie weer gery word nie!!! Julle mors net tyd, energie en geld op iets wat in elkgeval nutteloos is.
Bedank die ANC vir die uitsonderlike wyse waarop die SAL in die grond in bestuur is!!!

Johannes Andries

Dit mag dalk werk as die krediteure sou saam stem, maar onderworpe aan die voorwaarde dat hulle eienaars belang verkry (aandeelhouers word) in SAL. Dit kan die proses vorm na privatisering, wat enigste oplos sing sal wees vir die redery.
Anders sal dit maar steeds ‘n dooie droom bly. Ons regering het ongelukkig nie die vermoe om enige besigheids winsgewend te bedryf nie.