‘Kreefstropers’ in nasionale park betrap

(Foto: Tafelberg Nasionale Park/Facebook)

Vier vermeende kreefstropers is die afgelope naweek in hegtenis geneem toe hulle met meer as 50 Weskus-krewe in die Tafelberg Nasionale Park betrap is.

Dié inhegtenisnemings volg nadat SANParke ʼn klagte ontvang het oor ʼn motorboot wat nette in die Olifantsbos-beperkingsone gegooi het.

Natuurbewaarders het saam met polisiebeamptes die klagte gaan ondersoek en op ʼn boot in die beperkingsone afgekom.

Die polisie het die vaartuig aangekeer terwyl die verdagtes op die vaartuig probeer ontsnap het. Die nette is uit die water gehaal en die mans aan boord is in hegtenis geneem.

Altesaam 40 Weskus-krewe is in hul besit gevind, asook 16 ondermaat krewe en ses nette. Die polisie het ook beslag gelê op die verdagtes se motorboot.

Die verdagtes is aangekla van visvang in ʼn beskermde gebied en die besit van Weskus-krewe sonder ʼn permit. Hulle sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.

Frans van Rooyen, bestuurder van die Tafelberg Nasionale Park in Kaapstad, het die inhegtenisnemings verwelkom.

“Ek wil dankie sê aan die bewaarders en hulle spanne, asook die wetstoepassingsowerhede wat ons mariene lewe ten alle tye beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elinette ·

Kudo’s aan die persoon of persone wat genoeg omgee vir die omgewing dat hulle die verdagte aktiwiteit by die regte mense gerapporteer het!

Cherokee ·

Ek hoop die krewe is terug gesit in die water, en nie saam karwei as bewyse nie. Fotos sou genoegsaam gewees het.

Danie ·

Uiteindelik aksie.
Al is dit ongelukkig die voetsoldate wat vasgetrek is.
Klagtes wat vriende van my indien word eenvoudig geignoreer met die verskoning dat die stropers se getalle te veel is.
En dit van mense wat n salaris betaal word om op te tree.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.