Kreefvisser verdrink by Rooiels

Rooiels-strand Foto:  Maroela Media

Rooiels-strand Foto: Maroela Media

ʼn Man wat glo besig was om kreef uit te haal, het Saterdag by Rooiels, tussen Gordonsbaai en Hermanus in die Wes-Kaap, verdrink, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in ʼn verklaring gesê.

“Volgens ooggetuies was die 37-jarige man van Ravensmead in Kaapstad besig om kreef uit te haal toe een van die lokvalle in die rotse vasgesit het,” het Craig Lambinon, woordvoerder van NSRI, gesê. “Terwyl hy die lokval wou uithaal, het ʼn golf oor hom gespoel en hy het in die water in die moeilikheid beland.”

Die Transnet nasionale hawe-owerheid het NSRI Gordonsbaai en NSRI Hermanus net na 09:00 ontbied met berigte oor ʼn verdrinking by Rooiels. Die nooddienste van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die EMS Skymed-reddingshelikopter het ook reageer.

Ná ʼn soektog het die Skymed-helikopter die man se liggaam in die rowwe seetoestande opgemerk. “ʼn Duiker is na die liggaam afgesak, maar hulle kon hom en die liggaam nie na die helikopter ophys nie, weens die rowwe seetoestande,” het Lambinon bygevoeg.

Die NSRI se Spirit of Surfski het die man uit die water gehaal. Hy is dood verklaar. “Die man het verdrink,” het Lambinon gesê. Die man se liggaam is na die seereddingsbasis in Gordonsbaai gebring en aan die polisie en forensiese patologiedienste oorhandig.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.