Krejcir in hospitaal opgeneem

Radovan Krejcir tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes/Sapa

Radovan Krejcir tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes/Sapa

Die Tsjeggiese sakeman Radovan Krejcir word in ʼn gevangenis se hospitaal behandel nadat hy glo siek geword het.

Piet du Plessis, Krejcir se prokureur, het Woensdag gesê hy weet nog nie presies wat gebeur het nie, en hy sal sy kliënt later vandag gaan besoek.

Krejcir is glo Maandag reeds vir behandeling opgeneem. Volgens The Star het Krejcir vermoedelik ʼn hartaanval gehad.

Krejcir, Siboniso Miya, Owen Serero, Zudumo Biyela, sers. Nandi Nkosi, Welcome Mafunda, Siphiwe Memela, en Mike Borislov Grigorov word daarvan verdink dat hulle saamgesweer het om kol. Nkosana “Killer” Ximba en Paul O’Sullivan, ʼn forensiese ondersoekbeampte, te vermoor. Die mans het Vrydag weer in die Alexandra-landdroshof verskyn.

In ʼn ander saak word Krejcir, Desai Luphondo, ao. Samuel “Saddam” Maropeng, George Nthoroane, Jan Lefu Mofokeng en Siboniso Miya, aangekla van ontvoering, poging tot moord en dwelmhandel.

Die mans word daarvan beskuldig dat hulle in Junie 2013 Bheki Lukhele, die broer van ʼn man wat met 25kg tik verdwyn het, by sy huis in Katlehong ontvoer en aangerand het. Die man, slegs bekend as “Doctor”, sou hulle glo help om die dwelms uit die land te smokkel. Die mans word daarvan verdink dat hulle Lukhele by Krejcir se Money Point-besigheid in Bedfordview in Johannesburg vir vier dae lank aangehou en hom aangerand het. Dié saak sal na verwagting op 21 Julie in ʼn Palm Ridge-sitting in die Johannesburgse hooggeregshof hervat. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.