Krejcir martel man glo met kookwater

Radovan Krejcir tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes/Sapa

Radovan Krejcir tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes/Sapa

Die streekhof in Palm Ridge aan die Oos-Rand het Maandag gehoor dat Radovan Krejcir, die omstrede Tsjeggiese sakeman, ‘n man gemartel het deur hom onder meer met kookwater te brand.

Krejcir, Desai Luphondo, adjudant-offisiers Samuel Modise Maropeng en George Jeff Nthoroane, Jan Lefu Mofokeng en Siboniso Miya staan tereg op aanklagte van dwelmhandel, poging tot moord en ontvoering. Hulle het almal onskuldig gepleit op die aanklagte teen hulle.

Die staat het vandag vir Peter Vusi Msimango as sy eerste getuie geroep. Msimango het getuig dat hy gevra is om te help soek na ‘n man genaamd “Doctor”. Laasgenoemde het by ‘n vragmaatskappy by die OR Tambo Internasionale lughawe gewerk en het in Junie verlede jaar met 25kg tik verdwyn wat hy glo na Australië moes vervoer. Volgens Msimango het Krejcir “sy polisiebeamptes” beveel om “Doctor” se broer, Bheki Lukhele, te ontvoer toe hy hulle glo nie wou bystaan in die soektog na sy broer nie.

Lukhele is glo by sy huis in Katlehong aan die Oos-Rand opgelaai en na Money Point, Krejcir se onderneming in Bedfordview, geneem. Sy hande is vasgemaak en daar is ‘n sak oor sy kop getrek. Krejcir, Luphondo, Maropeng, Miya, Mofokeng en twee ander mans het Lukhele glo om die beurt aangerand. “Hulle het almal aan hom gevra waar sy broer Doctor is…hy het aan hulle gesê hy weet nie en dat hy hom twee dae gelede gesien het,” het Msimango getuig.

Krecjir het toe glo beveel dat die sak van Lukhele se kop afgehaal moet word. “Kyk vir my…weet jy wie ek is is? Hoekom lieg jy oor jou broer? Wil jy sterf soos ‘n soldaat? Wel dan is dit reg so,” het Krejcir glo gesê. Krejcir het glo hierna kokende water op Lukhele se kop uitgegooi. “Die seun het ‘n ondraaglike gil gegee…gestop en toe begin bewe,” het Msimango getuig.

Lukhele het toe glo gevra om sy broer te skakel. Krejcir het glo sy handlangers beveel om Lukhele ver weg van die kantoor te vat om die oproep te maak. Msimango sê hulle is na ‘n plek naby Alexandra waar ‘n selfoon aan mekaar gesit is en Lukhele sy broer gebel het. “Hy het gesê ‘Doctor my lewe is in jou hande. Gee wat ook al jy die mense skuld terug. As ek doodgaan is dit alles in jou hande’,” het Msimango getuig. ‘Doctor’ het glo gesê hy sal die dwelms terugbesorg.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.