Krejcir-saak na hooggeregshof oorgeplaas

Radovan Krejcir. Foto: Werner Beukes / SAPA

Radovan Krejcir. Foto: Werner Beukes / SAPA

Die saak teen die Tsjeggiese sakeman Radovan Krejcir en sewe medebeskuldigdes is Vrydag in die Alexandra-landdroshof na die Johannesburgse hooggeregshof oorgeplaas.

Daar was ʼn sterk polisieteenwoordigheid by die hof. Slegs kameramanne van die SAUK is in die hofsaal toegelaat.

Landdros Renier Boshoff het die verhoordatum vir volgende jaar op 13 April bepaal.

Staatsaanklaer Lawrence Gcaba het gesê die staat het die aanklagte teen die verdagtes gewysig en die saak se dossier sal na verwagting teen 16 Julie aan die verdedigingspan verskaf kan word.

Piet du Plessis, Krejcir se regverteenwoordiger, het gesê hy neem kennis van die verhoordatum, maar het beswaar aangeteken. “Ons gaan die Nasionale Vervolgingsgesag en die hofrolbestuurder nader en versoek dat die verhoor vroeër begin,” het Du Plessis gesê.

Krejcir, Siboniso Miya, Owen Serero, Zudumo Biyela, sers. Nandi Nkosi, Welcome Mafunda, Siphiwe Memela, en Mike Borislov Grigorov word daarvan verdink dat hulle saamgesweer het om kol. Nkosana “Killer” Ximba en Paul O’Sullivan, ʼn forensiese ondersoekbeampte, te vermoor. Aanklagte teen Jacob Nare, wat aanvanklik saam met die groep aangekla is, is laat vaar en hy gaan tydens die hofsaak vir die staat getuig.

In ʼn ander saak word Krejcir, Desai Luphondo, ao. Samuel “Saddam” Maropeng, George Nthoroane, Jan Lefu Mofokeng en Siboniso Miya, aangekla van ontvoering, poging tot moord en dwelmhandel.

Die mans word daarvan beskuldig dat hulle in Junie 2013 Bheki Lukhele, die broer van ʼn man wat met 25kg tik verdwyn het, by sy huis in Katlehong ontvoer en aangerand het. Die man, slegs bekend as “Doctor”, sou hulle glo help om die dwelms uit die land te smokkel. Die mans word daarvan verdink dat hulle Lukhele by Krejcir se Money Point-besigheid in Bedfordview in Johannesburg vir vier dae lank aangehou en hom aangerand het. Dié saak sal na verwagting op 21 Julie in ʼn Palm Ridge-sitting in die Johannesburgse hooggeregshof hervat. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peter Says ·

Deporteer die ding, ons betaal tans vir sy verblyf in die tronk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.