Krejcir-saak verdaag na bomdreigement

Radovan Krejcir. Foto: Werner Beukes / SAPA

Radovan Krejcir. Foto: Werner Beukes / SAPA

Die vonnisoplegging van die Tsjeggiese voortvlugtige, Radovan Krejcir, moes Maandag uitgestel word weens ʼn bomdreigement by die hooggeregshof in Johannesburg.

ʼn Polisiebeampte het Louis Mashiyane, die staatsaanklaer, ʼn bomdreigement is ontvang en hy het die hof in kennis gestel. Die gebou is ontruim en polisiebeamptes met snuffelhonde het die hofgebou gefynkam.

Vroeër die dag het Krejcir sy regsverteenwoordiger, Nardus Grove, in die pad gesteek oor “verskeie redes”, wat insluit dat hy nie regter Colin Lamont wou vra om homself van die saak te onttrek nie. Krejcir beweer Lamont is bevooroordeeld en onregverdig en dat hy deel is van ʼn komplot teen hom.

Krejcir het die vonnisverrigtinge begin deur te vra dat Lamont van die saak onttrek, maar sy aansoek was onsuksesvol. Lamont het ook Krejcir se versoek dat die saak uitgestel moet word aangesien hy glo ʼn sielkundige en tolk nodig het, van die hand gewys.

Daarna het Krejcir Matsatsi Mkgapela, ʼn verpleegster in diens van die departement van korrektiewe dienste, as getuie geroep. Lamont het aan Mkgapela gevra of sy weet wat fout is met Krejcir en sy het geantwoord sy is net bewus daarvan dat hy aan depressie ly.

Sy het aan die hof gesê sy het nie Krejcir se mediese lêer by haar nie en weet ook nie watter medikasie hy tans neem nie. Krejcir het daarna gesê hy kan nie verder getuienis lei ter versagting van vonnis sonder die lêer nie, maar dat hy talle paniekaanvalle gehad het en mediese behandeling daarvoor ontvang. Mkgapela het gesê sy kan nie onthou dat sy ooit ontbied is om Krejcir te behandel nie, maar dat ander verpleegsters haar daarvan vertel het.

Sy het ook bevestig dat Krejcir psigiatriese medikasie neem.

Krejcir het Lamont versoek om die hoofde van die Kokstad maksimumgevangenis en die Zonderwater-gevangenis te dagvaar om voor die hof te verskyn as getuies. Lamont het egter gesê hy sal nie ʼn hofbevel hiervoor uitreik nie want dit is Krejcir se verantwoordelikheid om seker te maak hulle verskyn in die hof.

Lamont het Krejcir, Desai Luphondo, ao Samuel Modise Maropeng, Jan Lefu Mofokeng en Siboniso Miya in Augustus skuldig bevind op aanklag van poging tot moord op Bheki Lukhele. ʼn Sesde beskuldigde, George Jeff Nthoroane, is skuldig bevind op aanklag van aanranding. Al ses mans is ook skuldig bevind op aanklag van ontvoering.

Die vonnisverrigtinge sal Dinsdag voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chris W ·

Die regter moet die’ uitlander vir baie jare bere.Hy probeer hom slim hou deur die saak aanhoudend te vertraag.Na hy 3 regs verteenwoordigers “afgedank” het hoort daar nie meer verder na sy snert stories geluister te word nie.SLUIT HOM LAAAAANK TOE!

Mr P ·

NEE Doodstraf. Wanneer hy tronk toe gaan is dit die belasting betalers wat gaan swaar kry.

GES ·

Ek kan nie verstaan nie hoekom die hof so sukkel om die skuimbol te vonnis en te laat opsluit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.