Krejcir-saak: Vermeende huurmoordenaars aangekeer

Radovan Krejcir. Foto: Werner Beukes/SAPA

Radovan Krejcir. Foto: Werner Beukes/SAPA

Twee mans wat glo verbind word met ʼn komplot om verskeie ooggetuies in die Sam Issa-moordsaak te vermoor, is in hegtenis geneem.

Sam Issa (51), van Lebanon, is op 12 Oktober 2013 in Bedfordview aan die Oos-Rand doodgeskiet. Hy het by ʼn rooi verkeerslig stilgehou toe ʼn wit Ford Ranger langs hom stilgehou en op hom gevuur het.

“ʼn Taakspan, wat deur die nasionale polisiekommissaris genl. Riah Phiyega saamgestel is, het die mans in hegtenis geneem,” het brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê.

Vier mans, Radovan Krejcir, Siboniso Miya, Nkanyiso Mafunda en Simphiwe Memela (Baba Kejesu), is in Februarie vanjaar amptelik van Issa se moord beskuldig. Hulle moet op 30 Junie in die Germiston-streekshof verskyn in verband met die moord.

Die twee mans wat nou in hegtenis geneem is, het glo saam met die vier gewerk. “Die ondersoekspan het intussen bevestig dat sekere individue, wat met die beskuldigdes verbind word, beplan het om sleutelgetuies te vermoor,” het Naidoo bygevoeg. “Die span het vinnig reageer nadat hulle dié inligting bekom het en genoeg bewyse versamel om die samesweerders in hegtenis te neem.”

Die vier mans staan ook tereg op aanklag van poging tot moord en ontvoering van ʼn man in Katlehong in Johannesburg, asook sameswering om kol. Nkosana Ximba en Paul O’Sullivan te vermoor.

Phiyega het dit as ʼn “massiewe deurbraak” in die betrokke saak beskryf. “Indien die sameswering nie betyds oopgevlek is nie, sou ons gesukkel het met suksesvolle vervolging en talle onskuldige persone sou hul lewens verloor het,” het sy gesê.

Die twee mans, en ander, insluitend die persone wat van die moord beskuldig word, staan nou ook tereg op sameswering om moord te pleeg en ander moontlike aanklagte soos wat die ondersoek voortduur.

Lees alle vorige berigte oor Radovan Krejcir op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

CHRISTA ·

Al hierdie gevalle van moord en pogting tot moord sal NIE ophou voordat voldoende straf toegedien word nie! Dit sal maar net een van ons land se nasionale sporte bly!!!

Riaan ·

Skokkend hulle is nie eers bang om top manne in die polisie te vermoor nie.Wat se kans het gewone ouens soos ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.