Krejcir se oefentoerusting glo ná Oscar se aankoms geskuif

Argieffoto.

Argieffoto.

Oscar Pistorius en die Tsjeggiese sakeman Radovan Krejcir het saam in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria geoefen.

Krejcir het in Julie aansoek gedoen om ʼn oefenfiets en loopband te kry sodat hy kan oefen, en sy aansoek is goedgekeur. Die toerusting is in die gang langs sy sel opgestel.

“My toerusting is egter sonder my medewete, vir Pistorius aangebied om op te oefen toe hy by die gevangenis aangekom het,” het Krejcir in ʼn klagskrif, wat in Sapa se besit is, geskryf.

“Ek het nie beswaar aangeteken dat Pistorius my toerusting gebruik het nie, inteendeel ons het saam geoefen,” het hy geskryf. Die toerusting is egter Sondag na die besoekersarea geskuif en toe na ʼn enkelsel op die grondvloer van die tronk. Krejcir se enkelsel was te klein vir die toerusting.

“Ek kon sedert 9 November nie enige oefening doen nie, weens hierdie ongegronde en onverklaarbare verandering. Ek neem aan die besluit is direk op my gerig as nog ʼn vorm van geestelike en emosionele marteling,” het Krejcir bygevoeg. Die brief is aan die tronkbestuur gerig en is ook onder andere na die minister van korrektiewe dienste Michael Masutha, nasionale kommissaris van korrektiewe dienste Zach Modise, Openbare Beskermer Thuli Madonsela, Amnestie Internasionaal SA en die Menseregtekommissie gestuur.

Krejcir het ook gekla dat sy televisie verwyder is ná berigte in die media dat hy toegang het tot DStv. Die departement het in daardie stadium ontken dat hy toegang het tot DStv, Geheuestokkies met vermaak en nuus in sy moedertaal, leesmateriaal en sy hofaantekeninge is glo ook verwyder.

Hy mag glo ook nie meer interaksie met medegevangenes hê nie, glo as gevolg van ʼn gesondheidsrisiko, aangesien sommige gevangenes tuberkulose of waterpokkies het.

“Die klag moet nie beskou word as minagtend of ʼn gebrek aan respek of ʼn persoonlike aanval op die beamptes van hierdie fasiliteit nie, maar ek vertrou dat julle sal sien dat ek onmenslik behandel word,” het Krejcir in die brief geskryf.

Die departement het Donderdag gesê gevangenes se klagtes en versoeke is gewoonlik van ʼn persoonlike aard en word individueel hanteer. “Die departement sal nie sulke klagtes deur die media hanteer nie,” het Logan Maistry, woordvoerder van die departement, in ʼn verklaring gesê.

Volgens Maistry is sekuriteitsbeheer binne ʼn gevangenis ononderhandelbaar en die departement sal verseker dat behoorlike sekuriteitsmaatreëls ingestel word vir alle oortreders. “Die balans tussen sekuriteit, kontrole en geregtigheid is van kardinale belang.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ghost ·

Wat verstaan hy van die woord tronk. Dis nie n hotel nie. Ons tronke raak te gemaklik vir oortreders, dis hoekom dit nie n afskrikmiddel is nie. Ja almal se altyd dis sy grondwetlike reg. Maar almal is groot mense en weet wat hy verkeerd doen. Hy verbeur daai reg wanneer hy die wet oortree.

lorayne ·

Wat ‘n luilekker lewe!!!
G’n wonder die tronke is oorvol nie!!

Dave ·

Martin, ooglopend is jy jaloers op die ‘ou verslagewertjie’ se beroep. Jý kon ook ‘n ‘ou verslagewertjie’ gewees het as jy net wou leer! Jy kon nie eens een sin reg skryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.