Krejcir se “regterhand” in hegtenis geneem

Radovan Krejcir tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes/Sapa

Radovan Krejcir tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes/Sapa

ʼn Bulgaarse burgerlike, wat glo die omstrede Tsjeggiese sakeman Radovan Krejcir se rekenmeester en “regterhand” is, is Maandagaand in Benoni, oos van Johannesburg, in hegtenis geneem.

Volgens lt.genl. Solomon Makgale, ʼn nasionale polisiewoordvoerder, is die 32-jarige man omstreeks 18:30 by die Benoni-polisiekantoor in hegtenis geneem. Hy het by die polisiestasie aangemeld as deel van sy borgtogvoorwaardes weens twee nie-verwante bedrogsake. Hy is tans uit op borgtog van onderskeidelik R5 000 en R25 000 en staan tereg op twee aanklagte van bedrog, wat nie met Maandagaand se inhegtenisname verband hou nie.

“Die polisie glo die rekenmeester was Krejcir se regterhand wat van al sy doen en late geweet het, en ook aan sy beweerde misdrywe deelgeneem het,” het Makgale in ʼn verklaring gesê. Hy sê die polisie vermoed die rekenmeester het Krejcir vennote in kontant betaal.

Die man sal na verwagting Woensdag in die Alexandra-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg, en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Hy sal later saam met Krejcir en vyf ander persone in die hof verskyn op dieselfde aanklagte.

Krejcir, Siboniso Miya, Desai Luphondo, ao. Samuel Modise Maropeng, George Jeff Nthoroane en Ian Jan Mofokeng word daarvan beskuldig dat hulle in Junie 2013 Bheki Lukhele, die broer van ʼn man wat met 25kg tik verdwyn het, by sy huis in Katlehong ontvoer en aangerand het. Die man, slegs bekend as “Doctor”, sou hulle glo help om die dwelms uit die land te smokkel.

Die mans word daarvan verdink dat hulle Lukhele by Krejcir se Money Point-besigheid in Bedfordview in Johannesburg vir vier dae lank aangehou en hom aangerand het.

All die verdagtes het die aanklagte teen hulle ontken.

Nog klagtes mag volg. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.