Krejcir skuldig bevind

Radovan Krejcir Foto: Werner Beukes, SAPA

Radovan Krejcir Foto: Werner Beukes, SAPA

Die Tsjeggiese sakeman Radovan Krejcir is Maandag in die Johannesburgse hooggeregshof skuldig bevind op aanklagte van ontvoering en poging tot moord in ʼn saak wat verband hou met ʼn mislukte dwelmtransaksie.

Die slagoffer, Bhekithemba Lukele, is die broer van die man wat Krejcir na bewering uit R70 000 en ʼn multimiljoen rand se vrag onwettige metamfetamien bedrieg het. Die staat het voorgehou dat Lukele se aanranding ʼn poging was om sy broer, Doctor Nkosi, ʼn toesighouer by Swissport Cargo Services by OR Tambo- internasionale lughawe, te vind.

Nkosi, ʼn art. 204-staatsgetuie, is in beskermde aanhouding. Dit beteken hy kan vrywaring van vervolging kry as hy met die volle waarheid vorendag kom.

Gedurende die verhoor het Nkosi gesê hy is genader om te verseker dat ʼn sak, wat na bewering vol dwelms was, Australië bereik. Hy is in 2012 R6 500 betaal vir twee proeflopies om sakke na Australië te stuur en albei het misluk. Toe hy besef hy is “betrokke by gevaarlike goed”, het hy R250 000 geëis.

Nkosi het gesê hy het in Junie 2014 ingestem om ʼn derde keer te probeer om die sak te stuur. Hy is R70 000 gegee en toe die balans nie aan hom betaal is, het hy besluit om die sak terug te hou. Hy het toe met ʼn lughawe-veiligheidsbeampte onderhandel om die inhoud van die sak te verkoop.

Lukele, ʼn Oos-Randse sakeman, het in die hof getuig dat polisiebeamptes hul polisiekentekens gebruik het om hom van sy huis te ontvoer. Hulle het sy hande met kabelbinders vasgemaak en hom geblinddoek, waarna hulle hom na Krejcir se Money Point-kantoor in Bedfordview geneem het waar hy gemartel is.

Lukele het gesê Krejcir het kookwater oor sy kop uitgegooi en gedreig om hom dood te maak as hy nie sou sê waar sy broer is nie.

© RDM News Wire

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.