Krejcir terug in die hof

Radovan Krejcir tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes/Sapa

Radovan Krejcir tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes/Sapa

Die Tsjeggiese voortvlugtige Radovan Krejcir het Dinsdag weer in die hof verskyn in verband met sy poging om uit aanhouding te ontsnap en dat hy uitgelewer moet word aan sy land van herkoms.

Die sake is in die Kempton Parkse landdroshof uitgestel.

Staatsaanklaer Lawrence Gcaba het gesê alle partye word die geleentheid gebied om die dokumente te bestudeer wat die staat verskaf het en hy is gereed om ʼn verhoordatum te bespreek.

Daar was streng sekuriteit in die hof met ʼn paar swaar gewapende polisiebeamptes. Krejcir het ʼn “500 Soduko”-boek in sy hande vasgehou, sy enkels was geboei en hy het ʼn skokgordel van die tronk om sy middel gedra.

Een van die prokureurs, vir Krejcir se medebeskuldigdes, het gesê daar is beeldmateriaal wat hy nog nie gesien het nie, daarom kan ʼn verhoordatum nog nie bepaal word nie.

Adv. Frank Cohen, vir Krejcir, het aan die hof gesê sy kliënt is sonder enigiemand se medewete na ʼn korrektiewe fasiliteit in die Oos-Kaap geskuif en hy het ook nog nie die dokumente gesien wat ingehandig is nie.

Zehir Omar, vir Melissa Christopher, wat ʼn kind by Krejcir het, het aan die hof gesê sy was glad nie betrokke by sy beweerde poging om te ontsnap nie. Omar het ʼn aansoek ingedien dat Christopher se borgtogvoorwaardes gewysig moet word. Dit sluit die voorwaarde in dat sy nie met Krejcir mag kontak maak nie. “Dit verhoed hom om met die ma van sy kind te praat. Ek wil hê die hof moet Melissa toelaat om die kind en die hofsaak met Radovan te bespreek, in die teenwoordigheid van ʼn tronkbewaarder en myself.”

Gcaba het gesê die hof moet die dokumentasie bestudeer en verstaan waarom dié voorwaardes ingestel is, voordat ʼn besluit geneem kan word.

Wat betref Krejcir se uitlewering, het staatsaanklaer Johan du Toit gesê ʼn dokument is vroeër aan Cohen oorhandig om te onderteken sodat die staat met die saak kan voortgaan. Du Toit het ʼn dokument onderteken wat die uitleweringsaansoek hanteer. Die dokument is vertroulik en moet deur Krejcir hersien word, sodat hy voorbereid kan wees wanneer sy prokureur met hom daaroor praat.

Albei sake is tot 21 April uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theresa B ·

Stuur hom tog nou terug ek kry klaar. Ons geld word gemors……………

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.