Krejcir van sakeman se moord aangekla

Radovan Krejcir Foto: Werner Beukes, SAPA

Radovan Krejcir Foto: Werner Beukes, SAPA

Die Tsjeggiese sakeman Radovan Krejcir sal Vrydag saam met drie ander beskuldigdes in die Germiston-landdroshof verskyn op aanklag dat hulle die sakeman Sam Issa vermoor het.

“Almal van hulle is reeds agter tralies vir ander misdade,” het lt.genl. Solomon Makgale, woordvoerder van die polisie, gesê. Hy het die drie ander beskuldigdes geïdentifiseer as Siboniso Miya, Siphiwe Memela en Nkanyiso Mafunda.

Issa is op 12 Oktober 2013 in Bedfordview doodgeskiet terwyl hy in sy Audi Q7 gesit het. ʼn Wit Ford Ranger het langs Issa se motor stilgehou en die insittendes van die bakkie het op Issa losgebrand en hom doodgeskiet. IOL het ten tye van die moord berig dat Issa ʼn dwelmhandelaar was.

Krejcir het in 2007 in Suid-Afrika aangekom en is met sy aankoms vir ʼn maand aangehou nadat hy glo ʼn vals paspoort gebruik het. Krejcir se vennote Uwe Gemballa en Teazers-baas Lolly Jackson is albei in 2010 vermoor. Hy was glo in ʼn geldwassery-operasie met hulle betrokke.

Krejcir se veiligheidskonsultant Cyril Beeka is in Maart 2011 doodgeskiet. Issa is in Oktober 2013 doodgeskiet en Veselin Langanin, wat saam met Krejcir op aanklag van gewapende roof in hegtenis geneem is, is die maand daarna in sy huis in Bedfordview doodgeskiet.

Klik hier vir alle vorige berigte oor Radovan Krejcir.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.