Krejcir vandag gevonnis

Radovan Krejcir Foto: Werner Beukes, SAPA

Radovan Krejcir Foto: Werner Beukes, SAPA

Radovan Krejcir, die Tsjeggiese sakeman wat in Augustus skuldig bevind is aan poging tot moord en ontvoering, sal Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg gevonnis word.

Regter Colin Lamont het Krejcir skuldig bevind aan poging tot moord, ontvoering en dwelmhandel. Krejcir se medebeskuldigdes, Desai Luphondo, Siboniso Miya, voormalige ao. George Nthoroane, voormalige ao. Samuel Maropeng en Jan Lefu Mofokeng, is almal skuldig bevind aan ontvoering. Almal, buiten Nthoroane, is ook skuldig bevind op aanklag van poging tot moord. Nthoroane is skuldig bevind aan aanranding.

Hulle is aangekla van die ontvoering en marteling van Bheki Lukhele. Lukhele is die broer van die man wat Krejcir na bewering uit R70 000 en ʼn multimiljoenrand-vrag onwettige metamfetamien bedrieg het. Die staat het aangevoer dat Lukele se aanranding ʼn poging was om sy broer, Doctor Nkosi, ʼn toesighouer by Swissport Cargo Services by die Internasionale Lughawe OR Tambo, te vind.

Krejcir se ontsnappingsplan uit die Zonderwater-gevangenis in Cullinan buite Pretoria is verlede maand deur die departement van korrektiewe dienste gefnuik toe ʼn klopjag op verskeie selle in die gevangenis gedoen is. Daar is beslag gelê op selfone, ʼn mes, skokapparate en uniforms van die departement, sowel as ʼn vuurwapen en ammunisie.

Luukse voertuie het glo reeds gereed gestaan om Krejcir na ʼn helikopter te neem waarmee hy landuit sou vlug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.