Krieketafrigters dood in klubhuis aangetref

Foto: Twitter via @Abramjee.

ʼn Dubbele saak van moord en twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer word ondersoek ná ʼn gemeenskapslid twee krieketafrigters vanoggend dood in die Laudium-krieketstadion se klubhuis aangetref het.

Kapt. Augustinah Selepe, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die mans se liggame is vanoggend deur Umar Assad, ʼn gemeenskapslid, ontdek nadat hulle nie soos gewoonlik betyds vir werk opgedaag het nie.

“Hy oefen elke oggend saam met hulle en hulle het nie vanoggend opgedaag nie. Hy het toe na hulle gaan soek en op hul liggame afgekom,” het Selepe gesê.

Vier mans het saam in twee kamers gebly. Twee mans, albei 27 jaar oud, is baie ernstig aangerand en in een van die kamers aangetref.

“Twee liggame is in die ander kamer aangetref. Een van die oorledenes was 24 jaar oud en die ander een se ouderdom is in dié stadium nog onbekend,” het Selepe gesê.

Volgens Selepe blyk dit in dié stadium nie dat iets gesteel is nie. “Die voorval het vermoedelik gisteraand of in die vroeë oggendure plaasgevind. Assad het die polisie omstreeks 07:00 in kennis gestel van die gru-vonds.”

Die motief vir die moorde en aanvalle is onbekend.

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Protes ·

Waar is die jare wat die enigste moord van die jaar Marlene lehnberg die skêr moordenares was nou is daar seker tien moorde n dag in hierdie wettelose so dom en gemorra.

Luister ·

Nog laas gelees daar is gemiddeld 40 moorde per dag in S.A.
Net ‘n paar haal nou en dan die nuus.

Luister ·

Gou “gegoogle”, dit is nou 49 per dag.
Klink omtrent soos ‘n oorlogsone!

SARIE VAN HEERDENS ·

Nee man, Marlene Lehnberg se moord was baie later. Jare vroeer was die Lubbemoorde by Bethlehem en vir MAANDE en JARE moes ons lees daarvan. Nou blaai ek sommer verder as ek ‘n moordberig lees. O ja en wat van Bubbles Schroeder wie se moordenaars nooit aangekeer is nie? Haar moord het selfs die FynGoud tydskrif van daai jare gehaal!

Haan ·

“die ondersoek duur voort”
Klomp onbevoegde patete by die polisie kan ool niks meer self oplos nie. Die van Zyls van roedtan moes geld aanbied voordat enige van die verdagtes wat hul ouers vermoor het gevang is. Die polisie is net daar om wapens aan die moordenaars te verskaf en om hulle dan in selle van karton “in aanhouding” te plaas. Die polisie moet weg! Kommandos moet terug

Karma ·

Mag mense in ‘shanties’ of in modderhuise of onder karton-bokse slap, Theresa? En jou punt is ….?????

Vier mense is hierdeur geraak – 2 dood, 2 byna-dood. Wat maak dit saak wie waar geslaap het? Dalk was hulle opsigters/werkers van die klub en het hulle daar geslaap, by gebrek aan alternatiewe verblyf.

Het ons harte só hard geword met al die misdaad en moord, dat ons altyd moet vra wie wat wanneer waarom en waar gedoen het en dan ons verby die eintlike trauma kyk???

RUTH ·

karma!!!! ek stem met jou saam hoekom al die waaroms en hoekoms dit is en bly mense

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.