Krieketspeler het glo oor Hansie Cronjé gejok

Hansie Cronjé

Henry Williams, die krieketspeler wat teen voormalige nasionale kaptein Hansie Cronje getuig het, sê hy het in 2000 aan die King-kommissie van ondersoek oor wedstrydknoeiery gejok.

Henry Williams het aan die kommissie gesê hy het ‘n aanbod van US$15 000 van Cronjé aanvaar om tydens ‘n eendaagse wedstryd teen Indië in Nagpur swak te speel, berig Sunday Times. Williams beweer nou dat sy en Herschelle Gibbs se getuienis deel was van ‘n komplot om ‘n sterker saak teen Cronjé te maak.

Cronjé is lewenslank van krieket geskors nadat hy sy betrokkenheid erken het. Hy is in 2002 in ‘n vliegtuigongeluk oorlede.

Williams en Gibbs is beide slegs vir ses maande lank geskors.

Williams het aan die Sunday Times gesê dat Cronjé nooit die betrokke bedrag genoem het nie. “Toe ons voor ons prokureurs getuig het wat die storie werklik was, het hulle met ‘n dreigement vorendag gekom dat ons vervolg kan word,” het Williams glo gesê. Hy sê hy was onder druk om Cronjé “aan die pen te laat ry”.

Gibbs, wat in Australië se Big Bash League speel, het homself van Williams se bewerings distansieer. Gibbs het ook sosiale media die afgelope week op Twitter gegroet: “My laaste tweet vriende… dit was shweet, dankie vir die geselsies, julle tyd en ondersteuning! Hoop julle het ‘n ongelooflike jaar en deel die liefde! Vrede,” het hy op 9 Januarie geskryf.

Die paar se voormalige prokureurs, Mike Fitzgerald en Peter Whelan, het ontken dat hulle Williams oortuig het om voor die kommissie te lieg. Whelan sê hulle het geweet Gibbs lieg, en het druk op hom geplaas om die waarheid te vertel. “Henry het saamgespeel. Ek het aan die begin nie gedink hy lieg nie, maar hy het saam met Herschelle uitgekom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Brenda ·

Ek het altyd geweet daar was ‘n komplot teen Hansie. Hy was ‘n man uit een stuk, ‘n ware gentleman en die beste Suid-Afrikaanse krieketkaptein ooit. Hulle het van hom die sondebok gemaak en hy het alle blaam op homself geneem om die ander spelers tegemoet te kom. ‘n Goeie leier tot op die einde!

Angelique ·

n regte gentleman. Hy was my hero. Ek glo tot vandag toe dat hy die skuld gevat het sodat die ander nie saam met hom moes onder gaan nie. As hy wou, sou hy almal saam met hom kon vat.

Zondra Hoffmann ·

Hy het erken dat daar wel wedstrydknoeiery was, maar hierdie onthulling spreek boekdele van “kry die man en laat hom nie los nie, al moet daar gelieg en bedrief word”. Dis jammer, en dit maak dit nog erger vir die familie van Hansie wat soveel afsku en karakter aftekeling moes verduur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.