Krieketspeler sterf op 38

Con de Lange (Foto: ANA)

Die internasionale krieketspeler Con de Lange wat in Suid-Afrika gebore en getoë is, is Donderdag in die ouderdom van 38 aan ’n breingewas oorlede.

De Lange het 21 wedstryde vir Skotland gespeel, ná sy T20-debuut teen Ierland in 2015.

Sy linkshandige draai-aflewerings het hom 24 paaltjies in die sak gebring, met sy 5/60 teen Zimbabwe in Edinburgh sy beste ontleding. Dié wedstryd was Skotland se eerste sege teen ʼn toetsspelende land.

Hy het ʼn verdere vyf wedstryde gespeel, die laaste teen Guinee in November 2017. Hy was daarna weens gesondheidsredes nie weer beskikbaar nie.

De Lange het in Oktober verlede jaar sy stilte rakende sy siekte verbreek waarna hy ʼn veldtog geloods het om geld in te samel ten bate van ʼn liefdadigheidsorganisasie wat fokus op breingewasse.

Malcolm Cannon, uitvoerende hoof van Krieket Skotland, het in daardie stadium gesê dat De Lange uitstekende diens aan die spel van krieket in Skotland gelewer het en dat hy ook ʼn gewilde spanlid in die groep was.

“Ons is verheug om te help om die woord [rakende breingewasse] te verprei deur die breë krieketfamilie tuis sowel as oorsee en ons weet dat daar ʼn oorweldigende vlak van ondersteuning van hierdie gemeenskap sal kom.”

De Lange het vir die Cape Cobras en Knights in Suid-Afrika gespeel voordat hy sy loopbaan oorsee voortgesit het.

Medelye het vandeesweek uit krieketkringe gestroom ná De Lange se dood.

Allan Donald, voormalige Protea-bouler, het gesê hy is verslae oor De Lange se dood. “Wat ʼn vegter was hy nie; hy is so jonk weggeneem.”

“Waarlik ʼn kampioen van ʼn man. Geëerd om so baie herinneringe met jou te kon deel,” het Protea-krieketspeler JP Duminy gesê.

“So hartseer, so moeilik om te verstaan. Sal die goeie tye onthou,” het Graeme Smith, voormalige Protea-kaptein, gesê.

Die bekende krieketspeler Jacques Kallis het gesê hy is hartseer om van De Lange se dood te hoor en het sy medelye aan De Lange se familie en vriende getoon.

De Lange word oorleef deur sy vrou, Claire, en twee kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Will ·

Dit is skokkend!
Baie sterkte vir sy familie.
Ek was is standerd 6 toe hy onderhoofseun was by Gimansium in Worcester Hoërskool.
So ‘n Nice ou gewees. Bid vir sy familie.

Hannelie Horn ·

Suzanne ons innige simpatie aan jou en jou ouers. Bid vir julle.

Onnie ·

Ons was saam op skool, regtig n agtermekaar ou gewees. Sy neef Louwtjie de Lange is dood in ons 1ste jaar in Stellenbosch , by Tollies uit n boom geval, baie tragies vir die familie, nou sterf Con ook so jonk?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.