Kriel-betogings: Polisie vra vreedsame optrede

Die foto is tydens Maandag se betoging geneem. Foto: Facebook

Die foto is tydens Maandag se betoging geneem. Foto: Facebook

Die bestuur van die Mpumalanga-polisie het Donderdag hul kommer uitgespreek oor die gewelddadige betogings wat in die Thubelihle informele nedersetting in Kriel plaasvind.

Die betogings het Sondag begin en ʼn verkeerspolisievoertuig en ʼn supermark is aan die brand gesteek. Verskeie winkels in die gebied is ook geplunder.

Agt mense is reeds in hegtenis geneem en het in die Kriel-landdroshof verskyn op aanklagte van openbare geweld. “Al die verdagtes is op ʼn waarskuwing vrygelaat en die saak is tot 29 September uitgestel vir verdere ondersoek,” het brig. Selvy Mohlala, ʼn woordvoerder van die polisie, gesê.

Maroela Media het Dinsdag berig betogers het paaie tussen Kriel en Bethal en Kriel en Witbank met klippe, brandende bande en ander voorwerpe versper.

Volgens Mohlala beweer die inwoners dat kragstasies en myne in die omgewing nie plaaslike mense aanstel nie en eerder werk aan uitlanders verskaf. Samesprekings om ʼn einde aan die betogings te bring is Woensdag gehou. Dit het ʼn dooiepunt bereik nadat die gemeenskapsleiers uit die vergadering gestorm het.

Die polisie het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om vreedsaam te betoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.