Kriminele kan munt slaan uit Covid-19-pandemie

Kenners waarsku daar is heelwat skuiwergate wat misdadigers kan uitbuit. Hier is polisielede besig met ‘n misdaadvoorkomingsoperasie naby Kaapstad. (Foto: Tracey Adams/ANA)

Die huidige Covid-19-pandemie bied ruim geleenthede vir ʼn “kriminele ekonomie” en “kriminele opportunisme” om te floreer op die behoeftes van die verbruiker, sakelui en die oorlaaide staatsinstellings. Hoewel die minister van vroeër aangekondig het dat misdaad afgeneem het tydens die inperking, waarsku kenners teen georganiseerde misdaad en misdaadsindikate.

“In enige situasie waar daar ʼn krisis is, hetsy finansieel of politiek, sien ons dat georganiseerde misdaad toeneem,” sê prof. Rudolph Zinn, polisiekundige aan Unisa. “Hulle groei in tye soos dié,” voeg hy by.

Gareth Newham,  ʼn afdelingshoof by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), verduidelik hierdie groei deur na die infiltrering van voorheen wettige markte te verwys. “Georganiseerde netwerke beskik nou oor mag en winste wat hulle nie andersins sou gehad het nie.

“Netwerke wat aanvanklik by dwelms en ander smokkelgoedere betrokke is, kry nou hul voet in die deur by wettige markte soos sigaretverkope, wat tydens die inperking onwettig is. Dit versterk hulle greep op die algehele mark. Wanneer die inperkingstydperk verby is sal hierdie netwerke [met hul bedrywighede] voortgaan. In stede daarvan om produkte teen die huidige hoër prys te verkoop sal dit in die toekoms teen ʼn laer prys as dié van die wettige handelaar beskikbaar wees,” meen Newham.

Dit is nie net die verbruiker wat geraak word nie, maar ook die verskaffer. Zinn en Newham verwys albei na wat reeds in Italië plaasvind: Sindikate in dié land bied finansiële steun aan ondernemings in nood en in ruil daarvoor ontvang hulle aandele.

(Foto: Ian Landsberg/ANA)

Volgens Zinn loop Suid-Afrika ook tans hierdie risiko.

In Suid-Afrika is die neiging reeds sigbaar waar bekende onderwêreldfigure soos Jerome “Donkie” Booysen en Nafiz Modack tydens afsondering voedselverligting in verskeie kwesbare gemeenskappe bring.

“Indien die staat nie lenings of kos voorsien nie en plaaslike bendes begin dit doen, kan dit gemeenskappe meer vergewensgesind teenoor kriminele netwerke maak,” sê Newham.

ʼn Verdere magsinpuiting is die kontras in rolle wat die polisie en bendes vertolk.

“Wanneer soldate [van die SANW] inkom en inwoners hardhandig hanteer, veroorsaak dit ʼn verdere toenadering tot kriminele netwerke. Die staat word gesien as harteloos en irrasioneel terwyl dié netwerke as ondersteunend voorkom,” sê hy.

Mense plunder verlede week ‘n vragmotor wat kosvoorraad aflaai. (Skermgreep: Twitter)

Grant Smith, stigter van Western Cape Gang Watch (WCGW), sê die kwesbaarste groepe is tans dié mense wat afhanklik is van bendes terwyl die staat besig is om hul logistieke probleme uit te sorteer. Die bendes buit die situasie uit deur mense aan te moedig om te roof en te plunder. Vir kwesbares gaan alles om daaglikse oorlewing.”

Die dwelmbedryf wat staatmaak op gemeenskappe wat reeds voor die afsonderingstydperk swaargekry het, gaan boonop ook ononderbroke voort.

Smith meen bendes weet die polisie se fokus is op Covid-19. “Dit stel [bendes] in staat om hul markte uit te brei.”

Verder het die huidige maatreëls en regulasies op invoere min tot geen effek op die verspreiding van dwelms, veral nie by hawens nie, sê Smith.

Zinn sê dat Suid-Afrika se vermoë om hoë risiko skeepsvragte te identifiseer beperk is.

“In Suid-Afrika het ons net ʼn handgedrewe stelsel waar duisende vragte wat inkom deur die polisie as hoë risiko geïdentifiseer moet word, al dan nie. Slegs hulle word deursoek. Smokkelaars weet dit [dié werkwyse] is oneffektief. Die polisie erken minder as 5% van alle vraghouers word deursoek.”

Waarskuwing teen toename in misdaad

(Argieffoto: SA Polisie)

Benewens onwettige handel in dwelms en sigarette waarsku Zinn ook teen vragmotorkapings, onwettige mynboubedrywighede en kubermisdaad.

Zinn meen Suid-Afrikaners gaan ʼn toename in voertuigkapings sien. “Die huidige omstandighede in Suid-Afrika skep ʼn groter aanvraag na goedkoper voertuie. ʼn Gekaapte motor is goedkoper as dieselfde model wat nuut is.”

Hy meen egter van die grootste probleme wat vir ons voorlê is onwettige mynboubedrywighede. “Dit gaan waarskynlik toeneem. Hierdie mense myn in een gebied en hulle hoef nie te reis nie. Hoe groter die armoede en hongersnood word, hoe meer gaan ons ʼn toename hierin sien.’

Zinn bring egter kleur aan die donker prentjie wanneer hy uitwys dat Suid-Afrika nie tans die verwagte toename in kubermisdaad toon nie. Hy waarsku egter dat dit kan toeneem wanneer aanlyn verkope meer noodsaaklik word en mense nie oordeelkundig aanlyn te werk gaan nie.

Met die groeiende kriminele ekonomie en die geleenthede wat die huidige staat van inperking vir sindikate en kriminele groepe bied, waarsku Zinn teen die ontstaan van ʼn misdaadkultuur.

“As jy ʼn woonbuurt met ʼn hoë kultuur van misdaad het en die sindikaat vervul die rol van kospakkies uitdeel en polisiëring, skep jy ʼn kultuur van misdadigheid, wat beteken die buurt word daarna deur misdadigers beheer. Dít is een van die moeilikste dinge om stop te sit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Burgermeester ·

Duidelik is ek nie gerat vir die kriminele-onderwereld nie. Ek sou nou verwag het dat as jy voedselhulp aanbied, sal dit wees sonder enige voorwaardes of vereistes. ‘n Mens gee mos met ‘n oop gevoel, anders moet jy nie gee nie. Om mense uit te buit is al klaar laag, maar om mense uit te buit tydens moeilike tye is laer as laag.

Jacobus ·

Kom nou terdeë agter hoe ongelyk die breë wetstoepassing is. Reeds gesê dat die Gogo war atjaar verkoop word onder arres geplaas terwyl die kriminele wat Eskom (oa) leeggemaak het loop steeds vry rond. Persone kry R5000 boetes en ‘n geagte minister kry R1000 vrykoop boete.
Geen buurtwagte en plaas wagte beteken carte blanche vir inbrekers en veĕdiewe..
Mr die polisie minister dink weer en dink uit die boks. kriminele hardloop kringe om julle – of is dit die plan?

Willem ·

Dalk is die skelms bang vir daai vrou wat ons gister berispe het al het sy gemompel. Tussen haar en cele behoort hulle die skelm netwerke stop te sit. Hulle is baie kwaai

Michael 1 ·

Kriminele slaan in elkgeval munt uit die feit dat SA nie n bevoegde polisie mag het nie.

Anel ·

En dan wil hulle hê almal moet maskers dra! Dink net hoe gaan daar nou geroof word! Geen behoorlike uitkenning nie. Niemand het ooit gemasker ‘n besigheid gemag betree nie. Nou moet jy. O gonna, hier kom moeilikheid. Die spul kan nie dink nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.