Kriminele klagte wink vir Arthur Fraser

Arthur Fraser (Foto: DKD)

Die politieke party Cope beplan om Maandag aanklagte van korrupsie teen Arthur Fraser, gewese hoof van staatsveiligheid, aanhangig te maak.

Dít kom nadat Fraser se beweerde misdrywe in die jongste aflewering van die Zondo-kommissie na staatskaping se verslag onthul is. Fraser word in die verslag daarvan beskuldig dat hy geld by die Principal Agency Network, wat glo as onwettige parallelle intelligensiestruktuur bedryf is, misbruik het.

“Die bewerings wat in die staatskapingverslag vervat is, is baie ernstig. Die misbruik van belastingbetalers se geld in ʼn private intelligensie-eenheid is skrikwekkend en benodig onmiddellike optrede van die strafregstelsel,” sê Dennis Bloem, woordvoerder van Cope.

Volgens Bloem het ʼn ondersoek na die agentskap aan die lig gebring dat toerusting van die eenheid steeds in Gauteng is en dat ʼn aantal huise in die naam van individue geregistreer is.

“Ons glo dit hou ʼn groot gevaar in vir die veiligheid en stabiliteit van die land.”

Hoofregter Raymond Zondo het in sy verslag voorgestel dat die Valke weer sy ondersoek na Fraser begin. Die ondersoek is na bewering gestop op aanvraag van oudpres. Jacob Zuma.

“Hierdie aksie is die eerste in ʼn reeks van deurlopende aksie oor die implementering van die Zondo-kommissie se aanbevelings,” sê Bloem.

Cope beplan om deurlopend die polisie te nader om kriminele klagte teen verskillende mense wat die kommissie aanbeveel vervolg moet word, te lê.

“Ons glo dat die land nie vir nog vier maande kan wag vir pres. Cyril Ramaphosa om op die verslag te reageer nie. Dit is ons plig en verantwoordelikheid om die Nasionale Vervolgingsgesag en die Valke by te staan deur kriminele klagte te lê sodat die beskuldigdes die volle mag van die wet ervaar.

“Ons hoop dat die Valke hierdie saak as ʼn prioriteit sal hanteer en Fraser summier in hegtenis sal neem en aankla.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Realis Thailand ·

Almal weet al lankal van sy oneerlikheid en daar word net daarvan gepraat en niks gedoen nie
Oor tien jaar loop hy ook nog vry rond
Hoop maar ek is verkeerd maar twyfel

Grassie ·

Dit lyk vir my dit is nou hond eet hond in die ANC se hogere kringe. Dalk dra Fraser en die Pres een van die dae oranje oorpakke. Hulle sal interessante selmaats uitmaak – miskien mekaar oor en weer verwyt – “As jy maar net jou bek gehou het…..”

Jannie van Niekerk ·

Interessant hoe skelms altyd rondspring om die aandag van hulselof te probeer aftrek..

Casper ·

Ramaphosa het geweet van die plundering van die fondse en moes toe van Frazer ontslae geraak het maar toe plaas hy hom oor DKD toe.Het Frazer toe al geweet Ramaphosa het sy eie bank waar hy sy geld bank en waar die geld vandaan kom.Die makste hond byt die seerste.

Swerwer ·

Daarsy! Grawe ‘n gat vir iemand en jy val self daarin!!!

Nie Verbaas ·

Alles goed en wel Cope maar die vraag bly staan, hoekom word net hy aangekla en nie ook die ander van Eskom en Prasa nie? Dalk iets te doen met Phala Phala?

Sarel ·

Selfde man wat klag teen Rhamaposa ingedien het..waar is die mense wat saam.met hom.op die wa geklim het
Wonder wanneer gaan Zuma moeg word…snaaks hy het nog nie weer ” siek ” geword nie.
Fraser gaan ook sy voorbeeld volg..Drs. kan maar reg staan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.