Die burgerregteorganisasie AfriForum is van mening dat kriminele polisiebeamptes die swaarste gestraf moet word en dat afdanking nie genoeg is nie.
Bheki Cele se bekendmaking vandeesweek dat 1 172 lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oor die afgelope vyf jaar weens hul betrokkenheid by misdade (wat ernstige misdade insluit) uit die polisiediens ontslaan is, getuig volgens AfriForum van die totale verval van ware reg en geregtigheid in die staatsdiens, want die polisie moet eintlik aan die spits van die gereg staan.
“Polisielede moet die voorbeeld stel en dus moet hulle nóg swaarder gestraf word vir misdade waarby hulle betrokke is,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid. “Voorts het die polisie op 13 Oktober verlede jaar aangekondig dat altesaam 2 270 wapens in die vorige drie jaar deur hulle verloor of by hulle gesteel is. Dit beteken dat misdadigers binne én buite die polisie indirek deur die staat bewapen word.”
Hierdie toedrag van sake spreek boekdele oor die verbrokkeling van die SAPD en die Nasionale Vervolgingsgesag, asook die kommerwekkende wyse waarop die SAPD se rekruutkeuring te werk gaan.
Om alles te kroon, blyk dit dat ’n groot aantal ontslane lede nie na behore in ’n strafhof vervolg is om volle verantwoording vir hulle dade te doen nie.
“Die feit dat daar – die aantal ontslane lede ten spyt – nog talle hangende sake teen SAPD-lede is, skets ’n donker prentjie oor hoe korrup en buite beheer die SAPD se strukture is. ’n Land se polisiediens behoort ’n gevoel van veiligheid onder sy burgers te skep. Hierdie soort onthullings lê egter ál meer klem op die feit dat die gemeenskap hulself tot daadwerklike optrede en mobilisering sal moet wend om hul veiligheid te bewerkstellig.”
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
12 Kommentare
ja hulle moet teminste n jammer briefie skryf en n waarskuwing kry
Maar wat van kriminele politici en party beamptes? Jy hoor NOOIT dat hulle vervolg en gestraf word nie. Intern word hulle slegs geskuif en bevorder. Boonop betaal ons om hulle uit die howe te hou- sien Zuma saak. Waarom is daar nog bie n enkele politikus vir korrupsie in die staat gearresteer nie? Die anc is vrot van korrupsie en ek wil sover gaan om te se elke politieke party het sy kwota korruptes!
Dalk nie mense aanstel met n krimenele rekord nie ….HALLLOOOO hoe dom kan mens nou wees !
Wat ! ‘n gemiddeld van ongeveer 20 per maand oor 5 jaar is niks om oor trots te wees nie.
Die polisie is georganiseerde misdaad..n vis vrot van sy kop af..