Kriminele rekordsentrum weer ‘ten volle in bedryf’

Die kriminele rekordsentrum in Pretoria (Foto: Facebook / CouncilAssist for Educators)

Die polisie se kriminele rekordsentrum in die Pretoriase middestad het weer sy bedrywighede hervat nadat dit verlede week glo weens ʼn “betalingsdispuut” gesluit is.

Die sentrum is weer “ten volle in bedryf” en die uitreik van polisieklaringsertifikate en die verwerking van vingerafdrukaansoeke vir vuurwapens gaan soos gewoonlik voort, het kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, Maandag gesê.

“Lede van die publiek word dus in kennis gestel dat hulle nou hul dokumente by die gebou kan af- en oplaai.”

Aansoekers en koeriers het verlede week voor dooiemansdeur te staan gekom toe hulle klaringsertifikate by dié sentrum in Francis Baardstraat in die Pretoriase middestad wou afhaal.

Die polisie wou nie sê of die sentrum wel weens ʼn betalingsdispuut gesluit is nie.

Maroela Media het vroeër berig volgens die departement van openbare werke en infrastruktuur is die gebou onwettig gesluit omdat geen hofbevel daarvoor verkry is nie. Die departement het aangevoer dié onwettige optrede was eerder ’n poging om af te wyk van die bewyse van oorbetalings wat die departement aan verskeie verhuurders voorgelê het en besig is om op te los.

Mathe sê nou die polisie is deeglik bewus van die ongerief wat die kantoor se sluiting sedert verlede Dinsdag veroorsaak het.

’n Polisieklaringsertifikaat is ’n amptelike dokument wat deur die kriminele rekord- en misdaadtoneelbestuursentrums uitgereik word en dui aan of enige strafregtelike skuldigbevindings teen ’n individu aangeteken is of nie.

Die sluiting van die sentrum het dus konsternasie onder werk-, visum- en vuurwapenlisensieaansoekers asook misdaadondersoekers veroorsaak. Die kriminele rekordsentrum in Pretoria is glo die enigste plek in Suid-Afrika wat klaringsertifikate vir visumdoeleindes uitreik.

  • Lees Maroela Media se vorige berig oor die sentrum se sluiting hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.