Kriptogeld: Tem dié talentvolle tiener

(Foto: iStockphoto)

As die finansiële landskap ’n restaurant was, was kriptogeld beslis die maaltyd van die dag. Kenners wat aan ’n aanlyn dinkskrum van die Noordwes-Universiteit Besigheidskool deelgeneem het, meen dié onbekende én opwindende (tegnologie)gereg hoort op die spyskaart. Maar, roer hulle vinnig by: al lek talle hul lippe hiervoor af en het miljoene reeds ’n voorsmakie gekry, kort die resep baie verfyning voordat Jan Alleman behoorlik gaan byt.

Mense is met rede nog baie versigtig om kriptogeld as ’n ruilmiddel (geldeenheid), beleggingsinstrument of bateklas te beskou. Die gebrek aan regulering, die magdom kripto-eenhede wat soos wilde sampioene opspring, die gesiglose skeppers en roekelose spekulante, asook die soms woeste wispelturigheid in prys, vuur dié onsekerheidsvlam aan.

Die kenners is dit eens dat ’n gebrek aan kennis oor en vertroue in dié onafwendbare omwenteling én ontwrigting van die finansiële sektor van die grootste redes is waarom baie mense (nog) hul neuse optrek.

Volgens Chris Becker, hoof van blokkettingtegnologie by Investec, het die Suid-Afrikaanse rand ’n betreklik kort geskiedenis.

“Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) is in 1921 opgerig en het vir 40 jaar ’n buitelandse monetêre eenheid (pond sterling) bestuur. Die rand is eers in 1961 ingestel en is dus slegs 60 jaar oud. Mense se vrees vir die vinnig veranderende wêreld van finansiële tegnologie is verstaanbaar, maar inligting en opvoeding is van deurslaggewende belang.

Becker meen dit is onregverdig om kriptobates soos bitcoin net op sy prysbaadjie te takseer.

“Slegs 21 miljoen bitcoin kan ooit in sirkulasie wees, wat dit ’n skaars digitale bate maak. Die eerste van sy soort ter wêreld. Daar is ’n klomp opwindende veranderings en vooruitgang in tegnologie, wat onder die enjinkap gebeur, wat misgekyk word. Soos ’n samelewing omvorm en ontwikkel, moet die wêreld van geld noodgedwonge in pas hiermee bly.

“’n Splinternuwe finansiële stelsel is besig om beslag te kry wat ’n klomp funksies en rolle van die tradisionele bankwese in een bron van oopbrontegnologie vervat. Dit gaan enersyds rompslomp uitskakel en andersyds geleenthede ontsluit wat ons nie vandag kan voorspel of ten volle verstaan nie. Die onderliggende tegnologie is vir my amper opwindender as kriptogeld self.”

Vertroue word oor tyd opgebou, sê Becker.

“Vrees moet nie veroorsaak dat die baba saam met die badwater uitgegooi word nie. Ons het nog net die oppervlak bereik van die toekomstige voordele wat dié tegnologie inhou. Ons moet innovasie toelaat om te gedy. Toe elektrisiteit uitgevind is, het bitter min mense geweet watter ingrypende verandering en vooruitgang dit vir die mensdom sou inhou. Tog het kerse geleidelik plek gemaak vir gloeilampe.”

Kyk ’n mens na die bykans onuitspreekbare gesamentlike markkapitalisasie van al die kriptogeldeenhede soos op 2 Junie 2021, naamlik $1 650 129 447 955, is dit duidelik dat dié digitale geldvoertuig allermins ’n gier is wat oornag gaan oorwaai. Bitcoin se markaandeel is byna 43% en sy markkapitalisasie sowat $691,2 miljard (teenoor die $12,172 biljoen [trillion] van goud en $932,1 miljard van Facebook).

Volgens die paneel hou kriptogeld verskeie potensiële voordele in:

  • Dit bied outonomie omdat gebruikers dit na goeddunke kan bestee, sonder tussengangers soos ’n sentrale bank of regering. Jy kan enige plek ter wêreld betalings doen sonder die goedkeuring van ’n eksterne party;
  • Transaksies is vertroulik (byna soos kontanttransaksies) en daar is min transaksiekoste en ander heffings wat normaalweg deur banke gehef word;
  • Internasionale transaksies is baie goedkoper en vinniger omdat toestemming en wagperiodes van regerings en reguleerders nie ter sprake is nie;
  • Gebruikers van kriptogeld kan transaksies op enige plek uitvoer waar daar internettoegang is. Dié verhoogde toeganklikheid maak handel en investering wêreldwyd moontlik en maklik; en
  • In teorie bied kriptogeld die geleentheid om uit die (soms nadelige) greep wat sentrale banke (en dikwels politici) op handel en die waarde van geldeenhede het, te ontsnap.

(Grafika: Dawid Brand/Verskaf)

Tog laat die gebrek aan regulering juis die wenkbroue lig. Die SARB het in 2020 ’n konsepdokument gepubliseer waarin voorstelle oor die regulering van kriptogeld gemaak word. Dié dokument dien as vertrekpunt vir gesprekke tussen rolspelers in die finansiële bedryf.

Volgens prof. Brandon Topham van die Gesagsowerheid vir die Finansiële Sektor (GOFS, oftewel FSCA) is regulering nie iets wat sommer oornag geïmplementeer kan word nie .

“Hoe reguleer jy iets of iemand wat jy nie kan sien nie? Dis meer ingewikkeld as om bloot net aan iemand se deur te kan gaan klop met ’n dagvaarding in die hand.

“Tegnologiese vooruitgang is wonderlik en ’n mens kan dit nie ignoreer nie. In 2020 wat daar meer as 2,9 biljoen (trillion) transaksies op die internet waarvan slegs 0,34% onwettig was. Daar was ook sowat 55 miljoen digitale beursiehouers. Ons werk is om seker te maak dat veiligheid, te midde van al die voordele, nie verwater word nie.

“As reguleerders moet ons aan die voorpunt van ontwikkeling bly om te verstaan hoe dié tegnologie die manier van sake doen tussen finansiële instellings en klante beïnvloed, ten einde te verseker dat uitbuiting nie plaasvind en instellings hulself nie aan onnodige risiko’s blootstel nie. Gelukkig het Suid-Afrika een van die mees gesofistikeerde finansiële stelsels in die wêreld.

“Die belangrikste volgende stap is die verklaring van kriptobates as ‘n finansiële produk ingevolge die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangerdienste (FAIS-wet). Tussengangerdienste en adviseurs sal dus soos enige finansiële diensverskaffer by ons moet registreer. Dit sal verseker dat mense gebalanseerde advies by ’n geregistreerde diensverskaffer kry en hul risiko verskans. Ons is egter nog minstens ses maande weg van só ’n reguleringsraamwerk,” sê Topham.

(Foto: iStockphoto)

Topham voeg by dat ’n bultende bitcoinbeursie jou nie uit die kloue van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gaan hou nie.

“Die SAID het reeds aangedui dat enige opbrengs uit kriptotransaksies belasbaar is, hetsy as deel van jou persoonlike belastingopgawe of as deel van kapitaalwinsbelasting. Of jy nou in rand en sent of koeie betaal, dit ís belasbaar.”

Suid-Afrika boks beslis bo sy gewig wat belegging in kriptogeld betref en dit raak al meer gewild, sê Marius Reitz, Afrika-hoof van die verhandelingsplatform Luno. Die gewildheid van kriptogeld is duidelik uit Luno se syfers. Dié groep het in 2020 meer as 1 miljoen kliënte bygekry en meer as 250 000 in die eerste kwartaal van 2021.

“Luno is trots Suid-Afrikaans met ’n vastrapplek in verskeie lande wêreldwyd, en maak dit sedert 2013 vir Suid-Afrikaners moontlik om in kriptogeld soos bitcoin te belê. Luno is een van die eerste platforms wêreldwyd om ’n veilige verhandelingsdiens te bied.”

Die kenners waarsku egter dat te veel mense, veral jongmense, meegesleur word deur skatryk sakelui se stappe en sosialemedia-meningsvormers (influencers) se slim sêgoed.

“Baie mense wil só graag ’n stuk van die kuberkoek kry dat hulle hul brood-en-melkgeld blaas net om langs die braaivleisvuur met hul digitale beursies te kan spog,” sê Reitz.

“Dis allermins ’n spekulatiewe snelweg na kitsrykdom. Jy moet besef: die wisselvallige wipwarit van kriptogeldeenhede kan ’n avontuurtog óf nagmerrie-rit wees. Moet dus nooit geld gebruik wat jy nodig het om noodsaaklikhede te betaal of jou maandelikse begroting te laat klop nie. As jy nie kan bekostig om dié geld te verloor nie, bêre jou beursie!”

Vir Albert van Zyl, senior lektor aan die NWU Besigheidskool, is kriptogeld soos ’n 10-jarige kind wat sonder ouers in ’n dorpie woon.

“Al wat ons weet, is dat die kind uit ’n ongehude verhouding gebore is met ’n ma wat baie potensiaal het (blokkettingtegnologie). Niemand weet wie die pa is nie (niemand weet werklik wie die skepper van bitcoin is nie) en daarom het hy geen behoorlike leiding nie (niemand beheer of reguleer kriptogeld nie).

“Die kind is tans ’n tiener, groei blitsig, maar het die alleraardigste streke en word gereeld in die geselskap van kwajongens gesien. Die vraag is of die kind in ’n boosaardige skurk gaan ontaard of die held van die dorpie gaan word?

“Die dorpie se inwoners moet nou die verantwoordelikheid neem om die kind se goeie eienskappe te ontwikkel en hom weghou van die verkeerde dinge in die lewe, sonder om sy vrye gees in te perk,” sê Van Zyl.

“Kriptobates gaan mettertyd ’n algemene deel van die ekonomiese spektrum vorm. “Daarom is dit goed om aan dié tegnologie blootgestel te word en klein happies te probeer. Om egter jou spaar- of pensioengeld in enige riskante belegging te plaas, is gewoon dom en uiters onverantwoordelik,” sê hy.

Raad met jou (kuber)rande:

  • Doen behoorlik navorsing voordat jy net wegspring en op ’n kripto-inkopietog gaan.
  • Wees versigtig vir kriptoslenters wat ’n vaste of onrealistiese opbrengs op kapitaal beloof. Kriptogeld se waarde word (net soos aandele) deur verskeie faktore beïnvloed en kan nooit ’n vaste opbrengs waarborg nie. As iemand sulke beloftes maak, maak jou uit die voete.
  • Vind ’n betroubare platform deur die volgende in ag te neem:
    • Doen verkieslik sake met plaaslike, geregistreerde maatskappye;
    • Maak seker dat jy die identiteit van die maatskappy se direkteure kan verifieer;
    • Snuffel aanlyn om seker te maak dat die maatskappy se naam al in die media verskyn het;
    • Kyk na die platform se prosesse ten opsigte van veiligheid op hulle webtuiste; en
    • Stel vas of die maatskappy met plaaslike reguleerders soos die Suid-Afrikaanse Reserwebank, CIPRO en die FSCA saamwerk.

Dawid Brand is ’n vryskutjoernalis van Kempton Park. Die inligting in hierdie artikel is nie bedoel as ’n persoonlike aanbeveling, raad of voorstel oor die geskiktheid van ’n finansiële produk of optrede soos omskryf in die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangerdienste (FAIS) nie. Dit is baie belangrik om betroubare finansiële advies in te win voordat jy enige groot geldbesluite neem. Besoek gerus Luno se leerportaal waar jy meer oor die verskillende kriptogeldeenhede en risiko’s te wete kan kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wian

Reitz projekteer duidelik hier wanneer hy so uitvaar oor “kuberkoeke” en watnie. Maar dis te ver wagte van ‘n nuttelose tussenparty soos Luno. Enigiets wat nie Bitcoin is nie is tydmors, en deel van die hele punt van die revolusionere impak van Bitcoin is juis dat dit nie net on-reguleerbaar per design is nie, maar ook dat mens geen 3de party nodig het om mee te begin nie want die blockchain fasiliteer die nodige vertroue intrinsically. Reitz se “wisselvallige wipwarit” is net van toepassing as mens ‘trade’; Bitcoin moet in die huidige fase van die S-curve egter net opgegaar word.… Lees meer »

johann

Kriptogeld is ‘n onding wat wereldwyd onwettig verklaar moet word