Krisis dreig oor Bethal se krag

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Terwyl menigte Suid-Afrikaner kla oor die alewige instel van beurtkrag, beleef inwoners van Bethal in Mpumalanga die afgelope paar jaar daagliks minstens 12 ure lank kragonderbrekings weens sogenaamde beurtkrag wat deur die plaaslike munisipaliteit ingestel word.

Gevolglik moes verskeie besighede reeds hul deure sluit en kommer heers oor die impak wat dit op die plaaslike ekonomie en werkloosheidsyfer kan hê. ’n Hofsaak is ook reeds teen die Govan Mbeki-munisipaliteit aanhangig gemaak.

“Bethal is byna heeldag sonder krag. As die inwoners tussen twee tot drie ure krag per dag het, is dit baie,” sê Deon de Vries, VF Plus-raadslid van die plaaslike munisipaliteit.

Dié sukkelende munisipaliteit is glo kniediep (R2,7 miljard) in die skuld by Eskom. Die dorp se vraag na elektrisiteit oorskry tans die aanbod en die aanbod kan nie verhoog word nie, weens die munisipaliteit se hoë kragrekening.

Intussen moet besighede en huishoudings in Bethal dit ontgeld. Verskeie winkels, waaronder die plaaslike Woolworths, Clicks en ’n slaghuis, was reeds genoop om hul deure te sluit weens die kragonderbrekings, terwyl sommige inwoners al sak en pak uit die dorp getrek het.

(Argieffoto: Unsplash)

Die plaaslike sakeforum vrees nou dat dorpenaars hul inkopies by groot winkelsentrums in nabygeleë dorpe soos Secunda of Middelburg sal doen, wat eindelik sal beteken dat nóg besighede in die dorp kan vou.

Jan van der Spuy, voorsitter van die VF Plus in Bethal, sê verskeie besighede in Bethal moes weens die kragonderbrekings ten duurste kragopwekkers aankoop wat byna heeldag moet loop. Van der Spuy se krag het ironies genoeg afgegaan terwyl hy met Maroela Media gesels het.

Daar is in hierdie stadium geen skedule wat bepaal wanneer die ligte in Bethal afgaan óf vir hoe lank nie en dié kragonderbrekings kan enigiets van minute tot ure duur.

Volgens Van der Spuy is daar Bethallers wat slegs 50 ure per week – sowat sewe ure per dag – elektrisiteit het. Een van die ouetehuise in Bethal is “gelukkig as hulle een aand per week krag het”.

Tog ontvang inwoners en sake-eienaars van Bethal steeds klokslag hul munisipale kragrekening.

Ziyaad Dangor, voorsitter van die plaaslike sakeforum en woordvoerder vir die Bethal & eMzinoni Community for Services (BECS), sê baie besighede het noodgedwonge na sonpanele oorgeskakel.

Hofsaak, verdere woede

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Volgens Dangor het BECS verlede jaar regstappe teen onder meer die Govan Mbeki-munisipaliteit, die diensverskaffer Enpower Machite en Eskom gedoen weens die impak wat die stryd tussen die twee staatsorgane nou op inwoners het.

Die saak word einde Augustus in die hooggeregshof in Middelburg aangehoor.

BECS het intussen ’n prokureursbrief aan Enpower Machite gerig nadat die diensverskaffer vandeesweek bekend gemaak het dat hy die inwoners van Bethal se geisers met behulp van ’n toestel bekend as ’n geyser control relay van ’n afstand wil beheer in ’n poging om krag te bespaar.

Dié plan het Bethallers nou selfs meer boos aangesien hulle dan nie meer ’n sê sal hê oor wanneer hulle elektrisiteit óf warm water het nie.

Donald Green, waarnemende hoof van kommunikasie by die Govan Mbeki-munisipaliteit, het by navraag aan Maroela Media gesê Enpower Machite poog met die beheerrelê vir geisers om die res van huis se ligte aan te hou en slegs die geiser af te skakel wanneer daar ’n groot vraag na elektrisiteit is.

Die Govan Mbeki-munisipaliteit het ʼn kontrak van 5 jaar met dié diensverskaffer gesluit om die uitdagings rakende elektrisiteit in Bethal en die eMzinoni- informele nedersetting te hanteer.

Die diensverskaffer het volgens die munisipaliteit ten doel om “inkomste in te vorder, die maandelikse Eskom-rekening namens die Govan Mbeki-munisipaliteit betaal, die toestand van infrastruktuur te verbeter deur meer betroubare elektrisiteitsvoorsiening aan klante te”.

Green het voorts gesê die munisipaliteit wil inwoners en ondernemings daarvan verseker dat Enpower Machite onverpoos werk om die elektriese infrastruktuur in Bethal en eMzinoni in stand te hou.

“Inwoners van Bethal en eMzinoni moet daarop let dat die munisipaliteit, terwyl die instandhouding van elektriese infrastruktuur plaasvind, oorlaaide netwerke sal afskakel om die netwerk en die veiligheid van die publiek te beskerm.

“Elektrisiteit sal weer aangeskakel word sodra dit veilig is.”

Green het inwoners versoek om saam te werk om die elektrisiteitsverbruik en die vraag na elektrisiteit in Bethal te verminder deur elektrisiteit spaarsamig te gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pampoen

Die antwoord lê natuurlik in die munisipale verkiesing. Almal is siek en sat vir die kragonderbrekings en daar moet nou bevoegde raadslede gekies word. Die hartverskeurende waarheid is dat die kiesers weer hulle kruisies by dieselfde plek as laas gaan trek.

Renier johannes

Selfde in piet Retief ook klomp koruptes

Christiaan

Munisipaliteit stel ander maatskappy aan om hulle eie werk te doen? Of verstaan ek verkeerd, en aan as hy ooit hierdie raaksien, Mnr. Green jou antwoord dui duidelik aan hoe vlak jou verstand is. Die mense van Bethal moet krag “spaarsamig” gebruik? So mense gebruik te veel krag wanneer hulle nie krag het nie? en die infrastruktuur kan dit nie hanteer nie? Want volgens die artikel is die probleem agv julle wanbestuur van die munisipaliteit? Dink jy/julle dat die mense van Bethal n magdom krag gebruik in die 3 ure wat hulle per dag wel krag het? As die inwoners… Lees meer »

marius

Gaan kyk maar . Die geld wat julle elke maand betaal word in hul sakke geprop en eskom word nie betaal nie . Verduidelik hoe ‘n gewonemunisipale amptenaar ‘n huis en voertuie kan bekostig van R15 miljoen ?

Kokerboom

Hoekom aanvaar die belastingbetalers die toestand van sake??????