‘Krisis dreig’ weens kwarantyngerief in Potchefstroom

Die rondawels by die geriewe (Foto: Verskaf)

Die pas ingerigte kwarantynfasiliteit by die Potchefstroomdam-ontspanningsoord in Noordwes gaan nie teen 31 Julie gereed wees om aan Covid-19-pasiënte beskikbaar gestel te word nie. Só het lede van die Covid-19-taakspan van die JB Marks-munisipaliteit in Noordwes wat Maandag dié sentrum besoek het, bevind.

Volgens Matthys van Tonder, VF Plus-raadslid van die JB Marks-munisipaliteit, het die speaker in die raad, Elias Mogoeemang, gesê die fasiliteit moet teen 31 Julie gereed wees wanneer dit aan Noordwes se gesondheidsdepartement oorhandig moet word. “Ek twyfel egter of die sentrum teen Vrydag gereed gaan wees,” het Van Tonder aan Maroela Media gesê.

Van Tonder sê daar is nie basiese bad- of stortgeriewe in die rondawels of enige vorm van ablusie-eenhede nie. Daar is ook nie kookgeriewe in die wooneenhede nie. “Daar kan nie aan basiese higiëniese standaarde voldoen word sonder die nodige badkamergeriewe nie,” sê hy.

Van Tonder sê hierdie sentrum is veronderstel om as een van die sleutel-kwarantynpunte in Noordwes te dien wanneer die verwagte toename in Covid-19-gevalle in dié provinsie plaasvind.

Die badkamers is nie volledig ingerig nie (Foto: Verskaf)

“Die taakspan is telkemale die versekering gegee dat die terrein gereed is vir oorhandiging aan die Noordwes-gesondheidsdepartement. Mogoeemang het ook op 16 Julie aan die Kenneth Kaunda-distriksraad dieselfde versekering gegee. Dit is ook so aan die provinsiale staande komitee vir openbare rekeninge gemeld,” sê Van Tonder.

Hy sê volgens die munisipaliteit beloop die koste van hierdie sentrum reeds R1,9 miljoen. Die provinsiale staande komitee vir openbare rekeninge, asook die provinsiale tesourie, het reeds ander Covid-19-verwante uitgawes van die munisipaliteit bevraagteken en aangedui dat dit ondersoek gaan word.

“Die JB Marks-gemeenskappe ly reeds vir ʼn geruime tyd onder deurlopende wanbestuur en die vermorsing van miljoene rande se belastinggeld deur die ANC-beheerde munisipaliteit. Hierdie stand van sake is ’n skandvlek op die naam van ’n eens vooruitstrewende munisipaliteit,” meen Van Tonder.

Maroela Media het ’n navraag aan die departement van gesondheid in Noordwes gerig, maar wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Watter plek onder ANC is nog in werkende toestand

Cheetha

Hulle kan eenvoudig net niks reg doen nie. Maar our people bly stem.

Adam

Geen verrassing. Die ANC strompel voort van die een mislukking na die ander. Die armes in die land het geen hoop onder die regering nie en ons sal vir dekades lank sukkel met die nagevolge van hul oneffektiwiteit,

Leonard

Korrupte amptenare MÓÉT VERBIED word om enigsins hieraan te werk!!!
Na talle jare van KORRUPSIE, MOET HIERDIE AMPTENARE, VERWYDER WORD!!!!

marius

Net nog ‘n geldwassery .