‘Krisis’ in polisie druk beamptes tot breekpunt

(Argieffoto: SA Polisie)

Dit is ʼn eindelose gesukkel om enigiets van ʼn flitslig tot ʼn battery, ʼn koeëlvaste baadjie, ʼn uniform of selfs ʼn stel motorbande vir ʼn polisievoertuig te bekom.

“Die polisie is in ʼn krisis,” sê Okkie Terblanche, die DA se woordvoerder oor polisie, na die soveelste berig oor ʼn gebrek aan toerusting en ondersteuning aan polisielede op voetsoolvlak.

Terblanche sê dit is nie net basiese items, soos verfkwaste of poeier om vingerafdrukke mee te neem, wat nou bykans onbekombaar is nie – dit is ook die polisie se oorhoofse stelsels wat nou al maande lank nie meer funksioneer soos dit moet nie.

Terblanche sê die sogenaamde FDA- stelsel – dié van Forensic Data Analysts wat gebruik word om die polisie se bewysstukstelsel te beheer – is reeds maande lank buite werking. Die gebruik daarvan is in Junie verlede jaar opgeskort en ʼn nuwe stelsel wat sedertdien ontwikkel is, gaan na verwagting op 6 April in werking gestel word.

Terblanche sê ook die stelsel wat die polisie gebruik om sy eie vuurwapens – en dié van die publiek te beheer – werk nie. Dié stelsel word ook deur FDA voorsien, maar weens die polisie en die maatskappy se jarelange stryd oor betaling, funksioneer dit nie behoorlik nie.

“By die vuurwapenregister is daar totale chaos,” sê hy.

Omdat die stelsel nie werk nie, weet die polisie volgens Terblanche nie watter vuurwapens aan watter polisielede uitgereik word nie. Duisende vuurwapens is boonop ingevolge die afgelope twee amnestietydperke by die polisie ingegee en dieselfde stelsel moet hierdie proses beheer. “Die polisie is afhanklik van die stelsel om optimaal te funksioneer en korrek te funksioneer, maar in hierdie stadium is dit nie die geval nie.”

Renate Barnard, sektorkoördineerder van die openbare sektor by die burgerregtegroep AfriForum – en self ʼn oudpolisielid – sê hulle word oorval met klagtes.

Polisielede betaal uit desperaatheid soms uit hul sakke om hul staatsvoertuie aan die loop te hou omdat dit ʼn bykans onbegonne taak geword het om dit deur die amptelike kanale te laat doen.

“As jy ʼn slaggat tref, kan jy die voertuig nie na die naaste werkswinkel toe neem nie, jy moet die diensverskaffer gebruik wat op die polisie se stelsel is.”

Polisielede sukkel om selfs net die mees basiese toerusting te bekom om hul werk te doen. (Foto: SA Polisie/Twitter)

Barnard sê op Middelburg in Mpumalanga moet polisielede byvoorbeeld na Tzaneen in Limpopo – dis sowat 350 km ver – ry omdat die polisie se diensverskaffer vir motorbande daar geleë is.

Die beleid om sogenaamde swartbemagtigingsmaatskappye te gebruik, skep ook groot probleme.

Barnard sê as voorbeeld moet ʼn hoëprestasievoertuig, soos ʼn Golf GTi van die blitspatrollie, uiteraard van tyd tot tyd gediens word. Dit moet dan byoorbeeld na ʼn BEE-diensverskaffer in ʼn township geneem word waar die werkswinkel soms “uit vier pale en ʼn sinkdak” bestaan. Dié motorhawe het nie die toerusting of die kundigheid om die werk behoorlik te doen nie en soms breek die voertuig sommer weer op pad terug van die werkswinkel.

Dit beteken ook ʼn gemerkte polisievoertuig met hoogs gespesialiseerde toerusting staan dae lank op ʼn plek waar niemand behoorlike beheer daaroor kan uitoefen nie. Soms is daar na afloop van ʼn diens honderde kilometer met ʼn polisievoertuig gery waarvoor geen rekenskap gegee kan word nie.

“Dit gaan nie meer oor iemand wat die werk kan doen nie, maar oor iemand wat aan die vereiste profiel voldoen,” sê Barnard.

Sy sê die blindelingse toepassing van swart bemagtiging veroorsaak van die grootste probleme. Dít en korrupsie.

Talle senior offisiere is verhoorafwagtend weens hul beweerde betrokkenheid by tenderongerymdhede en die administratiewe las wat nou op gewone polisielede afgeskuif word in ʼn poging om korrupsie hok te slaan, maak dit bykans onmoontlik vir beamptes om hul werk te doen.

“Dit gaan oor meer as geld wat gesteel word, maar oor ʼn hele organisasie wat lamgelê word.

“Die probleem is wydverspreid: Van die blitspatrollie, die speurtakke, stasies tot die onluste-eenhede. Sommige van dié eenheid se lede het voor die Wêreldbekersokkertoernooi in 2010 laas nuwe toerusting ontvang. Diegene wat nuut by die eenheid aansluit, het geen toerusting nie.”

Barnard sê die probleem lê vierkantig by die polisiebestuur.

“Polisielede het nie die basiese toerusting om hul werk te doen nie. Hulle koop items uit hul eie sakke. Speurders deel lessenaars en stoele. Dit gaan nie goed in die polisie nie, maar ek dink nie mense daarbuite besef naastenby hóé sleg dit gaan nie.”

Terblanche, ook ʼn oudpolisieman, sê daar is boonop ʼn oënskynlike magstryd tussen die minister van polisie, Bheki Cele, en die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole.

Cele het luidens berigte ʼn versoek aan pres. Cyril Ramaphosa gerig om Sitole se geskiktheid vir die pos te oorweeg.

Terblanche sê dit lyk nie of Cele weet waar die skeiding van magte tussen minister en polisiehoof is nie. Cele is onder meer tydens die afsonderingstyd op die strand gesien waar hy polisielede bepaalde opdragte gee – ʼn plig wat nie syne is nie, maar dié van die nasionale kommissaris.

In een geval is ʼn rolprentspan op ʼn strand in Kampsbaai in opdrag van Cele beveel om hul werk te staak omdat dit volgens die minister ʼn oortreding van die afsonderingsregulasies was.

“As jy kyk na die jongste misdaadsyfers, is daar vraagtekens oor die polisiekommissaris se doeltreffendheid. Ook as jy kyk na die flaters wat deur sy bestuur begaan word.

Bheki Cele, minister van polisie (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

“Die polisie in die geheel met geherstruktureer, geprofessionaliseer en gedesentraliseer word. Polisielede moet heropgelei word om ʼn polisiediens, pleks van ʼn mag te wees. Die polisie moet in diens van die gemeenskap staan, nie in beheer daarvan nie.

“Maar selfs die beste werker kan nie sy werk doen as hy nie die regte toerusting het nie.”

Kobus Hoffman, die VF Plus se woordvoerder oor polisie, sê die party ontvang ook geweldig baie klagtes van lede van die publiek wat nie behoorlike diens van die polisie kry nie – dikwels weens ʼn gebrek aan basiese toerusting soos ʼn voertuig. Dit is ʼn aanduiding dat die probleme op bestuursvlak nou tot by Jan en alleman deurgesyfer het.

“Dit spruit uit die bestuur van die polisie en sy verkrygingstelsel en dit het vir seker ʼn uitwerking op dienslewering.

“Dit maak die polisielede ook moedeloos. Hulle sukkel met onklaar voertuie, met medebeamptes wat nie kan skiet nie, of ʼn tekort aan ammunisie.

“Flitse, batterye … dit maak hulle regtig moedeloos as hulle kla by senior personeel en daar word net nie ag geslaan nie.

“Dit plaas ook polisiebeamptes se lewens in gevaar.”

Die polisie het nog nie op ʼn versoek om kommentaar gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mariana

Bheki Cele en die wat onder hom werk moet ‘n slag hulle werk doen. Polisiestasies val uitmekaar terwyl oral “tee” drink. Sy salaris is te hoog vir dit wat hy doen…….niks

Johan

Die SAPD moet net die Wes-Kaapse Staatsmotorvervoer Entiteit besoek om te sien hoe ‘n voertuigvloot bestuur en instand gehou word.

Persheks Adri

Verwyder vir hoed dan sal dit al BAIE beter gaan pffft magtag hy’s omtrent lus – useless!!!

Flip

Wanneer gaan die ANC die balls he om te erken hulle kan nie die land regeer nie want hulle het nie die verstandelike vermoë om hom te bestuur nie?

JM

Die ANC-regering WIL NIE HÊ DAT ENIGIETS REG WERK NIE, WEET OOK NIE HÓÉ NIE!! Stel nie belang nie. Nie net verval die polisiediens nie, ALLES verval en dit lyk nie asof dit hulle pla nie. Die wrange resultaat van kaderontplooiing. Só word daar al vir bykans 27 jaar voort gefoeter.