Die Gautengse departement van onderwys het die spertyd vir die plasing van gr. 1 en gr. 8-leerders uitgestel aangesien meer as 40 000 leerders nog nie plek in skole het nie.
Chaos het Sondag by van die departement se streekkantore ontstaan. “Ons is bewus daarvan dat van ons beamptes aangerand is en dat toerusting en geboue beskadig is. Ons doen ʼn beroep op ouers om kalm te bly en nie tot geweld oor te gaan by ons kantore nie,” het Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, gesê.
Volgens die departement is die spertyd vir plasings van 31 Oktober tot 30 November verleng. Die aansoekfase het op 20 Mei begin terwyl die plasingstydperk in September afgeskop het. Die departement het gesê 234 290 leerders is reeds geplaas terwyl 43 797 nog nie plek in skole het nie.
“Dit is kommerwekkend dat sowat 4 700 leerders se ouers nog nie hul plasings aanvaar het nie. Daar word ʼn beroep op ouers gedoen om die plasings te aanvaar aangesien die plekke ná ʼn tydperk van sewe dae nie meer beskikbaar sal wees nie.”
Tot dusver is 411 skole reeds vol, hoewel van die skole reeds hul kapasiteit verhoog het om nog leerders te kan inneem.
Die departement het ouers gevra om daarop te let dat die gereguleerde toelatingsvereistes in die volgorde van die volgende kategorieë geplaas word: die leerder se woonplek is die naaste aan die skool se voedingsgebied; die leerder het reeds ʼn sibbe in die skool; een van die ouers se werkplek is in die voedingsgebied van die skool; die leerder woon binne ʼn 30 km-radius van die voedingsgebied en die leerder woon buite ʼn 30 km-radius van die skool se voedingsgebied.
Om ʼn regverdige plasingsproses te fasiliteer, word daar streng aan bogenoemde kriteria voldoen, het die departement gesê. “Ouers moet dus die plasings wat deur die departement aangebied word, aanvaar omdat dit nie verander kan word nie.”
Volgens Lesufi word die departement verplig om alle leerders te plaas. “Alle leerders sal dus geplaas word, dit gaan dalk net nie by die skool van hul keuse wees nie.”
Ouers wie se kinders nog nie geplaas is nie word versoek om op die aanlyn stelsel hul kinders se status na te gaan en/of die naaste distrikskantoor te nader. Ouers kan ook navraag doen by die departement se inbelsentrum by 0800 000 789.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
25 Kommentare
Tyd geword om Panyaza Lesufi se naam te verander….
So gaan dit.Onbevoeg maar die mense verkies die ANC bo alles.Daar is net soveel skole en geleenthede maar duisende meer kinders.So werk nou mooi die probleempie uit Mnr Lesufi en bekommer jou minder oor Afrikaans ens.
Wys my waar in ons land is daar NIE probleme nie? NIKS word betyds gedoen nie, hulle sleep voete. Afrika-tyd en slegtegeit!
ALTYD n KRISIS of n CHALLENGE!
Lesufi moet die blaam vat vir die gemors.