Krisis met rybewyse dreig

Meer as twee miljoen rybewyse verval Donderdag. (Foto: Maroela Media)

Die Automobiel-Assosiasie (AA) waarsku dat ʼn krisis dreig oor die duisende motoriste wie se rybewyse môre verval, maar wat steeds nie vir ʼn nuwe lisensiekaart aansoek gedoen het nie.

Die AA het opnuut ʼn beroep op die minister van vervoer, Fikile Mbalula, gedoen om die spertyd vir die hernuwing van rybewyse te verleng en voorsiening te maak vir ʼn langer hernuwingstydperk.

ʼn Week gelede het die algehele agterstand van bestuurderslisensies wat op 31 Maart verval, landwyd op 2,1 miljoen gestaan.

Terselfdertyd moes meer as 1,2 miljoen lisensies uit ʼn geheel van 2,8 miljoen rybewyse wat reeds verval het, nog hernieu word.

Mbalula het Donderdagoggend ʼn mediavergadering waar hy die jongste verwikkelinge oor die weg vorentoe sal bekend maak. Die minister het vroeër aangedui dat hy nie weer die spertyd vir die hernuwing van rybewyse gaan verleng nie.

Die AA meen daar is geen manier dat die meer as twee miljoen lisensies teen môremiddag hernieu gaan word nie.

“Gegewe die onlangse probleme met die druk van rybewyse en probleme by toetssentrums en met die aanlyn besprekingstelsel, glo ons dit is onrealisties om te verwag dat hierdie enorme agterstand teen môre opgeklaar gaan wees.

“Dit laat duisende motoriste sonder die nodige dokumente om wettig te bestuur,” sê die AA.

“Tensy wetstoepassingsowerhede hierdie kwessies verstaan en ʼn gepaste manier vind om dit te hanteer, kan ons oor die volgende paar maande ʼn reusetoename in die getal boetes ondervind wat aan motoriste uitgereik word.”

Die gebrek aan ʼn geldige rybewys kan moontlik ook gevolge vir ʼn versekeringseis inhou, sou ʼn motoris in ʼn ongeluk betrokke wees.

“Versekeraars kan eise verwerp as motoriste met vervalde rybewyse bestuur. Hoewel diegene wat reeds vir nuwe lisensies aansoek gedoen het, gedek word deur die verlenging van die geldigheid van hul rybewyse, is daar steeds talle ander motoriste wat weens omstandighede buite hul beheer nog nie vir ʼn hernuwing aansoek gedoen het nie,” sê die AA.

Die AA sê dit is die regering se werk om ʼn ruimte te skep waarbinne die dokument tydig hernieu kan word en dat hy rugsteunstelsels moet hê om te verseker rybewyse kan betyds gelewer word.

In hierdie stadium is dit by die meeste lisensiesentrums allermins die geval.

“Dit skep ʼn situasie waar daar misdadigers gemaak word van diegene wat – weens geen fout van hul eie nie – nie hul rybewyse kon hernieu nie.”

Die AA meen die enigste praktiese oplossing is ʼn verlenging van die hernuwingstydperk en die versekering dat alle lisensiesentrums en stelsels werk soos dit moet sodat die agterstand uitgewis kan word.

“Indien dit nie gedoen word nie, sal motoriste ongelukkig besluit om onwettig te bestuur omdat hulle steeds beweeglik moet wees – ongeag die gevolge. Dit is nie ʼn situasie wat enigiemand in die land baat nie.”

Die departement het navorsing laat doen oor die verlenging van die huidige geldigheidstydperk van rybewyse van vyf na tien jaar. Die AA sê dit is die mees praktiese oplossing vir die probleme.

  • Mbalula het verlede week gesê dat die rybewyse van motoriste wie se lisensies op 31 Maart vanjaar verval, vir nog drie maande geldig bly, mits die motoris nog in besit van sy ou rybewys is. Motoriste moet ook met ʼn kwitansie kan bewys dat hulle reeds aansoek vir ʼn nuwe rybewys gedoen het. Die bepaling geld ook vir diegene wat sedert 25 Februarie tot 31 Maart aansoek gedoen het of aansoek gaan doen vir ʼn hernuwing. Dié rybewyse bly ook geldig vir ʼn verdere drie maande. Motoriste wat aansoek doen vir ʼn rybewys nadat dit verval het – dus ná 31 Maart – moet aansoek doen vir ʼn tydelike rybewys waarvoor hulle bykomend moet opdok.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

domheks ·

die ou minister dink ons pluk geld van die bome af! As die stelsel gewerk het sou die mense betyds kon aansoek doen. So wie se skuld is dit??? mmmmmm

Johann ·

Sien, die HOFNAR FRIKKLILLI is SÓ onbevoeg, hy Tel soos Zumpi. 4766hunder 25 foisint and 17662miljon….IN ONE DAY!!!!!!! Lekker beplande geldmaak foefie van die bankrot ANC.

Christine ·

Die hele land is ‘n krisis begalwe ons boere en privaatsektor.

DieKriek ·

Ek wag vir die boete. Dan kan ons sien wat die hof van die gemors sê. Ek het my lisensie hernu maar die kaart is nou nog na n jaar nie beskikbaar nie.

Christine ·

Ry maar net met jou kwitansie saam met jou ter stawing daarvan. Al neem dit 10 jaar.

Andries ·

So probeer ons al vir 6 maande om plek te kry om lisensie te vervang. “Sorry fully booked” is die algemene antwoord.

Wondermaarnet ·

Nog ‘n kader wat nie ‘n benul het wat om hom aangaan nie. As jy nie kan lees of tel nie, kan jy nie die syfers verstaan van agterstallige lisensies nie en sy maatjies werk met lood op die hande en voete en niks jaag hulle nie.

snaaks ·

Wil net weet hoe lank ek gaan wag vir myne as daar nog 2.1 miljoen al vir jare wag.

annie ·

… en dan is daar nou ook ‘n tekort aan motorlisensie-sertifikaatvorms… by verskeie poskantore (wat nog ± bestaan) vir uitdrukke. Die minister het wel hordes verkeersbeamptes wat op-en-af paradeer by hul basisse tussen die omkruid en rommel deur verby die wagtende toue mense. En dis al. Wat ‘n onaangename ervaring om die terreine te besoek, meestal met onverrigter sake, honger en dors en ‘n leë petroltenk aan die einde van die dag huiswaarts te keer.

Dries ·

Die lisenie-kantoor op Lindley is gesluit omdat die beampte besluit het om op verlof te gaan in hierdie kritieke tyd. n Mens kan net jou hande saamslaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.