Krisisberaad besin oor die groeiende krisis in land

Argieffoto: Flip Buys.

Argieffoto: Flip Buys.

Talle verteenwoordigers van die Solidariteit Beweging sal Dinsdag van regoor die land by die Voortrekkermonument in Pretoria byeenkom vir ’n belangrike krisisberaad.

Die doel van die beraad is om indringend te besin oor die groeiende krisis in die land en die uitwerking daarvan op die Afrikanergemeenskap en om praktiese oplossings daarvoor te ontwikkel.

Die tema van die beraad is “Ons is hier om te bly”. Meer as 1 250 mense het reeds teen Maandagmiddag geregistreer om die geleentheid by te woon.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het Maandag in ʼn verklaring gesê daar is toenemend tekens dat die agteruitgang in die land besig is om momentum te kry. “Ons wil werkbare planne, nuwe hoop en genoeg energie vir mense bied om met vertroue saam aan ʼn toekoms te bou waarin hulle hul taal, kultuur en leefwyse vry, veilig en voorspoedig kan uitleef,” het hy gesê.

Die fokuspunte vir die beraad is die groeiende gevaar van staatsverval, toenemende tekens dat die regering teen Afrikaners begin regeer, die bekendstelling van ’n tussentydse aksieplan as antwoord op die staatsverval en verontregting van Afrikaners en die verkryging van ’n mandaat vir die aanstelling van ’n taakspan van die Solidariteit Beweging om ’n omvattende strategie vir die toekoms uit te werk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Theo ·

Wat van ander gemeenskappe wat ook Afrikaans praat en net so bekommerd oor hul toekoms is? Ek verstaan ons moet erns begin en dis reg, ons moet egter nie die geleentheid mis om andere vorentoe ook te betrek nie. Hou dit asb in gedagte want daar is bitter baie wat aan Solidariteit behoort.

Neptunus ·

Theo, as die ander so bitter baie is sal hulle mos ook van hierdie beraad ingelig gewees het soos almal wat aan Solidariteit/AfriForum behoort? Niks keer hulle om by te woon nie.

Phillip Fourie ·

“……. ’n omvattende strategie vir die toekoms uit te werk”. My gevoel is dat die oorlewing van die Afrikaner verbind moet word aan die oorlewing van alle goedgesinde mense in Suid-Afrika. Met ander woorde, swart, bruin en blanke Afrikaners; asook swart, bruin en blanke Engelssprekendes; en helaas die ander swart, bruin, Indiese groepe waarvoor vryheid van spraak, goeie regering, mediese dienste, mede respek ens., ens., moet op een of ander tyd deel wees van hierdie kern van voorspoed.
Ek weet dit blyk maklik te wees vir diegene van ons wat in die buiteland werk om kommentaar te lewer, maar ons voel die afwesigheid van ons land en ons mense geweldig sterk. Miskien sien ons soms sake van ‘n ander oogpunt wat sommige van ons landgenote nie kan verstaan nie.
Dit moet julle weet: Ons taal bly ons taal. Ons liefde vir ons mense bly dieselfde. Baie van ons is gereed om noodsaaklike bystand te lewer en dit sal help om daardie … “omvattende strategie vir die toekoms …” as ‘n werklikheid te sien. Die plan moet van julle af kom en hopelik sal daar ‘n duidelike en strategiese doelwit wees waarmee ons ons deel kan doen.

Alle sterkte.

P.J. Fourie

Ian ·

PJ? Is Solidariteit se doelwit nie juis om vir die belang van Afrikaners op te tree nie? Jy wil dit nou n ” mixed masala” maak ten einde meer ondersteuners te werf. Ons ” Afrikaners” is moeg daarvoor om met die vyand, die moordenaars van ons volk, te redekawel.

Therese van Schalkwyk ·

Uitstekend, Solidariteit! Voorspoed met die beraad en mag dit baie suksesvol wees. Ons weet hoeveel julle ook doen vir ander groepe en die land kan slegs baat daarby as dit goed gaan met Afrikaners.

Die teenkanting en kritiek uit Afrikaanssprekende geledere is verstommend en onbegryplik. As dit nie Adriaan Basson van Netwerk24 is wat waarsku en beswaar maak nie, is dit Wannie Carstens of selfs Phillip Fourie (hierbo). Dis bv. nie genoeg dat alle histories Afrikaanse universiteite reeds verengels het nie, Solidariteit se Akademia word reeds gebrandmerk as eksklusief nog voordat dit behoorlik op die been gebring is.

SA sit met ‘n staatshoof wat “Kill the Boer” sing en openlik die koms van Jan van Riebeeck vir alle probleme verantwoordelik hou, maar die feit dat Afrikaners strategiese planne wil maak vir ‘n veiliger toekoms, word as problematies en uitsluitend beskou. Waar is al die “goedgesinde mense” uit ander groepe wanneer Afrikaans op alle gebiede so afgeskaal word? As die huidige tendens voortduur, sal daar oor nog 20 jaar nie meer ‘n lesing in Afrikaans aangebied word nie. Weet nie van sommige ander nie, maar vir my as moedertaalliefhebber is dit nogal kommerwekkend.

Dit help nie om so pynlik polities korrek en tegemoetkomend te wees dat Afrikaners “verdwyn” as ‘n groep nie. Afrikaners en Afrikaanssprekendes kan vir hul eie belange opstaan, sonder om ander groepe te benadeel, soos Flip Buys e.a. al soveel maal gesê het. Die toekoms sal bewys dat die “ekskuus-dat-ons-ook-hier-is”-beleid nie gewerk het nie. Oral ter wêreld staan mense vir hul eie groepe op, maar wanneer Afrikaners dit doen, is dit nie goed nie. Dis suiwer snert.

Adryn Maritz ·

Ek stem saam en staan agter my Volk,want ek is “hier” vir Yahweh,my Volk en my Land.Geseënd is die Afrikaner!!Kan ons terug keer na Yahweh en “doen” wat SY Woord sê

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.