Krisisberaad: Só sê beraadgangers


Beraadgangers-by-krisisberaad

Meer as 2000 mense het die Solidariteit Beweging se krisisberaad Dinsdag by die Voortrekkermonument in Pretoria bygewoon. Daar was beraadgangers van regoor die land, selfs so ver as Namibië (Stampriet). Foto: Reint Dykema.

Beraadgangers by die Solidariteit Beweging se krisisberaad wat Dinsdag in Pretoria gehou is, het met groot entoesiasme deelgeneem aan die besprekingsgedeelte van dié beraad. Beraadgangers is gevra om hul standpunt te stel oor die tema van die beraad, “Hier om te bly,” en om positiewe voorstelle vir moontlike oplossings vir krisisse in die land te maak.

Volgens ds. Hannes Noeth van die Instituut vir Christelike Onderwys is roepingsgedrewe onderwys belangrik as Afrikaners in Suid-Afrika wil bly. “Ons moet leer hoekom ons hier wil bly,” het hy gesê. “Dit kan ons vermag deur roepingsgedrewe onderwys.”

ʼn Ander beraadganger, Johnny Zowitsky, het gesê: “My ouers se bloed is in hierdie grond, en my bloed sal daarin wees. Ons sal vorentoe gaan, van krag tot krag.”

Volgens Roelof Lourens is dit belangrik dat elke individu in die land sy deel doen. “Elkeen moet stem in volgende jaar se munisipale verkiesings,” het hy gesê. “Ons moet mense mobiliseer om te stem sodat die ANC se mag in plaaslike regerings gebreek kan word.”

Ook Tonie Meiring van Klerksdorp het gesê elke persoon wat die beraad bywoon, kan en moet insette lewer in die munisipaliteit waarbinne hy val en belasting betaal. Hendrik van der Westhuizen van Waverley het hierby aangesluit deur te sê mense moet paraat wees en betrokke raak by gemeenskapsorganisasies, om te voorkom dat mense vervreemd raak van mekaar. “Maak ʼn verskil waar jy bly. Moenie probeer om die land te verander voor jy ʼn verskil maak waar jy bly nie,” het hy gesê.

Willie Spies, uitvoerende hoof van Radio Pretoria, het dit beaam met dié woorde: “Daar is elke vyf jaar ʼn verkiesing, maar elke dag ʼn uitdaging wat ons as die burgerlike samelewing moet aanvaar. Ons sien kans vir daardie uitdaging.”

ʼn Anonieme spreker het gesê hy het op Tuks studeer, maar is in sy hart, siel en gees ʼn Puk. “Die Afrikaanse karakter van die Potchefstroom-kampus van die Noordwes Universiteit moet ten alle koste behou word,” het hy gesê. “Alumni van elke universiteit moet opgeroep word om deel te neem aan hierdie poging.” Voorts, het hy gesê, moet dit onder die aandag van die wêreld gebring word dat Afrikaners nie ʼn “hierjy-minderheidsgroep” is nie, maar ʼn “eerstewêreld-minderheidsgroep wat verarm is deur die verfoeilikheid van die regering.”

“Ons aanbid die God van Abraham, Isak en Jakob,” het nog ʼn anonieme beraadganger tydens sy spreekbeurt gesê. “Hy is ook die God van die Afrikaners. Kom ons doen ʼn beroep op die Afirkaners om volgende week Donderdag, op Hemelvaartdag, hier by die Voortrekkermonument se Amfiteater bymekaar te kom sodat ons God se naam kan grootmaak en aan Hom die eer kan bring.”

Lourens Taljaard het hierby aangesluit: “Ons staan op heilige grond. In 1936 is die hoeksteen van die Voortrekkermonument gelê waarmee ons gesê het ons glo die God van die Afrikaner leef. Vandag is dit weer tyd om te sê, ons glo Hy leef.”

Volgens Joop Becker van die NG Gemeente Magalieskruin in Pretoria moet die Afrikaner ook holisties dink. “Anton Rupert het gesê, as jou buurman honger slaap, sal jy nie baie langer rustig kan slaap nie,” het hy gesê. “Ons moet dink aan die vestiging van waardes vir ons eie mense, maar ook vir alle mense in Suid-Afrika. Ons moet nie net vaardighede onder ons eie mense ontwikkel nie, maar ook onder ander mense.”

Prof. Koos Malan het afgesluit met dié standpunt: “Wat ná 1994 gebeur het, is dat ons onsself as Afrikaners herontdek het. Strydig met wat soms gemeen word, is die Afrikaner nie leierloos nie – hoegenaamd nie. Daar is leiers van uitstaande gehalte. Die Solidariteit Beweging moet ʼn beweging wees wat leiding neem vir die hele politieke spektrum van Afrikaners.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Susan Lombaard

Susan Lombaard is die uitvoerende hoof van Maroela Media.

Deel van: Meningsvormers, Podsendings, SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

HEVW ·

Lourens Taljaard is reg. Dit is die vertrekpunt van alles Kom ons kyk hoe vaar ons met die maklikste nl. Hemelvaart. Besluit op n tyd waar dit almal sal pas. Dit gaan nie maar net oor wat ons moet doen nie, maar oor hoe ons dit gaan doen. Moet assebblief nie na hierdie beraad in die massa verdwyn nie en daar gebeur net mooi niks. Kom ons wees positief.

HEVW ·

Nee wat, Maroela, dit is baie onaangenaam en teleurstellend. 15 mn gelede kommentaar gelewer en niks gebeur. Hierdie diens verswak. neem waar meer mense kla deesdae.

Johnny ·

Hi susan, net n regstelling ,my naam is Johnny Zowitsky en nie Johnny Sevitski soos berig in artikel by krisis vergadering nie,:-)

Sune van Heerden ·

Dagsê Johnny

Ons vra om verskoning vir die fout! Ons het die regstelling aangebring.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Tokkie ·

Alweer selfaangestelde leiers uit die ryk kringe vir die rykes wat nie ‘n mandaat van die gewone arm mense soos ek het om namens my te besluit nie – en ek ondersteun julle beslis nie want julle is steeds hand om die blaas met my Volk se rugsteker nl de Klerk daarom sal ek Front Nasionaal stem as ek sou besluit om wel te stem.

Lelanie ·

Dit is jammer dat jy daai holruggeryde leuen glo. Die beweging het GEEN affiliasie met de klerk nie en dit is al telkemale gesê, maar niemamd is so doof soos die een war nie wil hoor nie…

Wens die wat hierdie valshede versprei wil bietjie weer die 9de gebod gaan lees

Tokkie ·

Fotos lieg nie of dink jy dit was ge”photo shop” waar Flip Buys en de Klerk sy aan sy saam in Brussel is.

Chris ·

Tokkie dit is houdings soos joune wat maak dat die Afrikaners verskeured sal bly. Jy is negatief kerm oor alles en kla die hardste as iets verkeerd loop. As jy beter kan doen staan dan op en doen, wys ons jy het ‘n rugraat, maar jy kan nie ne. Jy sit en kyk vir ander om jou lewe beter te maak. Die mense doen ten minste iets, wat doen jy van jou kant af. Kry lewe man belsuit of jy wil help bou of eerder wil afbreek en jouself wil bejammer en in ‘n hoekie wil sit en kerm. Stop jou negatiwiteit want elke stem wat jy nie uitbring nie stem jy vir die ANC en stem jy saam met wat hulle doen. Hou nou op om in die verlede te leef en kyk vorentoe.

Tokkie ·

Chris jy ken my nie so hou jou mond oor my en lewer kommentaar op die berig. Ek doen meer as wat jy van weet ek loop net nie en brag daarmee nie. En ek loop nie die pad saam met verloopte Afrikaners soos jy of FW de Klerk en sy aanhangers nie.
En as ek stem sal dit definitief FN wees sou hulle in my area ‘n kandidaat het.

Tokkie ·

Maroela laat ek weer prober.

Chris – elke mens het die reg op sy/haar opinie, maar tipies jou sort is dit net JOU opinie wat kamtig reg is. Jy ken my nie so hou jou mond van my af en lewer kommentaar op die berig. Ek doen meer as wat jy van weet (vir my mense) ek loop net nie en brag daaroor nie (wat doen jy) Verder verkies ek om nie ‘n pad saam met verloopte Afrikaners soos jy te stap nie en as ek stem sal dit DEFINITIEF FN wees sou hulle ‘n kandidaat in my area laat staan. Ek neem ook liewer uit die verlede en bou ‘n toekoms daarmee as om uit jou huidige lewe te neem en niks daarmee te kan doen of bereik nie…

Conrad ·

Ek kom agter die afgelope tyd dat baie mooi goed gesê word deur baie mense. Altyd, ons moet dit doen en dat doen. Ek is jammer, maar ek is nie meer so positief in my hart soos ‘n paar jaar gelede nie. Ek dink dat die politiek vandag nie meer die Afrikaner wil ondersteun of hier hê nie. Ja, nou sal baie sê dat as mens so dink, gaan niks gebeur nie. My vraag is, wie in die regering van vandag gaan hom aan die Afrikaner se behoeftes en sê steur? Ons kan doen wat ons wil, behalwe om vir die regte party te stem, maar niks gaan met die huidiglike regering gebeur om ons omstandighede te verbeter nie. Ons moet eerder nie net mooi praatjies en mooi goed sê op sulke berade nie, maar eerder mense aanmoedig om reg te stem (wat dan seker aan die ou einde van die dag die doel is). En aan die ander kant is ons ook bietjie aan die min kant om ‘n baie groot verskil te maak. As ek na die foto in die artikel kyk, sien ek net wit mense. Daar is mos ander mense ook in ons land wat Afrikaans praat, wat Afrikaans groot geword het en waarvan Afrikaans hul moedertaal is. Waar is hulle? Met hulle saam, dink ek, het die Afrikaner ‘n baie groter kans om iets reg te kry. Ek dink ons moet net die rasse-ding bietjie opsy skuif wat hulle aanbetref.

Armando Pellencin ·

Dit is so, Conrad. Baie louwarm wind is gemaak, en niks het daarvan gekom nie. Maar ons moet tog êrens begin! So, kom ons kyk of Flip Buys-hulle iets gaan regkry. Ek is persoonlik baie bemopedig deur dit wat ek daar gesien het. Ek wil ook noem dat ek aangesluit het terwille van die paar rand wat ek kan gee, want sonder geld gaan ons nêrens kom nie. Ek dink jy moet dit ook doen as jy dit nog nie gedoen het nie. Wat betref die ander Afrikaanssprekers, die deure was wawyd oop, en ek het juis ‘n paar gesien daar, nog ‘n bemoedigende teken. Skep moed.
Armando

Johan ·

Ai Tokkie as jy so vuurige en “duidelik betrokke” FN ondersteuner is hoekom staan jy nie maar as “Kandidaad” nie. Conrad ons praat nie net Afrikaams nie maar is Afrikaners en is as n wit ras (deur die regering) geklassifiseer, so ek verstaan nie heeltemal wat jy wil hê “ander mense” (soos jy dit noem) daar moes doen nie? Ons moet ophou dink ons moet nog onderhandel vir bestaansreg by “ander mense” ons moet aandring daarop…

Dirk Breytenbach ·

Johan uitstekend opgesom, ons het niemand se toestemming nodig om onsself as volk uit te leef nie daarvoor het ons reeds duur betaal.

Gezina Uys ·

Eerstens wil ek sê dat ek gister by die Krisisberaad was en dit baie opbouend gevind het. Ek stem saam met al die mosies en hoop werklik dat ons mense saam sal staan en doen wat ons kan om mekaar te help.
Maar daar was ‘n spreker wat weereens vir FW de Klerk al die skuld gegee het vir alles wat verkeerd is. Dis so ‘n onnodige stelling. FW het beslis nie ALLEEN die besluite geneem nie! Die meerderheid Suid Afrikaners het saam met hom gestem.
Dit help niks om verwyte rond te slinger nie, dit verbeter niks! Wat gebeur het, is verby! Nou moet ons vorentoe kyk en doen wat ons hand vind om te doen om sodoende ons situasie te verbeter.

Johan ·

FW het nie alles alleen gedoen nie maar hy was verandwoordelik en is vir ons die simbool van die’ krisis wat onsbeleef. Het Nelson alles alleen gedoen, en tog kry hy al die “eer”…

Eric de Jager ·

Geskiedenis, Geskiedenis, Geskiedenis!!! Ek kan nie genoeg klem daarop lë nie, ons kinders het geen idea van ons fantastiese en ryk Afrikaaner/Boer geskiedenis nie. My dogters se skool sillabusse is oorlaai met subtiele propoganda.
As ons weer kan trots voel oor al die goeie en fantastiese prestasies wat ons voor ouers behaal het. Sal ons verstaan waarna ons nou streef en die betekenis van ons planne, i.p.v. ons rug draai op hierdie pragtige land wat aan ons ALMAL behoort!

Hendrik ·

Volgens my gaan die oplossing van ons probleme buite-parlementer wees. Druk van burgeregtegroepe soos Afriforum, VVK ens. op die regering is die oplossing.

Theo ·

Hendrik, jy slaan die spyker op die kop. Tokkie, jy is een van ons soos alle ander Afrikaners, al verskil ons. Dit is goed om te verskil solank ons net n gesamentlike doel ten oog het.

Lukas Zietsman ·

Op ‘n stadium raak ‘n mens moeg. Dan wil jy nie meer hoor en sien nie. Nie meer as mens en volk verneder word en skuldig voel nie, nie meer met rompslomp stoei wat in kannie gesetel is nie. Ons woon in die VSA, vry van viesraak, misdaad en onvermoe. Verlang terug, soos ons voorsate seker maar. Op ons oudag het ons rus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.