Krisisfonds help duisende ondanks slenter

Francois Redelinghuys

Die Solidariteit Beweging het dit vandag opnuut benadruk dat dié organisasie en die Krisisfonds wat hy ten tyde van die nasionale staat van inperking op die been gebring het geensins deel is van of verwar moet word met die regering se “Solidarity Fund” nie.

Dit volg nadat ʼn slenter onlangs versprei is wat die Solidariteit Beweging op omstrede wyse met die regering se Solidarity Fund probeer koppel.

Volgens Francois Redelinghuys, kommunikasiebestuurder van die Solidariteit Beweging, het dié beweging die Krisisfonds aan die begin van die inperkingstyd op die been gebring om mense in staat te stel om ander te ondersteun wat weens die inperking swaar getref is.

“Die Beweging se fokus was nog altyd om ʼn beweging vanuit die gemeenskap vir die gemeenskap te wees, en in hierdie tyd was dit noodsaaklik dat die Solidariteit Beweging steeds tot die gemeenskap verbind was.

“Die Beweging se fonds het derhalwe ʼn ander fokus en doel as die regering se Solidarity Fund. In tye soos dié is gemeenskapsfondse noodsaaklik omdat antwoorde nie net van die staat se kant kan kom nie,” het Redelinghuys benadruk.

Volgens Redelinghuys is die Krisisfonds deur die Solidariteit Helpende Hand geadministreer en kon die organisasie danksy die fondse wat ingesamel is sowat 22 500 gesinne en 2 000 instellings bystaan.

“Deur ʼn slenter oor gemeenskapsinisiatiewe soos die Krisisfonds te versprei, doen nie net afbreuk aan die enorme verskil wat die fonds teweeggebring het nie, maar dit werp ook ʼn skadu oor die gemeenskap se ywer vir die saak,” het Redelinghuys gesê.

Volgens Redelinghuys is die Krisisfonds deur Solidariteit Helpende Hand se ouditeure geoudit, terwyl ʼn spesiale oorsigkomitee toegesien het dat alle fondse reg aangewend word om die beste hulpverlening aan weerlose gemeenskappe te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.