Kristian Prinsloo vandag begrawe

Kristian Prinsloo. Foto: Facebook

Kristian Prinsloo (12), die skoolseun wat in April deur ʼn leeumannetjie aangeval is, word vandag begrawe.

Kristian word vandag ter aarde bestel en die gedenkdiens word uit die Lewende Woord Centurion-gemeente gedoen.

Sy pa, Herman, het op Facebook geskryf: “Hemelse Vader. Vandag wil Adri en ek bid vir krag, vrede en vertroosting, nie net vir onsself nie, maar vir Marie Strydom, Cor & Alet Vos en hulle gesin, al ons familie, al ons vriende en ons nuwe elektroniese familie. Here, op hierdie dag van hartseer waar ons Kristian se liggaam tot ruste gaan lê, dat U ons harte ook sal vul met vreugde, want ons weet ons geliefde seun is by U. Here, laat hierdie dag ʼn viering wees van ʼn lewe te midde van die hartseer. Here, dankie vir u genade, krag, vertroosting, vrede, liefde en vreugde wat U in oorvloed oor ons giet. Here, ons dra hierdie dag aan U op en laat dit in u Almagtige hande en vra dat U hierdie dag en almal wat saam met ons is, sal seën. Amen.”

Kristian het onlangs sy 12de verjaardag in die Mediclinic Muelmed in Arcadia, Pretoria, deurgebring waar hy behandel is sedert die voorval op 8 April. Hy was sedert die leeuaanval in ʼn koma en het ook bronchitis opgedoen.

Maroela Media het vroeër berig Kristian is op ʼn landgoed naby Lephalale (Ellisras) in Limpopo deur ʼn leeumannetjie aangeval. Marie Strydom (75), Adri se ma, het die leeu van Kristian afgestoei.

Kristian, ʼn gr. 6-leerder aan die Laerskool Louis Leipoldt, het oudergewoonte dié skoolvakansie by Strydom in Lephalale gaan kuier waar die tragedie hom afgespeel het.

Lees alle vorige berigte oor Kristian Prinsloo op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Liza ·

My hart is so seer, dink aan julle as ouers, dis niks lekkers om ‘n mens se kind aan die dood aftestaan nie…..my hart huil saam julle, sterkte vorentoe……Net God kan julle krag gee.
RUS SAGGIES KRISTIAN

Willa ·

As ‘n vrou wat self nie ‘n kindjie kon hê nie, breek my hart in ‘n miljoen stukke vir hierdie ouers!! Hoe moeilik die pad ookal vorentoe – hulle sál krag ontvang!!!!

Uvonka ·

Woorde is min maar weet asseblief ons dink aan julle. Mag julle al die krag, vertroosting en berusting kry van ons Hemelse Vader! Baie liefde en sterkte.

VanAfrika ·

Dit is so hartseer. My tweede seuntjie sou 19 April 22 jaar oud gewees het en al die wat sou en wat as hou nooit op nie.

Uvonka ·

Jammer om te hoor van jou tweede seuntjie, mag jy ook berusting vind.

roelien ·

Liewe Jesus sal julle die krag en genade skenk in hierdie hartseertyd

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.