Kritiek-beseerde kleuter wakker in hospitaal

Jayden Helberg in die hospitaal. Foto: Facebook

Jayden Helberg, die kleuterseuntjie van Pretoria wat Donderdag kritieke beserings by sy skool opgedoen het, se toestand het verbeter en hy maak al sy oë oop.

Jayden se ouers, Werner en Charlene, het op die Facebook-blad wat op die been gebring is om mense op hoogte te hou van Jayden se vordering gesê dokters is tevrede met Jayden se vordering waar hy in die waakeenheid van ʼn hospitaal behandel word.

“Jayden is wakker, sy hartkloppie is reg en sy bloeddruk is reg. Hy is steeds op ʼn ventilator en sy longetjies word behandel, maar ons bly glo en vertrou. Jayden lê vanoggend met oop ogies en staar. Dankie Jesus, hy is wakker en reageer!” lui die inskrywing.

Maroela Media het vroeër berig Jayden het na bewering seergekry toe ʼn sementwasbak by sy skool op hom geval het. Werner wou egter nie Sondag meer besonderhede oor die ongeluk aan Maroela Media bevestig nie en het gesê hy en sy vrou wil nou eers op hul seun se herstel fokus.

Een van Jayden se longe het ná die ongeluk platgeval en hy het ʼn infeksie in dié long opgedoen.

Volgens die inligting op die Facebook-blad is daar vanoggend ʼn sonar van Jayden se hart geneem en is die dokters tevrede. Daar word nog gewag op bloeduitslae om te bepaal of sy hart skade opgedoen het. “Dokters sê dit gaan ‘n tydjie vat, maar hulle is positief oor Jayden se vordering tot dusver,” sê die Helberg-egpaar.

“Baie dankie vir elke gebed, boodskap en omgee. Dit word opreg waardeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

felicia ·

ONS DIEN N ALMAGTIGE VADER.AMEN. VEG MANNETJIE JY KAN. JOU MAMMA EN PAPPA WAG VIR JOU OM HUIS TOE TE GAAN SAAM HULLE

Leatitia ·

Amen dankie Here.Sterkte aan die Helberg Famielie ons bid saam julle en vertrou op volkome genesing

Tina Swart ·

Ons wil net Onse Vader Dankie Sê vir wat hy vir dir kleinding doen Alle sterkte.

Gina ·

Dankie Here vir U hand van genesing oor hierdie seuntjie. Ek dink Kersfees gaan hierdie jaar sommer ekstra spesiaal wees vir hierdie gesin uit dankbaarheid vir die seuntjie se herstel. Ons grootste Kersgeskenk is ons geliefdes by ons en goeie gesondheid.

Ella Bella ·

Ons dien ‘n wonderlike en almagtige God. Ek haal ook my hoed af vir die ouers wat op hulle kind konsentreer en nie in ‘n sosiale media geveg betrokke raak met die skool oor die ongeluk nie. Dit verdien respek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.