Kritiek oor Prasa-lokomotiewe het ‘rasse-ondertoon’

Foto: @POWER987News/Twitter

Foto: @POWER987News/Twitter

Kritiek oor die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) se nuwe lokomotiewe, wat in Spanje vervaardig is, het ʼn rasse-ondertoon, het Prasa se uitvoerende hoof Maandag gesê.

“Daardie grafika [wat in Rapport verskyn het] het nie ten doel gehad om die lesers van Rapport te bemagtig nie, maar was gerig daarop om emosies met rasse-ondertone op te wek, soos dié wat ons gister gelees het,” het Lucky Montana aan verslaggewers in Pretoria gesê.

“Ek lewer vandag moontlik my laaste openbare kommentaar oor die aangeleentheid. Hopelik sal dit ná vandag ʼn rasionele en ingeligte gesprek raak eerder as die skreeugeveg wat ons tans sien en ongelukkig nie voor tyd het nie. Ons energie sal gebruik word op die regte kwessies te beveg.”

Prasa het talle joernaliste Maandag genooi om met die nuwe Afro 4000-lokomotiewe te ry nadat daar die afgelope tyd berig is dat die lokomotiewe nie gepas is vir die Suid-Afrikaanse infrastruktuur nie, aangesien hulle glo hoër is as die voorgeskrewe hoogtebeperkings.

“Een van die groot dinge wat my baie teleurgestel het is die feit dat toe Rapport die berig, wat ons steeds as ‘n baie verkeerde, uiters onakkurate artikel oor ons treine beskou, geplaas het, het hulle in plaas daarvan om verantwoordelikheid te neem en kwessies te hanteer, hul sustermaatskappye  gemobiliseer om verskillende dinge te doen. Vir my het dit die netwerk wat tans in werking is, blootgestel,” het Montana gesê.

“Die artikel was nie net onregverdig nie maar ook verkeerd met die skreeuende opskrif dat dit die grootste tenderblaps van ons tyd was. Wat my bekommer, uit ʼn leierskapsoogpunt, was die terugvoer op Netwerk24 en News24. Ek was geskok deur die rassistiese ondertone van die terugvoer. Toe ek die terugvoer gister gelees het, het ek besef ons het ʼn groot probleem.”

Mosenngwa Mofi, hoof van Prasa, het vroeër Maandagoggend gesê die gaping tussen die minimum kontakdraad en die dak van die lokomotiewe oorskry die 150 mm wat in veiligheidsregulasies voorgeskryf word.

“Die bewerings in gister se Rapport en City Press is ’n opvolg op die redelik feitelik-verkeerde berig wat op 5 Julie 2015 in Rapport geplaas is,” het Mofi gesê. “Prasa beskou hierdie volgehoue aanval en verkeerde inligting in ’n ernstige lig, aangesien dit daarop gemik is om ’n baie belangrike belegging om die vervoerstelsel te verbeter en die reiservaring van Suid-Afrikaners vir ewig te verander, ondermyn.”

Mofi het gesê die lokomotiewe “voldoen ten volle” aan die toepaslike veiligheidstandaarde. “Prasa wil sy stelling benadruk dat die minimum gaping tussen die kontakdraad en die dak van die lokomotiewe veel groter is as die minimum aanvaarbare klaringhoogte van 150 mm soos voorgeskryf en dit is dus veilig om onder elektriese kontakdraad met ’n minimum hoogte van 4,5 m te bedryf,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Gerhard ·

Wel, ek en meneer Mofi is dit oor een ding eens: die gehalte van joernalistiek in die hoofstroom Afrikaanse koerante is werklik beroerd.

MJL ·

Kom Rapport. Vra om verskoning as julle verkeed berig het of kom met bewyse dat julle korrek berig het.

Armando ·

Rapport en sy napraters in die M24-stal sal, moet, enige iets vind om emosies by blankes op te jaag sodat hulle koerante kan verkoop. Ongelukkig is dit al waaroor dit gaan: verkoop van koerante. So, Rapport, sê vir ons, wie het die rassekaart dié slag gespeel? As die lokomotiewe reg is, is hulle reg, klaar en uit! En as die ou met die snaakse naam sê dat hy ‘n rasseondertoon bespeur is hy reg. As die loko’s reg is, is hulle reg. Nie dat ek nie deel van die spel wou gewees het nie: ek is wel ‘n BScIng en sou graag daaraan wou meedoen. steeds, reg is reg, en verkeerd verkeerd.

CHRISTA ·

Hierdie lokomotiewe-storie het dieselfde ondertoon as die wapen-storie. Vir DEKADES het ons ons eie lokomotiewe gebou soos ons ons eie wapens vervaardig het. Hoekom kan dieselfde nie onder die ANC se bewind gedoen word nie of het hulle ook almal wat die nodige kennis en opleiding gehad het afgedank (omdat hulle blank was)? Dieselfde geld vir ons kragvoorsiening. Zuma wil Rusland nou kry om ons kragstasies te bou (ons het dit altyd SELF gedoen)!! Hoeveel gaan Zuma self uit hierdie ooreenkomste maak?

Absolute verbasing ·

Wel slaan my pap met ‘n nat vis…ek gaan ‘n hartaanval kry vanweë absolute onverbasing. Wag daarvoor….hier kom dit…(dromrol) DIE RASKAART.

Die einde.

Ed ·

Wat is nou die waarheid oor die trein?. Die artikel het genoem dat die man van Rasa glo die treine self ontwerp het. Kom nou, gee ons die waarheid Rapport. Julle eerbaarheid is op die spel.

Gerhard ·

Ed, mnre Rapport het lankal nie meer ‘n greintjie eerbaarheid nie. Niks.

Hendrik ·

Ons sal sien..Ons wag geduldig..Pappie het al hierdie dinge gesien in S.A. Oral….

Peet Schabort ·

Wonder wat sou Jan van Riebeeck hiervan gesê het . . .

Pieter Muller ·

Ek was so twee maande gelede in gesprek met die bemagtigings-maatskappy wat hierdie tender beklink het.
Het na die tyd vir al my kollegas vertel van die mense wat ek daar ontmoet het, seker die beste voorbeeld ooit van die “Dunning Kruger” effek!

Gerhard Bezuidenhout ·

Ek lees vanoggend elders dat daar op sekere plekke drade gelig sal moet word dat die treine kan loop. Kom ons hou maar die spasie dop want daar gaan nog n hele paar ander goggas uitvlieg . Die aangeleentheid lyk net te verdag.

Estelle ·

Ek is dit eens oor beriggewing in die Afrikaanse pers. Hulle skryf sensasie om nie onder te gaan nie en onderskat die intelligensie van die bree publiek.
Dus gaan intelligensie se vertroue verder en verder wegbeweeg.
Hulle gee nou al Huisgenoot weg op Sondae.
Iets is slegs waar as dit waar is. PUNT.

Bruno Stef ·

Dit is algemene kennis dat die bo-baan geleiers aan uitsetting en inkrimping onderworpe is en dat dit voor die nuutste debakel voldoende was om aan die standaarde van die veiligheids regulasies te voldoen.Ons moet net onthou dat die bo-baan geleiers ook nie soos n kitaarsnaar gespan kan word nie en dat daar in baie gevalle n werklike probleem gaan ontstaan wat vorentoe n kopseer kan word.

pop ·

Nou vroeg een oggend toe vertel die meneer die treine is doodreg en hulle is almal op dreef. Gisteraand op die nuus word daar gese die treine het verstelwerk nodig. Duh huh, en nou wag ek vir die volgende instalment.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.