Kroeg by Harties-kabelspoor in brand verwoes

Die uitkykkroeg aan die bo-punt van die Hartebeespoortdam-kabelspoor in vlamme gehul. Foto: Facebook

Die uitkykkroeg aan die bo-punt van die Hartbeespoortdam-kabelspoor in vlamme gehul. Foto: Facebook

Die bekende uitkykkroeg aan die bo-punt van die Hartbeespoortdam-kabelspoor op die Magaliesberg in Noordwes is Saterdagaand deur ʼn brand in puin gelê.

Iain David Gunn, algemene bestuurder van Aerial Cableway, het Sondag aan Maroela Media gesê die kroeg is tydens ʼn erge storm deur die weerlig getref en heeltemal in die brand verwoes.

“Omstreeks 16:45 het hier ʼn groot storm oor die Magaliesberg aangekom en dit het pikdonker geraak. Ons het die sirenes aangesit en almal van die berg af laat kom. Die volgende oomblik het dit begin stormreën en haelkorrels so groot soos krieketballe het neergeslaan,” het hy vertel.

“Teen 18:30 is al die mense hier weg en niemand was meer bo-op die berg nie, behalwe vir die twee veiligheidswagte wat aan diens was. Ek het net my mense klaar afgelaai, toe bel die wagte my en sê die uitkykkroeg brand.”

Gunn het ʼn groep van sy personeel laat weet om te kom help en die brandweer is ook ontbied. “Ons het eers gekyk of die kabelspoor veilig was om te gebruik en gesien die spoor en kabelkar het glad nie skade gely nie, dit was net die kroeg wat gebrand het. Ons kon dus van die mense en brandbestryders teen die berg opneem en almal het onverpoosd gewerk om die vuur te blus,” het hy gesê.

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Volgens Gunn kon die brandweer daarin slaag om die vuur te blus voordat dit na enige ander deel op die perseel versprei het, maar die kroeg en volledige inhoud is heeltemal verwoes.

“Ons was vroeg vanoggend [Sondag] weer hier om inspeksie te doen, die gebrande gedeelte af te sper en seker te maak dat die perseel veilig vir besoekers is. Alles gaan voort soos normaal, die kabelkarretjie is operasioneel en die restaurant en wegneemete-plekke is almal oop. Ons dryf handel soos voorheen.”

Hy het gesê die presiese omvang van die skade is nog nie bepaal nie, maar daar word beplan om die kroeg so vinnig as moontlik te herbou en te heropen.

Gunn het gesê hy is dankbaar dat niemand in die brand beseer is nie. “Hierdie goed gebeur, ʼn mens hanteer dit en gaan aan,” het hy gesê. “Ek is so oorweldig deur die wonderlike ondersteuning wat ons van oraloor kry. Dit is net ongelooflik om te sien hoe mense ingespring het om te help. Hierdie dorp is nie net inwoners nie, dit is soos een groot familie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

DPJ ·

Dit is wonderlik almal saam werk en geen rassime kom navore.
Sterkte met die herbou.

SW Burger ·

Voeg by: “Genoegsame weerligafleiers” korrek geinstalleer.

Peet Schabort ·

Jy is reg EMK hulle doen dit ná die tyd en nie vóór die tyd. So werk dit ook met huisinbrake ens. Dan skielik weet hulle hoeveel miljoene jou rare goed werd is. Ook na die tyd vind jy uit dat jou diefwering nie op standaard is/was.

Theo ·

Ja versekering is ‘n fantastiese ding – dit dek jou gewoonlik vir alles waaroor jy nie eis nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.