Krokodil byt meisie: ‘Ek was bang ek gaan dood’

Hes-Marie van Loggerenberg (Foto: Verskaf)

Hes-Marie van Loggerenberg, die meisie van Swartruggens wat Woensdagmiddag deur ’n krokodil aangeval is, het gevrees dat sy sou doodgaan. Te danke aan vriende en familie wat als in hul vermoë gedoen het om haar lewe te red, word dié 15-jarige amper weer uit die hospitaal ontslaan.

Hes-Marie het aan Maroela Media vertel hoe ’n Nylkrokodil haar in die swemgat in die Elandsrivier aan die linkerbeen gegryp en in die water probeer insleep het. “Ek was nie eens van plan om te swem nie. Ek het skaars in die water ingegaan, toe ek voel ek trap op iets.” Sy het probeer wegruk toe die krokodil haar skielik oorval het.

Gert Botes, wat sowat 200 m van die swemgat af woon, het skielik gille vanaf die rivier gehoor. Botes en nóg inwoners wat daarnaby woon, het hulle in die rigting van die gille gehaas.

“Toe ek daar aankom, sien ek die krokodil het haar al sowat 5 m in die rivier ingetrek. Net haar kop en skouers het uitgesteek. Sy het my gesien en geskree: ‘Ek wil asseblief nie doodgaan nie, oom Gert,’” vertel Botes.

Botes het kop gehou en Hes-Marie begin kalmeer. Hy en sy 16-jarige seun, Fanie, het die krokodil met klippe begin gooi. Leon van Niekerk en Hennie van der Merwe, ook inwoners van die omgewing, het alles probeer om hulp te bied.

“Die krokodil was besig om te draai om daardie death spin te gee. Gelukkig was haar een voet vasgedruk op die grond om te keer dat hy haar heeltemal intrek,” vertel Botes.

Hes-Marie se ouma, Susan van Loggerenberg, vertel hoe Nelson Harmse, een van hulle werkers, ʼn stok gegryp en na Hes-Marie uitgehou het. Hy het vir haar gesê om die krokodil te skop en die stok te gryp. Sy het die krokodil met haar een been, wat los was, probeer skop. Hy het sy bek oopgemaak en hulle kon daarin slaag om haar uit te trek. Van der Merwe het Harmse gehelp om haar uit te trek.

“Ek skat daardie outjie was omtrent 100 kg en 2 m lank,” vertel Botes.

Botes vertel hy moes Hes-Marie heeltyd wakker hou. “Sy het gekla sy is vaak en dat sy wil slaap. Ek het vir haar gesê om nie aan die slaap te raak nie.”

Marius Vermeulen, ook ʼn inwoner van die omgewing wat opgelei is in noodhulp, het Hes-Marie se wonde probeer verbind.

Cinda de Klerk en Dirk Janse van Vuuren van Bakwena Rooikruis-reddingsdienste het ook na die toneel gehaas. “Die wond was omtrent ‘n vuisgrootte hap uit haar been uit. Daar was gelukkig nie ernstige bloeding gewees nie. Dit lyk darem of geen hoof-aar raakgebyt is nie,” vertel De Klerk.

Sy is na ʼn plaaslike hospitaal in Rustenburg geneem. Haar wonde is Donderdagoggend skoongemaak en hulle het haar linkerkuit, wat verskeur is, met steke geheg. Haar verbande word Sondag afgehaal.

“Ek is dankbaar die Here het my lewe gespaar. Ek is dankbaar vir almal wat my lewe gered het,” sê Hes-Marie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Johannes ·

Ek het ook gewonder hoekom het die krokodil ‘n bors wat breër is as die rivier…
En hoekome het die inwoners hom nie eenvoudig geskiet nie?

Megan Swart ·

Dagsê Mari
Dit was inderdaad ‘n fout. Ons vra om verskoning vir die flater. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Frans ·

Ek glo dit is net ‘n vingerfout. Dit behoort 300-350mm te lees.

Leser ·

Genade Mari en Johannes….dis seker cm…seker net ‘n ou tikfoutjie!

Johan ·

Ek is ons Hemelse Vader dankbaar die meisie se lewe is gespaar. Sterkte jong dame, ek wens jou n spoedige en algehele herstel toe.

ProotGraat ·

Mense wat duidelike foute so ernstig opneem … Ai toggie. Bitter bly die meisiekind is ok.

Judge Dredd ·

Ja, ons moet nie media foute bevraagteken/uitwys – dit maak fopnuus soveel moeiliker…

Heksie ·

ja nee, kyk ons nou volkie is almal seker en wiskundige genies, wat nooit foute maak nie.
Net bly die kind is basies ongedeerd

Ounooi ·

Dank die Heer! Sy genade was baie groot… Groot saak is nou dat daardie wond nie infeksie moet kry nie. Ons weet dat tande, en dan seker veral krokodiltande, vol gevaarlike goggas is. Vertrou daar word baie mooi na Hes-Marie wond omgesien totdat dit gesond is.

tertia human ·

Hennie van der Merwe wil jy my nie asb skakel nie 0727974978 – dankie

Herman van Staden ·

Ek is ook bly. My vraag is, hoort die krok daar of het hy iewers ontsnap.

SJ Kleynhans ·

Kannie sê dat hy nie daar hoort nie. Dis n krok en dis n rivier.

Maar, daar was nog nooit Krokodille daar nie. Ons swem al van kinders af in Swartruggens dam. Hy moes uit aanhouding gekom het

Lizzy ·

So ń pragtige, lewenslustige, meisie. Baie dankbaar teenoor d Here dat sy leef en dankbaar vir d mense wat haar kon help.

Susan ·

Sjoe die berig klink meer na ‘n poging om die hele gemeenskap te noem en elkeen te prys vir sy besondere heldhaftigheid as om die storie te vertel!

koos ·

Die mense se heldhaftigheid is die storie! Wees liewer bly as om sulke aanmerkings te maak.

Lelike afrikaners ·

So bly hierdie meisie is veilig!! Ek lees baie berigte van Maroela, geniet dit baie, bid baie, huil baie. Ja ons lewe is vol gevare. Ja ons Suid-Arikaners kry swaar en gebuk onder geweldige stres faktore. Wat my by omtrent 90% van die tyd opval is mense se opmerkings. Genade hê tog empatie, wees genadig teenoor Maroela en hou op mense kritiseer! Julle walg my met die kommentaar. Ek ruik ‘n rot…. en en en.

Dankbaar ·

So dankbaar ???? Kan NIE myself in dié meisie se kolossale skok indink nie, sy was braaf en sterk sal haar mooi moet versorg om wond se genesing te versnel, sterkte vir liggaam-en geestelik volkome herstel.

se maar net ·

wow klink soos iets uit n movie medaljes vir elkeen wat daar was om haar te help eendag sal sy besef wat regtig met haar gebeur het n fasanineerende ware lewens drama wat sy kan oor en oor vertel vir die res van haar lewe

Gesiggie ·

Sjoe wat n mooi verhaal… jy was n dapper meisie Hes-Marie en dankie aan al die mense wat vining gedink het en die regte ding gedoen het. Jesus het sy hand oor jou gehou…kon dink wat als deur jou gedagtes moes gaan. So dankbaar jy is ok en hoop dat jy gou sal herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.