Kroondal-plaasaanval: Verdagte vas

Die toneel by ‘n plaasaanval in Kroondal buite Rustenburg. (Foto: ER24)

’n 26-jarige man is in hegtenis geneem in verband met die onlangse aanval op Irene Muhl in haar plaashuis op Kroondal in Noordwes.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het Woensdagmiddag aan Maroela Media gesê die betrokke verdagte is Dinsdag in die informele nedersetting Matebeleng in Kroondal in hegtenis geneem.

Volgens Mokgwabone sal die verdagte binnekort in die landdroshof in Rustenburg verskyn op aanklagte van poging tot moord en huisroof.

Maroela Media het vroeër vandag berig Muhl (64) word in die hoësorgeenheid van ’n hospitaal in Rustenburg behandel nadat sy verlede Woensdag in haar en haar man se plaashuis oorval is. Sy is op haar eetkamervloer aangetref en het verskeie steekwonde aan haar kop, bene en arms gedurende die aanval opgedoen.

Kapt. Elsabe Augoustides, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê Irene se man, Mark Muhl, het die betrokke dag omstreeks 08:15 ’n oproep van die sekerheidsmaatskappy wat hul plaas bewaak, gekry wat hom ingelig het dat iemand die noodknoppie in hul huis geaktiveer het.

Volgens Quintin Muhl, Irene se seun, het sy ma sedertdien ortopediese chirurgie aan haar gewrig en arm ondergaan. Irene se arms is nou in gips en sy ontvang fisioterapie.

’n Skootrekenaar en ’n bergfiets is gedurende die voorval gesteel.

Dit is nie in die stadium duidelik of die polisie op die spoor van nog verdagtes is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Knowitall ·

Ek hoop die regter se vonnis maak ‘n voorbeeld van die skurk.

Johann ·

Hoekom stel Afriforum of iemand nie al die jong blankes wat op straat bly aan om saam die ou mense op die plaase te woon nie, die kan help om wag te wees in die aande, kan n dak oor hulle koppe he, n bord warm kos en moontlik n klein salaris. Die mense kan selfs opleiding kry en help waar nodig. Sien al hoe meer mense op straat, kan moontlik n oplossing wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.