Kroonstad-vrou dood aangetref in ouerhuis

Engelé Rossouw (regs) saam met haar sussie Zanelle Wessels (links) en hul ma (Foto verskaf aan Maroela Media)

Engelé Rossouw (regs) saam met haar sussie Zanelle Wessels (links) en hul ma (Foto verskaf aan Maroela Media)

Engelé Rossouw (47), die bestuurder van die Shalom-gastehuis in Kroonstad, is vroeër die week dood aangetref in haar ouerhuis in Kroonstad in die Vrystaat.

Zanelle Wessels, Engelé se suster, het Woensdag aan Maroela Media gesê haar ma het Vrydagaand nog met haar sussie gesels. “Ons het die Saterdagmiddag ʼn SMS vir haar gestuur, maar niks van haar gehoor nie. Ek het haar die aand ook probeer bel, maar kon nie antwoord kry nie. Toe ons Sondagoggend nie ʼn ‘geseënde Kersfees’-SMS van haar ontvang nie, het ons onraad vermoed en die polisie in kennis gestel,” het Zanelle verduidelik.

Engelé het saam met haar ma in die huis gewoon, waar haar ouers al meer as 45 jaar lank woon.

Haar ma is vir die vakansie saam met Zanelle en haar gesin na hul strandhuis in Groot-Brakrivier. “Engelé kon nie self saamkom nie. Sy wou in Kroonstad bly om na die gastehuis om te sien.”

Veiligheidswagte by die munisipaliteit in Mahokeng het intussen Sondag onraad vermoed oor ʼn wit Volkswagen Jetta wat by die kantoor parkeer gestaan het.

“Die polisie het bevestig dit is my ma se motor en hulle wou die motor insleep na die polisiestasie om verdere ondersoek in te stel en vingerafdrukke te neem. Hulle is na die huis om die motor se sleutel te gaan haal en het met ons toestemming by die huis ingebreek om die sleutel te kry. Daar het hulle toe op my sussie se liggaam afgekom.”

Sers. Sam Gaobepe, woordvoerder van die polisie in Kroonstad, het aan Maroela Media gesê hulle het Rossouw se liggaam in die bad gevind. “Sy het ʼn plastieksak oor haar kop gehad en is daarmee versmoor,” het Gaobepe gesê. “ʼn Veiligheidswag word intussen ondervra, maar niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie.”

Volgens Zanelle het Engelé haar pajamas aangehad en haar hande en voete was ook vasgebind. “Die polisie beskryf dit as ʼn ‘skoon’ moord. Daar is geen geforseerde toegang nie en die moordenaar het weer alles na die tyd toegesluit. Omdat sy ook meer as 24 uur in die badwater was, is meeste van die leidrade ook uitgewis.”

Die polisie kon intussen bevestig twee selfone en twee skootrekenaars word vermis.

Engelé bestuur die gastehuis al sedert 2014, toe haar pa oorlede is. “My ma sukkel nog om my pa se dood te verwerk. Toe ons hierdie jaar by die strandhuis aankom, het my ma nog gesê hoe sy hom mis en hoe sy na hom verlang. Min het ons geweet wat nog vir ons voorlê,” het Zanelle verduidelik.

Sy sê haar ma sal nou definitief die huis en die gastehuis verkoop en uit Kroonstad wegtrek. “Die huis het nou net hartseer herinneringe.”

Die gesin hou Donderdag ʼn roudiens vir Engelé in Suiderkruis in Groot-Brakrivier. “Ons het die strandhuis al 32 jaar. My ma se broers en ons vriende en familie is ook almal hier.”

Engelé het self lank in Groot-Brakrivier gewoon waar sy ʼn besigheid saam met haar eksman bestuur het. Ná die egskeiding het sy egter teruggetrek Kroonstad toe.

“Ek wens dit geen mens toe nie. Mens is altyd so hartseer as mens hoor dat ander mense geliefdes verloor tydens Kerstyd, en nou het dit met ons gebeur. Die moord is ʼn vreeslike skok vir ons almal. Ek is net verlig dat ons wel haar liggaam kon kry en dat sy nie vermis word nie.”

Die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Bokkie ·

So n pragtige vrou.Hoekom moet sulke goed gebeur?My innige simpatie aan haar familie.

magda ·

Ja, so ‘n pratige vrou…..ma en dogter!!!! Wreedheid in ons land ken geen perke meer – innige simpatie aan haar geliefdes.

Yster ·

Haar familie is aan ons bekend. Hoekom hoekom. Wanneer stop die aanvalle op weerlose mense. Dit raak nou te erg. Amper elke dag lees ons van sulke goed. Dit moet nou stop.

Joe ·

Dit is vreeslik. Hoop die moordenaar word gevang en dat geregtigheid sal geskied
Dit is nou al die hoeveelste moord in Kroonstad. Ons bly self in Kroonstad en dit maak dit erger want jyt kinders en kan nie altyd by jou gesin wees vir beskerming nie. Ons moet maar net bid en paraat wees. Sterkte aan die familie ons inige meegevoel. Ai

Eric ·

Skrikwekkend vier huise van my hoe lank gaan die sinnelose moorde voortduur

Drikus ·

Ek stem saam met Yster: Dit moet nou stop! Hoe durf enigiemand dit in sy kop kry om iemand dood te maak vir haar besittings? Hoe durf hulle dit nog so wreed doen ook? Dink hulle hulle gaan wegkom daarmee? Is dit die kern hiervan? Of dink hulle hulle is geregtig daarop? Wat moet ons doen om dit te keer? Dit kan nie meer genoeg wees om net te sê ons moet net onsself beveilig nie. ‘n Hele gety van denke moet omgekeer word. Die wrede daad doen ‘n dringende beroep op al ons geestelike, politieke en gemeenskapsleiers om in massa hande te vat om ons gemeenskappe te verander. Sodat ons saam werk skep, opvoed en omgee. Maar ook dan saam geen toleransie vir misdaad toelaat nie. Dit moet nou stop!

Sune van Heerden ·

Dagsê Andre

Ons is jammer as die betekenis nie duidelik was in die teks nie. Dit is waar die oortreder geen ooglopende leidrade gelaat het nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Alwyna Holtzhausen ·

Waarom moor net om n rekenaar of selfoon te kry? Absoluut barbaars!!!!

Theuns ·

Beste Sune,
Die berig is ook een van die vele berigte wat vertaal moet word in al die wereld tale en versprei moet word aan al die globale Media Huise, Wereld Regerings, CNN/BBC/SKY NEWS/SA Politieke Partye ens. Dit is ook nodig dat dit vertaal word en op FACEBOOK/TWITTER/ WHAT’S APP/ GOOGLE geplaas word. Ons lesers moet ook skermskote neem van HAAT SPRAAK teen witmense en Boere en dit aan die MRK, SA Regering,Kerke, Polisie stuur. Dit het tyd geword om die bogenoemde instansies te bombardeer met wat in Suid Afrika aangaan! MM lesers moet ook maar hulle selfone buiderhand hou en elke moontlike insident afneem en dit na die bogenoemde media stuur. Die aksies wat ek voorstel kan ‘n magtige wapen wees om Suid Afrika reg te ruk. Kom ons doen dit. Genoeg is genoeg!!
Groete

Maggie ·

Eerstens… My innige simpatie aan die naasbestaandes. Dit was onnodig en daardeur het die moordenaar /s nie net jul geliefde op die wreedste manier van julle weggeraap nie, maar ook Kersfees se vreugde vir ewig van julle gesteel. Nooit weer sal julle die vreugde, vrede en liefde van Kersfees soos voorheen kan ervaar nie. Ek bid vir julle.
Tweedens… Theuns, ons kan doen wat jy voorstel, maar sal dit enigsins help in hierdie korrupte wêreld?

Johan ·

My simpatie aan die Jooste en Wessels familie.
Ek was ‘n groot vriend van oorlede Sef – het saam met haar gholf gespeel toe sy op skool was.

RIV

Maryna de Klerk ·

Weet julle, iets waaraan ek altyd dink wanneer iemand vermoor of aangerand word, is behalwe die smart en lyding waar deur die slagoffer moes gaan, die trauma waardeur die naasbestaandes en vriende mort gaan. Die geweldadigheid bly in hulle gedagtes en steel sóveel van hulle lewensvreugde. Hulle is net nooit weer dieselfde nie. Vergifnis vir die misdadiger bring miskien uiteindelik vrymaking, maar dis ‘n moeilike en ‘n lang pad. En almal kry nie die berading wat hulle nodig het nie. Baie kan nie eens oor hulle seer praat nie. Ek wens so die Here wil ‘n einde maak aan hierdie gebroke skepping. Só baie gebroke mense moet hulle pad probeer vind na sulke onsinnige moorde, verkragtings en aanvalle. Sterkte liewe familie en vriende, soek hulp as dinge vir julle te veel raak ……

E.K. (vra net) ·

Something does not gel. Gewoonlik word mense op vinnige maniere vermoor sodat die diewe kan wegkom. Hoekom eers water in bad tap ens – wie wou dalk info op die selfoon en laptop hê? Klink vir my nie na gewone moord storie nie, jammer. Hoekom nie ander goed soos kontant wat dalk in gastehuis se kluis kon wees neem of tv’s ens? Nee…iets is nie pluis. Innige simpatie met vriende en familie.

Alanah ·

Ek stem saam. Word selfone en rekenaar gebruik om ander konnotasie Te wek? Sy was vasgebind geen bedreiging nie en die water om alle forensiese leidrade weg te was klink na iemand wat baie Crossing Jordan gekyk het. Iemand wat geld nodig gehad het kon haar eers gedwing het om kluis oop te maak en ook handsak se inhoud en juwele gevat het. Miskien moet hulle nader aan die oorledene soek? Sy is moontlik deur n bekende vermoor?

johann ·

Dit maak seer,en verbrokkel weer verder geloof wat oor die tyd herstel was.

JvS ·

Dankbaar die moeder was nie tuis nie. Dit kon ‘n dubbele moord gewees het. Baie sterkte vir die familie. Ons bid vir julle.

Tweetie ·

Ek staan absoluut verstom oor die misdade wat die mensdom teen mekaar en diere pleeg. Hoeveel vrees en angs ervaar die slagoffer nie voor sy dood nie? Hoe regverdig die oortreder sy optrede….en ek praat nie net van moord nie. Daar is hierdie allerdaagse selfsugtige vergrype, selfs van ‘wetsgehoorsame’ burgers. Dit is asof mense sonder n gewete lewe.

Izak ·

GEEN MENS VERDIEN DIT NIE. Mens sou ten minste ń openbare veroordeling van die moord vanuit die kantoor van die Provinsiale polisie kommissaris wou hoor…MAAR DAAR IS NIKS!!! DIS Ń STILSWYENDE GOEDKEURING DAT SWART MOORDENAARS MAAR KAN VOORTGAAN OM WIT VROUENS TE VERMOOR! #boerelegioen

H.S. ·

Grondwet moet verander word sodat doodstraf weer ingestel word.

Ria Bosch ·

Die doodstraf moet teruggebring word. Moordenaars ontsien niks en niemand nie. Innige simpatie met die familie. Ek bid dat Ons Vader julle hierdeur sal lei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.