Krügel wil steeds Maddie- en Van Rooyen-sake afhandel 

Danie Krügel.

Meer as dertien jaar gelede het die Bloemfonteiner, Danie Krügel, die wêreld aan die gons gehad met sy aankondiging dat hy ’n toestel ontwikkel het wat vermiste mense deur ʼn haarmonster kan opspoor.

Dit het destyds geweldige mediablootstelling tot gevolg gehad en die publiek se reaksie het gewissel tussen verwarring en ongeloof.

Toe dié voormalige luitenant-kolonel in die polisie boonop daarop aanspraak maak dat dieselfde toestel ook olie en bakterie kan opspoor, is hy sonder meer as ʼn kansvatter en opportunis afgemaak.

“Dit vat nogal aan ʼn ou, maar ek het geweet wat ek weet en net aangehou om die toestel te verfyn,” sê Krügel. Daar is pas patentereg aan sy uitvinding in die VSA en nog 18 ander lande toegeken. Dit word beskryf as “A Method and Device for detecting a material at a distance”.

Hy sê dit het soms bloedsweet gekos, maar hy het deur die jare bly fokus op die baie positiewe resultate wat hy verkry het, hoewel dit dikwels hartverskeurend was om die nuus daarvan oor te dra.

“Daardie oomblik as jy vir ʼn pa en ʼn ma moet sê ek het jou kind se liggaam gevind, dit breek mens.”

Sy grootste frustrasie is steeds die twee gevalle waar hy uitwysings oor vermistes gedoen het, maar wat die polisie volgens hom om watter rede ook al nie opgevolg het nie. In Suid-Afrika is dit die saak van die pedofiel Gert van Rooyen en in Portugal die verdwyning van die kleuter Madeleine McCann.

Die area waar die beendere opgegrawe is in die Van Rooyen-saak.

In 2007 het Krügel ʼn terrein in Pretoria uitgewys nadat hy haarmonsters verkry het van die vermiste skoolmeisies wie se verdwyning in die laat 1980’s aan Van Rooyen gekoppel word.

Die televisieprogram Carte Blanche het argeologiese opgrawings op die terrein geborg en ʼn dokumentêre program daaroor gemaak. ʼn Groot aantal gebreekte bene is opgegrawe en DNS-toetse het maande later gewys dat ses van die bene wat gevind is van menslike oorsprong was; vier manlik en twee vroulik. Dit kon egter nie aan enige van die vermiste skoolmeisies verbind word nie omdat die DNS erg beskadig was deur beheerde brande wat jaarliks in die gebied plaasgevind het.

Die polisie het die terrein nie verder opgegrawe nie en die ondersoek het daarna doodgeloop. Krügel sê daar is fondse beskikbaar om die DNS-toetse te herhaal en dat hy enige polisieondersoek sal steun. “Dalk is dit tyd dat ons hande vat en die saak afhandel.”

Toe Madeleine McCann later in 2007 in Praia da Luz in Portugal verdwyn, was dit wêreldnuus wat deur verskeie internasionale televisiekanale 24 uur van die dag uitgesaai is. Sewentig dae na Madeleine se verdwyning het haar ouers Krügel se hulp gevra en vir hom in Bloemfontein ʼn haarborsel gestuur wat deur Madeleine gebruik is.

Die onherbergsame gebied in Praia da Luz wat deur Krügel uitgewys is in die Madeleine McCann-saak.

Krügel se toestel het gewys dat Madeleine iewers in Portugal is en hy is binne dae daarheen om met die soektog te help. In Praia da Luz het hy die gebied waar die kleuter gevind sou word, verklein na ʼn onherbergsame gebied hoog bokant die kusdorp.

“Dit was geweldig ontstellend, want dit was hoogs onwaarskynlik dat ʼn kleuter vir lank daar sou kon oorleef,” sê Krügel.

Die kadawerhonde wat deur die polisie-ondersoekspan ingebring is om met die soektog te help het die McCanns se vakansiewoonstel uitgewys sowel as die motor wat maande na Madeleine se verdwyning deur haar ouers gehuur is. Dit het die fokus van die ondersoek verskuif en Kate en Gerry McCann is vir ʼn wyle as amptelike verdagtes beskou.

Die ouers is nooit aangekla nie en Madeleine word steeds as vermis beskou. Die polisie het nooit verder in die gebied gesoek wat deur Krügel uitgewys is nie. Hy sê hy sal graag wil teruggaan Portugal toe, want hy weet hy het nie ʼn fout gemaak nie. “En ek is bereid en gereed om self te gaan soek.”

Krügel konsentreer deesdae op kankernavorsing en olie-eksplorasie in die buiteland met verskillende prototipes van die toestel. Hy het lank uit die mediakollig verdwyn terwyl hy stilweg met akademici en wetenskaplikes saamgewerk het om toetsresultate te verkry wat nodig was om sy uitvinding te patenteer.

Krügel besig met sy toestel.

Een van die prominentste beginsels wat volgens Krügel in die toestel gebruik word, is die teorie van “quantum entanglement – ’n verskynsel wat Einstein beskryf het as “spooky action at a distance”.

Dit kom daarop neer dat wanneer iets, hetsy organies of anorganies, in stukke verdeel word die afsonderlike stukke ’n skakel of verbinding met mekaar behou wat nie net permanent is nie, maar oor enige afstand aktief is, hoe groot ook al daardie afstand. ’n Verandering in die toestand van een deel van die geheel sal onmiddellik alle ander dele beïnvloed, ongeag hoe groot die afstand tussen die dele is.

Krügel vertel dat ʼn onafhanklike paneel bestaande uit vier wetenskaplikes ʼn reeks “dubbelblinde” toetse met sianied, diamante en gis op een van die prototipes uitgevoer het en dat al drie toetse onweerlegbare bewyse van die toestel se akkuraatheid gelewer het.

Krügel (heel links) saam met kollegas besig met olienavorsing in Europa.

Hy is deesdae ʼn internasionale sakeman wat reeds in verskeie lande met regeringsverteenwoordigers en sakemanne beraadslaag het om die toestel vir kommersiële doeleindes aan te wend.

Die maatskappy wat verantwoordelik is vir die vervaardiging, bemarking en lisensiëring daarvan, Quantum Detection Solutions (QDS), is in Austin, Texas, geleë. Die onderneming sal op korporatiewe werk fokus, maar op ʼn meer persoonlike vlak wil Krügel terugkeer na die onafgehandelde sake van Madeleine McCann en die slagoffers van Gert van Rooyen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Niklaas ·

Dit sal wonderlik wees , as daai toestel werk en resultate oplewer.

Grassie ·

Ek wens die oud=kolonel alle voorspoed toe met sy navorsing maar ek het my twyfels

Leon ·

QDS het ook nou sy eie kedawer en reddings hond om te help in die soek na vermiste mense

katerinadiekat ·

Yeah it does. But the nature of reality has many awe inspiring facets. Vir iemand wat n baie vreemde lewe en ondervindings gehad het, klink hierdie nie te vergesog nie. There are quite a few physicists that believe quantum entanglement to be a real phenomenon. Die hemel weet ek het in my lewe vanaf kindsbeen al ervarings gehad wat my op baie jong ouderdom al laat insien het, dat die ware natuur van die heelal en van die siel en lewe self, Baie anders is as die enge klein paradigma waarin die mensdom gekondisioneer is om te glo en bestaan. We are living in a Big machine, vast and as yet, hardly studied and understood by even the brightest scientific minds of the human species.

Vriendelike Frikkie ·

Die groot wetenskaplikes in die wêreld begin nou eers ‘n idee te vorm oor “quantum entanglement” en hier kom ‘n eks-poliesman en hy bou ‘n masjien wat die wetenskap reeds kommersieël ontgin? Die Amerikaners het ‘n mooi naam vir dit “Snake oil salesman”. Laat die masjien getoets word in beheerde omgewings en deur mense wat nie deur groot woorde ge-intimideer word nie, dan praat ons weer.

Cherokee ·

Daleen, jy en ek is op dieselfde golflengte. Dit is wat ek ook onmiddellik gelees het toe vertel is van die ‘spooky action at a distance’. Ek was besig om te wonder of ek daaroor kommentaar sou lewer, totdat ek jou gelees het.

Sarel ·

Nie in belang van die Families wat elke keer hoop gegee word nie. Spits toebop ander sake.

Vriendelike Frikkie ·

‘n Vraag aan Danie, indien jou masjien reageer op die “stukke” van die geheel wat saam reageer al is hulle nie bymekaar nie; Hoekom reageer jou masjien nie op die letterlik miljoene stukkies vel en hare wat konstant deur mense afgeskei word nie? Daardie DNA stukkies lê letterlik die hele wêreld vol. Sweet van vinger afdrukke, spoegdruppels, trane en ander afskeidings het almal DNA in. Hoe is dit dat hierdie massas en massas stukke van die geheel nie met jou masjien inmeng nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.