Kruger-kinderhuis vra vir hulp

Argieffoto (Foto: skalekar1992/Pixabay)

Die President Kruger-kinderhuis in Villiera in Pretoria doen ʼn dringende beroep op die gemeenskap om te help met skenkings, hetsy kruideniersware, klere of toiletware, of kontantbydraes wat vir terapeutiese dienste, mediese uitgawes en instandhouding gebruik kan word.

Volgens Marlene Spies, skakelbeampte van die Kruger-kinderhuis, gee die staat slegs 33% van dit wat maandeliks benodig word om die kinderhuis se deure oop te hou. Hulle reken dus op skenkers en lede van die publiek se bydraes om te oorleef.

“Die kinderhuis is afhanklik van hierdie ondersteuning, op watter manier ook al. Enige betrokkenheid en geld- of ander skenkings help ons om die kinders na behore te versorg.

“Soos wat elke huis instandhouding verg, moet ons ‘groot huis’ ook onderhou word. Hier is die werk egter net soveel meer: van pype wat vervang moet word en verfwerk wat opknapping benodig tot badkameruitgawes. Dit is alles nodig om vir hierdie kinders ʼn menswaardige opvoedingsomgewing met goeie sekuriteit te bied.”

Volgens Spies is daar verskillende finansiële uitdagings wat oorkom moet word waarvan hulle munisipale water- en elektrisiteitsrekeninge die grootste bron van kommer is. Sy sê die kinderhuis se munisipale uitgawes beloop sowat R70 000 per maand.

“Ons doen ons uiterste bes om die elektrisiteitsverbruik so laag moontlik te hou, maar vir 63 kinders werk die wasmasjiene agt uur per dag en om drie etes per kind per dag voor te berei beteken dat die kombuispersoneel en oonde deurentyd besig is,” sê sy.

Hoewel die vervoeronkoste en ander skooluitgawes tydens die Covid-19-pandemie afgeneem het en hulle daardeur ʼn paar rand kon spaar, het die ritte van en na skole weer begin. Die kinderhuis se kinders is leerders in vyf verskillende skole, elk met sy eie program.

“Wat ons verder onder druk plaas, is die gebrek aan behoorlike vervoer. Ons het tans ʼn minibus, maar nog een sal uiteraard baie help met die op- en aflaaiproses, asook kostebesparing.

“Ons vra lede van die publiek om ons veral in hierdie tyd by te staan en te ondersteun. Raak betrokke by die President Kruger-kinderhuise,” pleit Spies.

Besoek die kinderhuis se Facebook-blad of webwerf om vas te stel hoe jy kan bydra. Mense wat graag ʼn bydrae wil maak, kan ook vir Marlene Spies per e-pos nader by [email protected] of haar by 012 332 1366/7 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Deon ·

Staat dra net 33% by? Dit is skandelik dat die staat kastig so baie omgee vir vroue en kinders en mens moet hierdie tipe berigte lees

JM ·

Net 33% bydrae van die staat. Die res gaan na “our people” wat bakhand staan.

Misky ·

Bitter hartseer om sulke berigte te lees en die staat verduisel biljoene. Die kamtige ministers ry almal blink karre en dra ontwerperspakke waarvan hulle nie eens die naam kan uitspreek nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.