Kruger-leeu steeds soek

Argieffoto: popista.com

Die Mpumalanga-park-en-toerisme-agentskap (MPTA) het ʼn beroep op boere in die Komatipoort-omgewing gedoen om steeds op die uitkyk te wees vir een van die vyf jong leeumannetjies wat vroeër vandeesweek vermoedelik uit die Krugerwildtuin ontsnap het.

Die rondloperleeu is die laaste een wat nog op vrye voet is nadat sy makkers Dinsdag weer gevang en teruggeneem is na die wildtuin.

SANParke het intussen die koördinering van die soektog aan die MPTA oorhandig aangesien die soekgebied in die agentskap se jurisdiksie val. Rey Thakhuli, woordvoerder van SANParke, het egter gesê SANParke ondersteun die MPTA in die soektog.

Kholofelo Nkambule, woordvoerder van die MPTA, het Donderdag aan Maroela Media gesê die rondloperleeu hou hom skaars en daar is tans nie ʼn spoor van hom nie.

“Die moontlikheid bestaan dat hy terugbeweeg het in die wildtuin in, maar dit is slegs bespiegeling,” het sy gesê.

Sy het gesê die soektog duur voort en het ʼn beroep op die gemeenskap en omliggende boere gedoen om op die uitkyk te wees vir tekens van die leeu veral as hulle vee se karkasse opspoor.

“Buiten die bees wat die trop van vyf vroeër vandeesweek vir prooi gejag het, was daar nog nie weer ʼn soortgelyke voorval nie. Die leeu is Dinsdagmiddag laas gewaar toe hy oor die teerpad na ’n suikerrietplantasie gehardloop het.”

Craig Allenby, woordvoerder van die Nasionale Dieretuin in Pretoria, het Donderdag aan Maroela Media gesê dit hang van ʼn paar faktore af hoe lank dit sal vat voor die leeu weer sal jag.

“Een van die faktore is hoe groot hy is en hoeveel hy vroeër geëet het. Volgens ons kenners kan dit dan tussen twee of drie dae neem voordat die dier weer sal jag,” het Allenby gesê.

Hy het gesê daarna sal die leeu waarskynlik meer gereeld begin jag, maar op kleiner prooi.

“Hy is nou nie meer in ʼn trop nie en dit is onwaarskynlik dat hy op sy eie iets so groot soos ʼn bees sal kan plattrek, maar dit is wel moontlik.”

Maroela Media het vroeër berig die vyf leeus is Maandagoggend naby die kruising van die N4-snelweg en Manangaweg opgemerk. Die leeus het daarna glo verdeel en in verskillende rigtings in die suikerrietveld inbeweeg.

SANParke-veldwagters, die MPTA en die Suid-Afrikaanse Polisie het na die diere gesoek en vier teen Dinsdag aangekeer.

Thakhuli het gesê daar word vermoed dat die leeumannetjies deur ʼn dominante trop uit die reservaat verdryf is. Hy het egter gesê dit is nog nie duidelik hoe hulle uit die reservaat gekom het nie.

Die vermoede bestaan dat hulle dalk deur die Komatirivier ontsnap het, aangesien die rivier laag is weens min seisoenale reën.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann ·

Die KRUGER leeu is seker by die KRUGER miljoene? O gaats…sorry. Die is al laaaaaankal geredistribute. So hy sal maar moet leeuloop in sy spore anders is hy mutu en dupa en natuurlike blou pil!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.