Kruger-leeus in Marlothpark los

Die leeus is oor die afgelope paar dae in Marlothpark, wat aan die Krugerwildtuin grens, gewaar (Foto: Sarieta van Wyk / deur MTPA verskaf)

Natuurbewaringspanne spook die afgelope week om vyf leeus wat uit die Krugerwildtuin in Mpumalanga ontsnap het, vas te trek.

Die leeus is oor die afgelope paar dae in Marlothpark, wat aan die Krugerwildtuin grens, gewaar en het intussen al ʼn wilde vark en volstruise gevang.

Isaac Phaahla, woordvoerder vir SANParke, sê die leeus het vermoedelik deur ʼn heining ontsnap wat deur swaar reënval die afgelope ruk beskadig is.

Die diere het waarskynlik die Krokodilrivier oorgesteek, maar kon ná ʼn reënvloed Dinsdag nie weer na die park terugkeer nie.

Gerrie Camacho, ’n roofdierkenner van die Mpumalanga Toerisme- en Parkeagentskap (MTPA), sê hulle is nie seker of daar een of twee leeumannetjies is nie, aangesien hulle tans in drie groepe beweeg en nie almal saam gesien word nie.

Die leeus is oor die afgelope paar dae in Marlothpark, wat aan die Krugerwildtuin grens, gewaar. (Foto: Verskaf)

Hy vermoed wel dat een van die wyfies dieselfde leeu is wat verlede jaar saam met haar drie welpies ontsnap en volstruise in die gebied gevang het, aangesien dit vanjaar weer gebeur het.

Dié keer is die leeu saam met vermoedelik drie jonger wyfies en een jonger mannetjie. Drie van die jonger leeus kan dieselfde welpies wees wat nou groot genoeg is om self te jag.

Camacho verduidelik dat wild in wintermaande na die rivier trek, wat leeus uiteraard ook daarheen lok.

Hy vermoed die leeus het die rivier vóór die oorstroming oorgesteek en dat die water hulle verhinder het om weer na die Krugerpark terug te keer.

Volgens Camacho steek die leeus waarskynlik ook die rivier oor aangesien daar geen leeus in Marlothpark is wat moontlik ʼn bedreiging vir hulle kan inhou nie. Kos, soos volstruise en vlakvarke, is ook vrylik tot hul beskikking.

Hoewel verskeie spanne, onder wie die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, tans saamwerk om die leeus op te spoor en te vang, sê Camacho is dit uiters moeilik om leeus in Marlothpark vas te trek.

Hy sê hulle is egter met verskeie aksieplanne besig om die leeus op te spoor sodat ʼn veearts hulle kan help om die leeus te vang.

Indien die weer dit toelaat, sal die spanne ook lugondersteuning inwin om met die soektog na die leeus te help.

Die leeus is oor die afgelope paar dae in Marlothpark, wat aan die Krugerwildtuin grens, gewaar. (Foto: Verskaf)

Camacho doen ʼn beroep op mense om enige besigtigings van die leeus aan te meld.

Hy sê daar is baie mense wat aanvoer die leeus moet “in vrede gelaat” en nie gevang word nie.

“Ons kan nie daai diere daar los nie. Nie volgens wet of logika nie. Dis gevaarlik, hulle kan mense seermaak. Die leeus moet so gou as moontlik verwyder word en ons vra die gemeenskap se samewerking in dié verband.”

Camacho sê die inwoners moet intussen versigtig wees, die ligte aangeskakel hou as hulle byvoorbeeld braai of buite is, hulle hekke en deure toehou en nie in die donker rondloop nie.

Enigiemand met inligting oor waar dié leeus hulle bevind, kan Camacho by 082 353 9097 kontak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Shakespeare ·

Leeus loop deesdae lekker rond want kaders moet hulle oppas.

Frank John ·

Klink of hulle kriminele is wat ontsnap het van ‘n tronk en nou aangekeer moet word. Dis hul natuur om te beweeg waar hul wil.

FranWilder ·

Hahaha dalk moet hulle n paar cheetas en blou bulle ook daar los laat. LoL

Karina ·

Ek skrik myself in ‘n ander bloedgroep in as ek vleis braai, en agter my brul ‘n leeu. Voor jy kan sê “mes” is ek in die huis in ‘n kas in!

Herman ·

Wonder hoe lank gaan dit aanhou voordat hulle n mens bydam?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.