Krugersdorp-afspraakmoorde: ‘Baasbrein is patologiese leuenaar’

Zak Valentine, Cecilia Steyn en Marcel Steyn op 23 Mei 2019 in die hof. (Foto: Christel Cornelissen)

Die staat het Donderdag in sy slotbetoog in die hooggeregshof in Johannesburg voor regter Ellem Jacob Francis aangevoer die beskuldigdes in die sogenaamde Krugersdorp-moorde, se moordtogte is beplan en uitgevoer op dieselfde manier as wat ʼn korporatiewe onderneming bedryf sou word.

Adv. Gerrit Roberts, namens die staat, voer aan Cecilia Steyn (38) het aan die hoof gestaan van die georganiseerde organisasie Electus per Deus (Gekies deur God) en was die baasbrein daaragter. Hy het gesê Cecilia is ʼn “patologiese leuenaar” wat die Bybel gebruik het om diegene om haar te manipuleer.

Steyn, Zak Valentine (34) en Marcel Steyn (21) staan tereg op 11 moorde, asook verskeie ander aanklagte wat bedrog en roof insluit.

Al drie ontken skuld.

Die drie word daarvan beskuldig dat hulle deel was van ʼn sogenaamde “Christelike bediening” wat glo onder leiding van Cecilia gefunksioneer en ʼn skrikbewind tussen 2012 en 2016 in die Krugersdorp-omgewing gevoer het. Die saak het later bekend geraak as die “afspraakmoorde” omdat verskeie slagoffers vermoor is toe hulle iemand vir ʼn afspraak ontmoet het.

Cecilia Steyn op 23 Mei 2019 in die hof. (Foto: Christel Cornelissen)

Marcel Steyn het die afgelope maand haar deuntjie verander en aangevoer dat sy onder dwang opgetree en vir haar lewe gevrees het. Sy het haar boonop in verskeie van die moorde geïmpliseer. Dit word egter nie as ʼn bekentenis geag nie.

Roberts het vandag gesê dié besluit van Marcel was die regte ding om te doen. Marcel het onder meer aan die hof gesê sy was by toe Mikeila Valentine (25), Zak se vrou, in Oktober 2012 vermoor is. Sy het getuig dat sy selfs een steekwond toegedien het.

Roberts het kort tevore gesê ʼn varkkop is in ʼn stadium gebruik sodat die groep hulle steektegniek kon oefen.

In sy opsomming van gebeure het Roberts aangevoer wanneer geloof by ʼn situasie ingebring word, is mense geneig om nie nugter oor ʼn saak te dink nie. Cecilia Steyn het onder meer beweer sy is ʼn heks en die bruid van satan en hoewel sy dié dinge soos die werklikheid laat klink het, was dit ʼn bedrogspul.

“Sommige [betrokkenes] het besef dit is leuens en het weggebreek, maar ander het nie die lig gesien nie,” het Roberts gesê.

Marinda Steyn (51) en haar seun Le Roux Steyn (22) is verlede jaar ingevolge ʼn pleitooreenkoms skuldig bevind vir hulle aandeel in die moordtogte. Marinda is tot 11 lewenslange vonnisse en ʼn bykomende 115 jaar tronkstraf gevonnis. Le Roux is effektief 25 jaar tronkstraf opgelê.

Die regter het vandag gesê hy vind Marinda se (vroeëre) getuienis interessant dat sy op ʼn moordtog sou gaan en dan terugkeer na die Cosanna-woonstelblok, waar Cecilia gewoon het, maar Cecilia het kwansuis niks van die gebeure geweet nie.

Marcel Steyn op 23 Mei 2019 in die hof. (Foto: Christel Cornelissen)

Die moorde

Luidens die getuienis is Natacha Burger en Joy Boonzaaier in Julie 2012 in Burger se huis in ʼn veiligheidskompleks vermoor. Zak het dié moorde gepleeg nadat Mikeila Valentine se moed haar begewe het.

Pastoor Reg Bendixen is in Augustus 2012 in sy huis in Honeydew in Johannesburg vermoor. Dié moord is glo gepleeg omdat Bendixen klaarblyklik ʼn preek van Cecilia as sy eie gebruik het.

In Oktober 2012 is Mikeila in haar en Zak se huis vermoor. Dit is glo gedoen om die res van die groep teen haar te beskerm. Marinda en Marcel het haar na bewering vermoor.

Peter (51) en Joan (47) Meyer is in hulle huis in Noordheuwel vermoor. Die moordenaars het onder valse voorwendsels toegang tot die welgestelde Meyers se huis gekry. Nadat hulle vermoor is, is hulle huis vir ʼn kluis deurgesoek, maar die aanvallers kon uiteindelik net ʼn paar honderd rand buit.

Jarod Jackson is in Desember 2015 vermoor, nadat sy koeldrank gedokter is. Die staat voer aan sy moord was deel van die groep se gemeenskaplike doel om te maak of Zak dood is, sodat hulle die geld van sy lewensversekeringspolis kon ontvang. Hiervoor het hulle ʼn lyk nodig gehad. Zak ontken betrokkenheid by dié plan.

“Om dit te laat lyk of jy dood is, moet jy deel wees van die plan. Jou dood kan nie nagemaak word as jy nie deel daarvan is nie,” het Roberts aangevoer.

Glen McGregror (57), ʼn belastingkonsultant, is in Januarie 2016 vermoor. Nadat hy vermoor is, is sy liggaam in ʼn bad in die huis geplaas en die moordenaars het sy huis deurgesoek vir geld en ander items.

Anthony Scholefield (67), ʼn makelaar, en Kevin McAlpine, ook ʼn makelaar, is albei in Mei 2016 vermoor.

Hanle Lategan (52), ʼn eiendomsagent, is ook in Mei 2016 vermoor. Geld is ná haar dood uit haar rekening onttrek en daar is later naby Tarlton van haar liggaam ontslae geraak.

Zak ontken betrokkenheid by die laaste vier moorde, omdat hy in dié tyd kwansuis dood was.

Zak Valentine op 23 Mei 2019 in die hof. (Foto: Christel Cornelissen)

Getuies

Roberts voer aan Zak was ʼn onindrukwekkende getuie wat nie eerlik was nie.

Regter Francis het Roberts ook gevra om te beskryf wat se soort getuie Cecilia was. Hy het gesê sy was argumenterend, dat haar getuienis oor die geld (wat gebuit is) nie sin maak nie en dat sy met ʼn ontkenning vorendag gekom het omdat dit die maklikste manier was om die bewerings teen haar te hanteer.

Op haar beurt was Marcel 14 jaar oud toe die eerste misdryf gepleeg is en Roberts het gesê die feit dat sy jonk was, kan nie buite rekening gelaat word nie.

Roberts het gesê Marcel was ʼn eerlike getuie, veral gesien in die lig van haar openbaring later in die hof dat sy die waarheid wil praat. Hy voer aan haar bewering dat sy “gebreinspoel” is, kan nie aanvaar word nie. Hy het gesê die hof moet ook in gedagte hou dat Marcel hoogs intelligent is.

Die saak word môre hervat.

Lees alle vorige berigte oor die Krugersdorp-moorde op Maroela Media hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Karolis ·

Het die berig drie maal oorgelees en ek kan steeds nie glo wat ek lees nie.
Verstommend.

Heidi ·

Die verwoesting wat die mense gesaai het is angswekkend. Onder die dekmantel van God! Ek sien hier die duiwel in menslike gedaante. Die arme naasbestaandes van die slagoffers.

Lizelda ·

Ja, Karolis ek kan ook nie glo dat daar mense is wat so wreed kan wees nie. Ek dink die heel ergste is dat hulle almal daar sit asof dit een boring meeting is…

ooreenkoms ·

Ek sit nog so na die haarstyl en kyk, en toe lees ek ondertoe van die vark kop.

PJC ·

Al die snaakse haarstyle het my al laat dink dat daar iets skort met hierdie klomp.

Elsie ·

I am so sorry that we don’t have the death penalty anymore. All if them don’t deserve to be alive and none of them should be in society..
Remove them FOREVER!!!!

marous ·

Die duiwel loop rond in die land soos ‘n brullende leeu .

Spike ·

Hoe kan ñ hoogs intelligente persoon vir so iets val. Dit is skrikwekkend.

Ls ·

Alles dui op satanistiese bedrywighede en satans aanbidding. Hoe daardie kind normaal in n skool kon funksioneer en nog 6 onderskeidings behaal het in matriek, is amper ondenkbaar.

Ap ·

Ja nee werklik, hulle verdien baie erger as net tronkstraf ek kannie glo wat ek alles lees nie dit is net te verskriklik!!

Annie ·

Hierdie laat die geweld in Game of Thrones soos n kinderpartytjie lyk. Genade! Kan nie glo dit het regtig gebeur nie.

Sputnik ·

Dié spulletjie het gemoor soos wat ander mense roomys koop! In hierdie eeu!!

Heksie ·

Eers het ek gedink dit was net 4 moored, maar 11 mense????!!!! Absoluut skokkend!

Lynette ·

Daar is iets baie weersinswekkend omtremt n MA wat SAAM MET HAAR TWEE KINDERS moord pleeg…..grens aan bloedskande.

Engelsman. ·

The mother was a teacher, with her morals I suppose her child got all the answers for every exam. Sympathy to all the families and friends who lost their loved ones and are still suffering from this terrible tragedy. Just shows don’t even trust whites or children they have to be added to our fearful list in this country.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.