Krugersdorp-afspraakmoorde: Landdros waarsku jong vrou

Le Roux en Marcel in die hof. Foto: Landi Malan

Le Roux en Marcel in die hof. Foto: Landi Malan

Die staat oorweeg dit om ʼn hofbevel aan te vra om Marcel Steyn, een van die beskuldigdes in die opspraakwekkende Krugersdorp-afspraakmoorde, te verplig om haar samewerking aan die polisie te gee met hul ondersoek

Marcel (18) en haar broer, Le Roux (21), het Donderdag in die Roodepoort-landdroshof verskyn op drie aanklagte van moord, twee aanklagte van roof, een van poging tot diefstal en een van ontvoering. Hulle staan tereg op die moord op twee makelaars, Anthony Scholefield (67) en Kevin McAlpine (29), en Hanle Lategan (52), ʼn eiendomsagent.

Adv. Jackie Steyn, die staatsaanklaer, het aan die hof gesê dat Le Roux sy samewerking aan die polisie gee, maar dat Marcel onder meer weier dat foto’s van haar geneem word vir uitkenningsdoeleindes.

Le Roux en Marcel in die hof. Foto: Landi Malan

Le Roux en Marcel in die hof. Foto: Landi Malan

Landdros Delize Smith het aan Marcel verduidelik dat die polisie volgens wet enige maatreëls nodig kan aanwend om haar te dwing om haar samewerking te gee. Smith het ʼn vorige hofsaak aan Marcel voorgehou waarin ʼn beskuldigde geweier het om ʼn koeël uit sy been te laat haal wat die ondersoekspan as bewysstuk nodig gehad het. Hy is deur ʼn hofbevel gedwing om ʼn operasie te ondergaan om die koeël te verwyder. Smith het aan Marcel gesê dat die hof ʼn bevel sal uitreik indien sy steeds voortgaan om te weier om haar samewerking te gee.

Steyn het verder aan die hof gesê dat die staat beplan om ʼn bykomende aanklag van rampokkery teen Le Roux en Marcel te bring en dat hulle tans in die proses is om die akte daarvan te finaliseer. Die hof het ook gehoor dat die Steyn-broer en -suster intussen ʼn private prokureur aangestel het om hulle te verteenwoordig en dat hy by hul volgende hofverskyning teenwoordig sal wees.

Die staat het die hof versoek om die saak na die Krugersdorp-streekhof oor te plaas, aangesien Le Roux ook daar op ʼn ander saak moet verskyn en dit dus makliker vir sy regsverteenwoordiger sal wees as albei sake daar aangehoor word.

Le Roux en Marcel in die hof. Foto: Landi Malan

Le Roux en Marcel in die hof. Foto: Landi Malan

Marcel het tydens die hofverrigtinge stip voor haar uitgestaar terwyl Le Roux gemaklik voorgekom het en vir mense in die openbare galery geglimlag en geknipoog het.

Die saak is tot 7 November uitgestel en na die Krugersdorp-streekshof oorgeplaas.

Maroela Media het vroeër berig Lategan het op 30 Mei verdwyn nadat sy ʼn huis in Krugersdorp aan kliënte sou gaan wys het. Skoolkinders het haar liggaam die volgende dag in die veld langs ʼn spruit buite Randfontein gevind.

McAlpine se liggaam is die aand van 27 Mei op die hoek van Sivewright- en Francisstraat in die kattebak van sy motor gevind. Hy is kort voordat sy liggaam gevind is, as vermis aangegee nadat hy ʼn kliënt sou ontmoet, maar nooit teruggekeer het huis toe nie.

Scholefield se liggaam is op 10 Mei in die kattebak van sy motor in Premierstraat gevind. Scholefield moes ook vroeër die dag ʼn kliënt ontmoet het voordat hy verdwyn het.

Lees alle vorige berigte oor die Krugersdorp-afspraakmoorde op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jean ·

Kannie glo dat sulke jong mense so evil kon wees nie. Genugtig, is daar nie genoeg misdaad in die land nie? Wat het hierdie arme mense aan julle gedoen?

Anoniem ·

As ek jy is Poppie begin ek saamwerk hier. Jy is betrokke…jy word genoem in die moord sake. En as dit waar is het jy jou hele lewe weggegooi. Jy draai om in een van die fotos en smile..geen gewete…………….

Abel ·

Ek stem dit is nou wraggies niks om oor te glimlag nie, wonder of die kinders “high” is??? Geen normale mens kan so iets doen en dan nog agterna glimlag asof niks gebeur het nie……. siek, siek, siek!!!

Columbiana ·

Siek mense hierdie. Ek gebruik die woord mense bitter ligtelik. Dalk is hulle besete. Pure Evil

SkarrelKind ·

Besete of “high” is verskonings wat nie gebruik moet word nie. Klaar. Hulle moet verantwoordelik gehou vir vir hulle dade sonder verskonings. Satanisme word graag voorgehou as mense moor. Nonsens. Man up.

Columbiana ·

Skarrelkind. Niemand sê dit moet hulle verweer wees of dat hulle jammer gekry moet word nie. Mens is maar net verstom oor die duidelike evilness in hullle

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.