Krugersdorp-afspraakmoorde: Slotbetoë begin

Zak Valentine, Cecilia Steyn en Marcel Steyn op 23 Mei 2019 in die hooggeregshof in Johannesburg. (Foto: Christel Cornelissen)

Zak Valentine (34), Cecilia Steyn (38) en Marcel Steyn (21) het Donderdag weer in die hooggeregshof in Johannesburg verskyn waar die staat met sy slotbetoog in die moordverhoor teen die drie begin het.

Zak, Cecilia en Marcel staan tereg op 11 aanklagte van moord, asook ʼn reeks ander aanklagte.

Die drie word daarvan beskuldig dat hulle deel was van ʼn sogenaamde “Christelike bediening” wat glo onder leiding van Cecilia gefunksioneer en ʼn skrikbewind tussen 2012 en 2016 in die Krugersdorp-omgewing gevoer het. Die staat beweer dat die groep vir 11 moorde aanspreeklik gehou kan word, hoewel nie elke lid van die groep op elke moordtoneel teenwoordig was nie.

Die saak het in die media bekend geword as die “afspraakmoorde” omdat verskeie slagoffers vermoor is toe hulle iemand vir ʼn afspraak ontmoet het. Een hiervan is Hanle Lategan (52), ʼn eiendomsagent wat op 30 Mei 2016 verdwyn het toe sy ʼn huis in Krugersdorp aan kliënte sou gaan wys. Skoolkinders het haar liggaam die volgende dag in die veld langs ʼn spruit buite Randfontein gevind.

Nog ʼn slagoffer, Kevin McAlpine (29), se liggaam is in Mei 2016 in die kattebak van sy motor gevind nadat hy ʼn kliënt sou ontmoet het. McAlpine was ʼn versekeringsmakelaar. Nóg ʼn versekeringsmakelaar, Anthony Schofield (67), se liggaam is op 10 Mei 2016 in die kattebak van sy motor in Premierstraat in Krugersdorp-Noord gevind.

Marinda Steyn kort voordat sy gevonnis is. Foto: Lindi Masinga/ANA

Marinda Steyn (52) en haar seun, Le Roux Steyn (23), is in Mei verlede jaar skuldig bevind aan 11 moorde, asook aanklagte van moord, roof en rampokkery. Marinda is tot 11 lewenslange vonnisse en ʼn bykomende 115 jaar tronkstraf gevonnis, terwyl Le Roux tot effektief 25 jaar tronkstraf gevonnis is.

Le Roux en Marinda is aangekla saam met Marinda se dogter, Marcel, Zak en Cecilia. ʼn Sesde beskuldigde, Johan Barnard, is reeds in 2016 tot 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuld beken en ingestem het om teen die ander beskuldigdes te getuig.

Die 11 moorde waarvan die groep aangekla word, is die volgende:

Julie 2012: Natasha Burger (33) en Joy Boonzaaier (68) word vermoor in Burger se meenthuis in ʼn veiligheidskompleks.
Augustus 2012: Pastoor Reginald Bendixen (75) word vermoor in sy huis in Honeydew, Johannesburg.
Oktober 2012: Die 25-jarige Mikeila Valentine (Zak se vrou) word in die egpaar se huis in Johannesburg vermoor.
November 2015: Peter (51) en Joan (47) Meyer word in hul huis in Noordheuwel vermoor.
Desember 2015: Jarod Jackson, ʼn straatverkoper, word vermoor.
Januarie 2016: Glen McGregor (57), ʼn belastingkonsultant, word op ʼn kleinhoewe in Randfontein vermoor.
Mei 2016: Anthony Scholefield (67), ʼn makelaar, word vermoor.
Mei 2016: Kevin McAlpine (29), nog ʼn makelaar, word vermoor.
Mei 2016: Hanle Lategan (52), ʼn eiendomsagent, word vermoor.

Lees alle vorige berigte oor die Krugersdorp-moorde op Maroela Media hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Geregtigheid vir die oorledenes

Liewe Hemel wat ‘n klomp moordenaars!!! Hulle het 10 mense vermoor!!! O nee ‘n mens is jou lewe nie meer seker in hierdie land nie. Die moordenaars is orals en hulle is wit en swart.

Chantel

Behoort hul te skaam
ek het die gedoentes gesien op Carte blanch
Die Here slaap nie
My hart gaan uit aan die slagoffers
Hul behoort beslis nie tussen normale mense nie

Anon

Ek volg die storie nou al so te se van die begin af en is nog steeds geskok. Ek was saam met Zak op skool en sou dit regtig nooit van hom kon dink nie. Hy het altyd maar altyd gesmile en was baie vriendelik. Hy was ‘n stil ou gewees, nie ‘n moeilikheid maker nie. Dit wys jou net hoe die lewe draai en mense verander, vernaam as jy saam die verkeerde mense uithang.

Se maar net

Burger en Boonzaaier is nie in Burger se meenthuis vermoor nie maar wel in Joy Boonzaaier se meenthuis.

Karen

Die saak sloer al jare. Kom nou tot punt asb Iewers moet geliefdes van oorledene ‘s in ag geneem word. Elke hofsaak is marteling van voor – die klomp is skuldig kry nou einde asb Die vloeksels geniet die aandag en onnodige regs-uitgawes wat ek en jy en slagoffers betaal. En ja die regslui vind baat daarby om die sake uittestel vir die en dai maar Liewe Vader asb dis nou genoeg asb maak nou klaar. …