Krugersdorp, Rustenburg-geweld ‘nié aanvaarbaar’

Polisiebeamptes Maandag in Krugersdorp. Foto: Verskaf

De Wet Nel, VF Plus-raadslid in Rustenburg se plaaslike munisipaliteit, het gewelddadige betogings oor misdaad in Rustenburg in Noordwes ten sterkste veroordeel.

Nel het gesê geweld tussen taxi-bestuurders en vermeende Nigeriese bendes in Rustenburg het ʼn onaanvaarbare punt bereik en dit is volgens hom nou tyd dat die regering ingryp aangesien “dit blyk dat die polisie nie in staat is om dit in bedwang te bring nie”.

Taxi-bestuurders voer aan die polisie doen nie hul werk behoorlik nie en daar word beweer dat bendes wat betrokke is by dwelmhandel, mensehandel en ander onwettige bedrywighede toegelaat word om hul bedrywighede onverstoord voort te sit.

“In die huidige uitdagende ekonomiese klimaat word plaaslike sakeondernemings geknou deur die anargie wat tans in Rustenburg heers. Ons kan nie bekostig dat ons gemeenskapslede en hul eiendom in gevaar gestel word omdat die polisie blykbaar nie in staat is om wet en orde te handhaaf nie. Indien die polisie dit inderdaad nie kan doen nie, moet daar op ʼn hoër vlak ingegryp word, maar die huidige stand van sake is onaanvaarbaar,” sê hy.

Amanda de Lange, VF Plus-raadslid vir Mogale City (Krugersdorp), het vroeër gesê Krugersdorp-gemeenskappe het ook oorgegaan na geweld op dié dorp omdat hulle genoeg gehad het van onder meer dwelm- en mensehandel.

Dit kom nadat altesaam 59 mense Dinsdag in hegtenis geneem is in verband met dié betogings. Verskeie eiendomme is onder meer in die betogings beskadig, vyf huise is aan die brand gesteek, drie polisievoertuie is beskadig en daar is skade by die Kagiso- en Munsieville-polisiestasie aangerig.

Betogers het talle paaie versper en die middestad ontoeganklik gemaak. Talle ondernemings en skole moes vir hul eie veiligheid sluit.

“Hierdie probleem gaan nie net verdwyn nie. Die inwoners is siek en sat vir die plaaslike regering wat korrupsie toelaat ten koste van die gemeenskap en sê dat die skuld vir die protes reg voor die plaaslike owerhede se deur gelê moet word. Indien die owerhede nie reageer op die gemeenskap se pleidooie nie, is anargie onafwendbaar.

“Hoëvlak-ondersoeke moet ingestel word om die polisielede en plaaslike regeringsamptenare wat betrokke is by dwelmhandelaars en -handel te identifiseer. Dit is duidelik dat inwoners geen vertroue meer in die plaaslike owerhede het nie en daarom bereid is om die reg in eie hande te neem.

“Die VF Plus keur nie hierdie optrede goed nie, maar verstaan die inwoners se frustrasies. Dit is jammer dat onskuldige inwoners en sakeondernemings negatief geraak word deur hierdie onwettige protesoptredes en die VF Plus sal alles moontlik doen om te verseker dat hierdie saak dringend die aandag ontvang wat dit moet,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hans ·

To little to late. Hulle almal was al lank voor die tyd bewus van al die goed wat daar aangaan. Hoekom het nie voorkomend opgetree nie. Die dat ek sê alle politiese mense is tog net daar vir eie gewin. Sal doen en sê sodat hul goed lyk en voorkom. Moet dit vir VF-Plus toegee dat hul sover die enigste politike party is wat iets gesê hieroor.

Pieter ·

Die probleem is reeds geïdentifiseer ….Die polisie doen nie hulle werk nie al die blaam moet op die lui klomp met hulle blou uniforms geplaas word die vraag moet wees hoe kry jy die polisie reg.?

snoefie ·

deur meer wit lede in te neem, intensiewe opleiding te gee, lede fiks te hou, lede met geen kriminele rekords te werf…. need i go on?

Solly ·

VF ek respekteer julle opinie maar hoekom hoor ek niks van die ANC nie? Hoekom se hulle nie ook dit is nie aanvaarbaar nie? Nie een regeringsamptenaar of polisiekommissaris of president of iemand het die EFF se aksies tot nou toe afgekeur nie. Daar was GEEN objeksie teen die vandalisme by H&M winkels nie, geen objeksie teen die brand van huise en besighede in Coligny nie .. hoekom nou skielik is dit nie aanvaarbaar nie? Hierdie mense is geleer om te brand en te breek as hulle ongelukkig is met iets, van die parlementariers het self op hulle tyd gebrand en gebreek, julle het hierdie wetteloosheid daargestel, moenie nou kom huil nie. Jy kan nie nou ‘n kind se sweets wegvat waarmee jy hom vir 40 jaar beloon het nie.

Grassie ·

Die onluste wat hier genoem word wek gemengde gevoelens. Aan die een kant is dit onaanvaarbaar in ‘n beskaafde eerstewêreld samelewing. Aan die ander kant blyk dit dat die polisie versuim om op te tree teen uitlanders wat op groot skaal prostitusie en dwelmhandel bedryf. Ek het baie simpatie met die inwoners wat dan maar noodgedwonge self die gemors begin opruim.

Werner ·

Hierdie is die begin van groot geweld sodat noodtoestand afgekondig kan word die onluste is al die hele land vol

Alida ·

Cyril Ramaphosa het begin skoonmaak in Eskom hoekom kan hy dit nie doen by die SAPD en Department van Gesondheid nie. Hy het mos nou die kans en raak sommer van die element wat die oorsaak is van alles ontslae. Hy het per slot van rekening 700+ klagtes teen hom. Wat keer hulle wonder ek.

Jacques venter ·

Hallo Alida
Cyril het nie n towerstaf om alles woeps waps op te los nie. Hy het begin, al is hy nog nie eers die president van die land nie.

Gee kans. Hiers goeie dinge aan die kom

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.