Krugersdorp-moorde: Drie vra borgtog

Hanle Lategan. Foto: Facebook

Hanle Lategan. Foto: Facebook

Drie van die vier verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met die sogenaamde Krugersdorp-afspraakmoorde aan die Wesrand, het Donderdag om borgtog aansoek gedoen.

Kapt. Appel Ernst, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig die vier verdagtes het voor landdros Delize Smith in die Roodepoort-landdroshof verskyn.

Le Roux Steyn (20) en sy suster, Marcel (18), het saam met Christian Kruger (29) en Fabian Luff (32) in die hof verskyn. Hulle staan tereg op die moord op twee makelaars, Anthony Scholefield (67) en Kevin Mc Alpine (29) en Hanle Lategan (52), ʼn eiendomsagent.

Kruger en die Steyns se aansoeke is deur adv. Victor da Silva, die drie se regshulpraadprokureur, in die hof voorgelees en ingedien. Die staat staan die aansoeke teen.

Luff se regsverteenwoordig het aangedui hy wil nie om borgtog aansoek doen nie.

Volgens Ernst is die saak tot 13 Julie uitgestel, wanneer Smith na verwagting uitspraak oor die borgtog sal lewer.

Maroela Media het vroeër berig Lategan het op 30 Mei verdwyn nadat sy ʼn huis in Krugersdorp aan kliënte sou gaan wys. Skoolkinders het haar liggaam die volgende dag in die veld langs ʼn spruit buite Randfontein gevind.

Mc Alpine se liggaam is die aand van 27 Mei in die kattebak van sy motor gevind, op die hoek van Sivewright- en Francisstraat. Hy is kort voordat sy liggaam gevind is, as vermis aangegee nadat hy ʼn kliënt sou ontmoet, maar nooit teruggekeer het huis toe nie.

Scholefield se liggaam is op 10 Mei in die kattebak van sy motor in Premierstraat gevind. Schofield moes ook vroeër die dag ʼn kliënt ontmoet voordat hy verdwyn het.

Lees alle vorige berigte oor die Krugersdorp-moorde op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Leeukop ·

Hulle hoort aan die doodstraf galg te hang, beslis nie vry op borgtog nie.

Suzy ·

Wat gaan die mense nou van hierdie 3 moordenaars se ???…… Hulle het met opset moord gepleeg en dit nogal 3 mense vermoor . Gaan hulle nou geoordeel en sleg gese word soos wat almal met Oscar maak ???? Of gaan hulle parool kry ???… Laat waai lat ons hoor wat het almal oor die drie moordenaars te se .

Gerd Lourens ·

Sluit hulle saam met die veroordeelde moordenaar Pistkop toe, dan kan hulle vir mekaar vertel hoe dit is om weerlose mense so wreed te vermoor…

Bulkalf ·

Doen n persoon nog aansoek? Ek dog dat jou aansoek automaties goedkeuring geniet!!

Peet J ·

Borgtog ek hoop nie die regter sal dit eers oorweeg nie hou hulle agter slot en grendel handel die strafsake so gou as moontlik af en voorsien hulle met die nodige galg toue. Die Almagtige God sê : “Jou oog moet nie verskoon nie”

pieter ·

GEE HULLE BORG EN LAAT HULLE SOMMER OP DIE TV VERSKYN.IN RSA GAAN DIT NIE MEER OOR DIE VERMOORDE NIE MAAR GELD EN TYD WORD GEMORS OP DIE MOORDENAARS.

Irene ·

Dis hoekom hul so maklik moor daar is mos borgtog hierdie samelewing

m ·

Hierdie gemors verdien om in die tronk op te vrot. Sal laaik om te weet hoekom hulle dit gedoen het en het dit nou ma net oor geld gegaan want uit elkeen se rekening is geld getrek…

lynette ·

Dit is 4 moordenaars waarvan 3 borg vra, die 4de een vra nie daarvoor. Lees asb die berigte noukeurig voor dat julle begin kommentaar lewer.

Poplap ·

Die Kruger knaap se familie het alreeds die simpatie karretjie probeer holrug ry deur onderhoude toe te staan vir Huisgenoot. Dit gaan nou seker weer ‘n saak wees wat gekenmerk word deur af shame en foeitog stories wat hulle dade moet regverdig.

Vieslik ·

Geen genade vir daardie moordenaars nie, maak nie saak hoe soetsappig die oppervlakkig die huisgenoot probeer wees nie?

Poplap ·

Ja Vieslik geen genade en ‘n verhoor gebaseer op feite nie sensasie en snert nie. Trial by court not by tabloid

Buks ·

M ek dink dit is seker net vir dwelims. Ek het nog nooi geld so nodig gehad dat ek sou moor daarvoor nie. Ek is seker nie een van hulle het die geld gebruik om studie geld af tebetaal nie.

Geen toleransie ·

As hulle dit as verskoning gaan gebruik gaan dit net so on aanvaarbaar wees. Die gemeenskap moet zero toleransie ontwikkel vir misdaad en dwelms. Mense wat dwelms verhandel is doodsverspreiders en moet genadeloos gepenaliseer word. Ook die wat dit gebruik moet bitterswaer gestraf word. Ons is slap en daarom neem kriminele oor. Dis tyd om die samelewing reg te ruk.

Ai ·

Nee Suzi, hulle het nie geld en aansien nie. Hulle sal vinnig en hard gevonnis word, soos dit hoort. As jy moord pleeg moet jy verantwoordelikheid vat daarvoor. Hulle het nie geld om duur advokate te bekostig om ‘n storie te “spin” nie. Niks regverdig ooit om iemand se lewe te neem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.