Krugersdorp-moorde: Sy het glo foto’s van lyk op foon

Hanle Lategan. Foto: Facebook

Hanle Lategan. Foto: Facebook

Marcel Steyn (18), wat saam met haar broer en twee ander verdagtes aangekla word in verband met die sogenaamde Krugersdorp-afspraakmoorde, het glo foto’s van een van die slagoffers se lyk op haar foon gehad.

Dit is van die skokbesonderhede wat Woensdag in die Roodepoort-landdroshof aan die lig gekom het tydens drie van die vier verdagtes se borgtogaansoeke, berig eNuus.

Marcel, haar broer Le Roux en Christian Kruger (29), se borgtogaansoeke is deur landdros Delize Smith geweier. Die vierde verdagte, Fabian Luff (32), het aangedui hy gaan nie om borgtog aansoek doen nie. Die verdagtes moet weer op 13 Oktober in die hof verskyn.

Marcel het in ʼn verklaring, wat aan die hof voorgelees is, gesê sy oefen haar swygreg uit. Sy het beweer sy is in aanhouding deur polisiebeamptes aangerand en sy voel nie veilig nie. Sy het verlede jaar aan die Hoërskool Monument gematrikuleer met ses onderskeidings. Sy het tot haar inhegtenisname ekstra wiskundeklasse vir hoërskoolleerlinge aangebied.

Die polisie beweer foto’s van die eiendomsagent Hanle Lategan (52) se lyk is op Marcel se foon gevind. Lategan het op 30 Mei verdwyn nadat sy ʼn huis in Krugersdorp aan kliënte sou gaan wys. Skoolkinders het haar liggaam die volgende dag in die veld langs ʼn spruit buite Randfontein gevind.

Le Roux het in sy verklaring aangedui hy is werkloos en bly by sy suster. Volgens Le Roux kan hy borgtog van R1 000 bekostig en gaan hy skuld ontken op die aanklagte teen hom.

Kruger het in sy verklaring aangevoer hy het leerprobleme en het net gr. 8 voltooi. Volgens Kruger werk hy as ʼn bouer vir sy oupa en verdien R700 per week. Hy het ook gesê hy het geen vorige veroordelings nie en hy beplan om skuld te ontken.

Die verdagtes staan behalwe vir die moord op Lategan ook tereg vir die moord op twee makelaars, Anthony Scholefield (67) en Kevin Mc Alpine (29).

Volgens die polisie word die vier verdagtes ook met twee moorde in die Hartbeespoort-area verbind. Lees alle vorige berigte oor die Krugersdorp-moorde op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Piet ·

Sy mag dalk dink dat sy baie slim is (met haar 6 onderskeidings) omdat sy nou iewers gehoor het van ‘n swygreg. Sy moet net onthou dat ‘n onskuldige persoon nooit of bitter selde sy swygreg sal gebruik. Wanneer jy toelaat dat die staat sy saak teen jou bewys, kan jy nie later besluit (wanneer jy agterkom hoe sterk hulle saak dalk is) nou wil jy nie meer swyg nie. Ek hoop al die naasbestaandes kry geregtigheid en dat die skuldiges vir ewig agter tralies sal wees.

Magda ·

Ek kry rillings tot in my siel as ek van sulke verskriklike onmenslike dade lees. Wat het geword van ons jongmense se integriteit?

Kiepie ·

Dit staaf maar net weer wat ek sê, kriminele het nie velkleur, ras of stand nie, hulle is wat hulle is. Ek hoop hulle kry die swaarste straf indien hulle skuldig bewys word.

Theresa ·

Mense sal benoud raak om afsprake na te kom. Almal besigheidsmense wat net hul plig doen? Almal wat baie intelligent is, is nie engeltjies nie. Soms dink ek eerder ‘n baie dom mens sal minder sulke goed uitdink, beplan en suksesvol uitvoer.

Sommerso ·

Die boetie en sussie het vreeslike aaklige facebook profiele. Skaars vriende, dis donker en nee ek is self jonk maar iets is nie pluis met daardie boetie en sussie nie.
Jy kan ook hoe slim wees maar dit maak jou nie onskuldig nie, Sy is intellegent sy weet presies wat is reg en verkeerd.

Sam ·

Haar facebook profiel moes al maande terug vir iemand gewys het sy het hulp nodig. Indien haar ‘vriende’ dink sulke soort fotos is normaal op jou facebook ‘wall’ en dan nog kommentaar lewer dis sulke mooi oe, dis die oomblik wat haar ‘vriende’ ook hulp nodig het. Ouers moet meer loer wat wel op hulle kinders se profiele wys, nie nodig om te ‘spy’ nie maar as jy loer, sien jy dalk net iets wat verkeerd geloop het in jou kind se lewe.

Rusty Angel ·

CHILLS !!! Sjoe! Sterkte aan almal en die ARME ouers!

Alki ·

Daar is ‘n artikel in die jongste uitgawe va Huisgenoot oor hierdie geval, dit is ‘n onderhoud wat met hierdie twee se ma gevoer is, dit verduidelik nogal baie.

Alki ·

Daar is ‘n artikel in die jongste Huisgenoot oor ‘n onderhoud wat met die ma van hierdie twee gevoer is, dit verduidelik nogal baie veral oor die ma

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.